|
|
|
Matt 13:18-23 Die welbekende
gelykenis van die saaier: die saad val op die pad, tussen die onkruid, op
die klipbanke en dan uiteindelik in goeie grond – daar ontkiem die saad,
begin groei en dra uiteindelik goeie vrug … dertig maal, sestig maal en
honderdvoudig. Kom ons kyk bietjie na saad, voordat ons kyk na vrugdra. Saad is `n
ongelooflike ding! Druk hom in die grond, en hy groei. Of dit nou goeie
saad of onkruid is. Onkruid groei natuurlik net makliker en vinniger. Die
grond het hierdie bonatuurlike eienskap om saad se buitenste doppie af te
breek, sodat dit ontkiem en begin groei. Vat `n handvol grond, en jy sal
nooit sê dat daardie klomp sandkorrels hierdie vermoë het nie. Watter
wonderlike kwaliteite lê in daardie handvol grond opgesluit? Selfs in woestynsand – as daar net `n bietjie vog is, groei daar iets. Nou, kom ons dink
`n bietjie: waarvan is ek en jy gemaak? Wat sê Gen 2:7? “Toe het die
Here God uit die stof van die aarde die mens gemaak …”. Dit is
heeltemal korrek bewys deur die wetenskap. Stof tot stof. Dus is ek en jy
`n stuk aarde (grond). Die aarde “leen” as’t ware vir ons die atome,
molekules en selle. Ons het dit vir miskien so 80 jaar , en dan wil die
aarde dit weer “terughê”. In daardie 80 jaar sal hierdie stuk
“wandelende aarde” ook enige saad groei wat daarin geplant word. Goeie
EN slegte saad. Maar … miskien sal die slegte saad makliker groei! Ons word gevorm
deur die saad wat ons in ons lewens toelaat, en so mettertyd, word ons
bome (wat hopelik by die lewende waters geplant is!), wat uiteindelik vrug
dra … dertig, sestig of hondervoudig. En soms is dit net slegte vrugte,
of dalk selfs glad nie vrugte nie. Dit hang af van hoe goed jou grond is,
maar ook hoe, en deur wie dit gevoed word. Nogal interessant dat die Here
vir hierdie stuk wandelende aarde die keuse gee hoeveel, en of hy vrug
dra. Wat se saad is in
jou lewe? Onthou dat `n doringboom se saad nie appels kan oplewer nie. Dis
`n natuurwet wat deur niemand verander kan word nie. Die gelykenis van
die saaier sê dat die saaier saai. Hy sien tog seker waar die saad val,
of hoe? Hy kan mos sien as van die saad op die klipbanke val, of op die
pad? Maar … hy saai nogtans. Hoe lyk ons lewensgrond waarin die saad kan val? Is dit
miskien `n klip-hart, waar die saad nie kan ontkiem en groei nie, waar die
boom geen vrugte kan dra nie? Laat ons dalk `n klomp onkruid in ons harte
toe, sál dit uiteindelik die goeie saad verdring. Val dit op die harde
pad in ons lewens, pik die voëls dit op. Iemand kom saai die saad in ons
lewens, en ander kom vee dit weg … doemprofete, vals leraars, verkeerde
invloede – voëls pik dit op. Maar, is ons lewens voorbereide, goeie,
sagte grond, sal die saad groei en die lieflikste, sterkste bome word wat
vrug dra. Goeie saad in goeie grond, bring goeie vrug. Paulus sê in 1
Kor 3:6: “Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat
laat groei het”. Die een verkondig die Evangelie, `n ander een versorg
die klein plantjie, maar dis net God wat die groei teweegbring. Dan kom
daar eintlik vir ons `n opdrag: dra hondervoudig vrug! Ons het goeie saad
gekry, God het dit laat groei … kom daar enige vrug van? Wat
beteken dit om goeie vrug te dra? Om dit wat jy ontvang het terug
te gee in God se Koninkryk. Kan jy sien dat `n goei vrug weer goeie saad
bevat? Kan jy sien dat goeie vrugte voedend en heilsaam is vir ander?
Besef jy dat die boom absoluut niks met sy eie vrugte kan doen nie? Kan jy
sien dat die boom nie kan teer op sy eie vrugte nie? Verstaan jy dat
vrugte wat nie tot ander se voordeel gebruik word nie, sy voedingswaarde
verloor as dit op die grond val en opvrot? En nog meer … as God nie die
voedingswerk doen nie, word die vrugte vals vrugte. Dis soos iemand wat
honger in die veld stap en in die verte `n wonderlike lemoenboom sien.
Soos hy nader kom sien hy hoe die lemoene helder oranje aan die boom hang
– groot en sappig op die oog af. Hy begin al die soet in sy mond proe,
kan nie wag om te eet nie. Met `n dringende drafstappie kom hy uiteindelik
by die boom, steek sy hand uit en pluk. Dan, met `n skok voel hy hoe lig
die lemoen is ... dis heeltemal leeg. Dan besef hy dit is net een van
daardie plastieklemoene wat Ouma altyd in `n bak op die eetkamertafel
gehad het. Nutteloos, leeg, vals. Dra ons nie dalk sulke vrugte nie? Gal 5:22-23 Die
vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld,
vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
Teen sulke dinge het die wet niks nie. Hier is nege
elemente wat Paulus noem van vrugdra, en dit is almal sigbaar, en almal op
ons medemens gerig. Niks van hierdie vrugte is vir die boom self bedoel
nie. Almal is tot voordeel van ander. As ons hierdie vrug dra, is ons
besig om aan te gee na ander. Dan is ons besig om saad te plant in ander
se lewens, lewens waar die Here reeds die grond voorberei het. Ander mense
wat ook vatbaar is vir onkruid, maar smag na goeie saad. Ander mense wat
dan deur God aangeraak word, sodat dié saad kan groei en vrug kan
voortbring – honderd maal, sestig maal of dertig maal.
As ek en jy dit NIE doen nie, sal daardie stukkie wandelende grond
waarskynlik onkruid dra … met verskriklike gevolge vir sy of haar
familie, kollegas, vriendekring, kinders, ens. Hoe weet mense
watse vrug ons dra? Meestal deur ons te hoor, ons aksies en dade te sien,
en ons gedrag in die algemeen te sien. Gal 5:25: “Ons lewe deur die
Gees, laat die Gees ook nou ons gedrag bepaal”. Die vrug van ons lewe kan:
God het goeie saad in jou geplant, my vriend. God laat dit groei. Mag jy goeie vrug dra – eenhonderd maal. |