|
|
||||||||
|
Ek is seker jy het al baie preke, boodskappe, oordenkings, dagstukke en Geestelike gedagtes gehoor, van baie mense. In jou kerk, op die radio, TV, straathoeke, orals. Preke is volop. Ek glo jy onthou baie daarvan, al is dit net frases daarvan. Sommige was lank, ander was blitsig, party was eenvoudig en ander was so kompleks dat jy geen idee gehad het waaroor dit gaan nie. Ons was baie jare gelede in 'n gemeente waar die dominee in metafore (beeldspraak) gepreek het. Dit was baie indrukwekkend, met GROOT woorde en vergelykings, net jammer ons het nooit 'n idee gehad waaroor hy gepreek het nie, want g'n mens het die woorde verstaan nie, want ons het dit nog nooit gehoor nie. Later jare het ons 'n baie kort dominee gehad (fisies), en sy preke het by sy lengte gepas, maar dit het oemf gehad! Maar... soms is 'n enkele sin genoeg om reuse impak te hê, want die Here stuur mense om met een enkele sin jou wêreld om te dop en Sy doel te bereik. Wil jy ook graag preek? Of 'n besondere boodskap van God oordra? Jy kan, as jy wil! Weet jy hoe maklik is dit? Dis baie eenvoudig, sê net vir iemand die dinge wat jy self glo, en die Here sal die vrug op daardie boodskap bring. Wat is daardie een-sin preek wat jy moet preek? Wie is daar in jou vriende – of werkskring wat jou een-sin preek moet hoor? Dit sal 'n baie kragtige uitwerking hê, en dit kan net sowel vermaning as bemoediging wees. Solank dit net nie veroordeling is nie. Daar is mense wat jou boodskap SO dringend moet hoor. Miskien weet jy dit al lankal, en miskien is dit nou nodig om dit te gaan preek. Gaan vertel wat jy moet vertel, gaan preek jou een-sin preek. Voor jy spyt is en dit te laat is. Kom ek vertel vir jou van 'n ou wat met een sin 'n hele stad gered het. Of liewer, hy het sy een sin gepreek, en toe red God die stad.
Jona 1:1-3
Jona 1:9-10
Jona 3:4 Jona 3:5-10 Die resultaatDie mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het 'n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek. Die berig het ook by die koning van Nineve uitgekom. Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op 'n ashoop gaan sit. Hy het in Nineve laat proklameer: “Die koning en sy raadgewers beveel dat mens en dier, grootvee en kleinvee, aan niks mag proe nie, dat hulle niks mag eet en nie water mag drink nie. Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het. Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.” Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie. Miskien het Jona in die tempels gepreek, dalk op straathoeke, of dalk het hy net geloop en sy preek uitgeroep. Ek dink hy het dit net uitgeroep: “Nog net 40 dae en Nineve word verwoes” Bekeer julle, draai terug, want God gaan hierdie plek verwoes soos Sodom en Gomorra, nog net 40 dae en Nineve word verwoes! 'n Kragtige preek, waarop die hele stad reageer en terugdraai na God toe. 'n Kragtige een-sin preek! Soos daardie een wat jy moet gaan preek. Soos ek deur die boek Jona lees. Kom daar egter 'n klomp dinge op wat ek net eenvoudig nie verstaan nie.
Jy sien, die Here se weë is nie ons weë nie, en ons weë is nie Sy weë nie. Ek verstaan nie eers hoekom Hy Nineve wou verwoes nie. Hoekom dan nie vir Pretoria ook nie? Weet jy, ons hou ons so slim, ons probeer so graag die Here se metodes en denkwyses verklaar en ons verduidelik dit asof ons kenners is, ons het reseppies en formuletjies wat ons kundig voorhou. Maar ek sê jou, ons weet niks! Ons kan die Here nie in 'n boksie in verduidelik nie. Ek weet min, maar ek weet die Here werk as ons gehoorsaam is. En ek en jy moet maar luister, want 'n vis se maag is 'n goor, slymerige plek vol viskoppe en bierblikke. Die Here kan en wil jou gebruik, al is dit in een enkele sin. En selfs vlug het nie vir Jona gewerk nie, want die Here het 'n “duikboot” gestuur om die ou uit sy miserabele omstandighede te red, en hom steeds Nineve toe gestuur. Maar... Nou gaan preek jy jou een-sin preek, dan gebeur daar 'n vreemde ding. Jy doen wat Hy jou vra om te doen, en dan wil ons die uitkoms dikteer. Want ons het mos nou gepreek! Here, ek het my kant gebring, maak U nou sus en so! Anders word ek kwaad, soos Jona.
Jona 4:1-3 Hoekom was hy kwaad? Omdat hy liewer op die heuwel wou sit en die vuurwerke sien soos die Here die stad verwoes? Of omdat hy dink die Here het sy tyd gemors omdat Hy Homself in elk geval sou ontferm oor die mense. “U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het...” So ietsie van: Hoekom moes ek amper verdrink, my lewe verloor, in 'n vis se vieslike pens bly, myself verneder en blootstel en preek terwyl “ek nie die gawe het nie”, net sodat U uself in elk geval ontferm. “What a waste...” Soms weet ons nie wat om te sê vir mense nie. Wel, die Here het nie vir Jona gevra om sy eie woorde uit te dink nie. Jona 3:2 “...spreek hom aan met die woorde wat Ek jou sal gee”. Ja, die Here sal ook vir jou die nodige woorde gee.
1 Pet 3:15 Dis dalk al wat jy moet sê. Net iets oor die hoop wat in jou is. Dalk is daar 'n paar ander een-sin preke wat die Here oor jou lippe wil laat rol:
Dalk 'n woord van vermaning:
Daar is 'n gemeente daarbuite vir elkeen van ons, dit hang net af of ons gehoorsaam wil wees of nie. Jou een-sin preek kan iemand se lewe red, of radikaal verander. Of jy dit glo of nie... |