|
|
|
Een se dood is ’n ander se brood ... dis ’n bekende spreekwoord. Een persoon se swaarkry kan dalk tot die ander een se voordeel wees. Mens kan hierdie stelling op twee maniere bekyk: dit kan negatief klink, bv. solank mense doodgaan het die begrafnisondernemer werk; of dit kan positief klink: die begrafnisondernemer is daar om ’n diens te lewer wanneer iemand tot sterwe kom. Ons staan nou in Paastyd en dink terug aan Jesus se sterwe sodat elkeen van ons kan lewe. Jesus se dood is as’t ware my en jou brood. Hy het iets prysgegee sodat ek en jy iets kan ontvang. WAT Hy gegee het, is duidelik en wat ons ontvang het, weet ons, Maar, daar is so ’n paar interessante dinge waarna ons vandag kan kyk.... Na die vermeerdering van die brood, kom van die mense die volgende dag na Jesus soek: Joh. 6:25:40 Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan." Nogal treffend. Net die vorige dag vermeerder Hy die brood en voed duisende met 5 brode en 2 vissies en steeds vra die mense vir nóg ’n wonderwerk. Ek dink nie hulle was moedswillig nie, ek dink hulle was eerder só oorweldig en só soekend, dat hulle bevestiging wou hê van wie en wat Hy was. Die mense onthou die gebeure wat in die woestyn plaasgevind het en praat van die manna uit die hemel. Vir hulle was die brood uit die hemel ’n teken van redding, fisiese redding. Daardie brood was hulle voedsel, maar dit was net tydelik van aard. Nou herinner Jesus hulle dat dit nie van Moses afgekom het nie, maar van God af. Dan trek Jesus vir hulle hierdie treffende vergelyking as Hy sê: "Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee”. Dieselfde aksie. In die woestyn gee God brood en later gee Hy sy Seun wat Homself die “brood wat lewe gee” noem. Hier is egter ’n verskil. In die woestyn val die manna op die grond en die mense skep dit net op. Maar, toe Jesus kom, sê hy (vers 35) “Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie” Brood was stapelvoedsel en saam met enige ete geëet. Brood het deur die hele Bybel altyd ’n spesiale betekenis en nou maak Jesus hierdie vergelyking tussen Homself en brood. Brood wat lewe gee – ewige lewe ... nooit weer honger nie! Joh. 6:39 En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. Dit is primêr God se wil – dat elke mens wat van hierdie brood wat lewe gee, sal eet. En weet jy wat? Net soos wat die 5 broodjies nie opgeraak het nie, raak hierdie “brood wat lewe gee” nie op nie! Jy kan aanhou “brood breek”, aanhou eet en aanhou uitdeel. Die kern van Jesus se koms na die aarde toe, is toe die brood gebreek is. Dit was toe Jesus sterf. As Pilatus vir Jesus begenadig het, was die brood, net soos in die woestyn, sonder ewigheidswaarde. Die brood moes “breek” om die volheid van Sy voedingswaarde te bereik. Joh. 6:54-58 Wow, diep woorde, of hoe? Jy weet mos as ons Nagmaal vier, dan breek ons die brood as simbool van Jesus wat gesterf het. Luk 22:19 “Dit is My liggaam wat vir julle gegee word”. As die brood nie gebreek het nie, het dit vir ons geen waarde gehad nie. Besef jy die grootsheid van hierdie hele aksie? Sien jy die vergelyking met die gebeure in die woestyn? Die Israeliete tel manna op en eet dit. Hulle moes dit vat, dit eet en glo. Hoekom glo? Want hulle mag net elke dag een dag se voorraad optel. Hulle moes glo dat daar die volgende dag weer sou wees. Nou kom Jesus en Hy sê: As julle glo sal julle lewe. As jy glo sal jy die brood aanvaar. Jesus is die brood vir ons. In hierdie Paastyd dink ons nou terug aan die feit dat Sy liggaam gebreek is vir my en vir jou. Hier is ’n paar belangrike punte wat ons moet glo: 1) Jesus was God. Joh. 1:18 “Sy enigste Seun, self God...” As Hy nie God was nie, was Hy mens. En ons weet tog een mens kan nie vir ’n ander verlossing bring nie. 2) Hy moes uit ’n maagd gebore word, anders was Hy mens. Dit was die metode wat God gekies het om Hom in die wêreld te laat kom. 3) Hy moes sterf. Hy kon eenvoudig nie begenadig word nie, anders was die brood nooit gebreek nie en was die ewige dood ons voorland... so wreed as wat dit ook mag wees. 4) Hy moes opstaan – sodat die Brood voedingswaarde kon hê. Anders kon Hy nie vir Satan die finale kishou gee nie. 5) Hy moes opvaar hemel toe, sodat Hy kan heers en ons saam met Hom. Op 2:17 Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee... en Op 3:21 Elkeen wat die oorwinning behaal sal Ek saam met My op my troon laat sit... Goddank! Jesus se dood is ons brood! |