|
|
|
Die stem hier in my kop die stem hier in my siel die stem wat tog so knaend my menswees kom verniel
Die stem is so venynig ek kan dit nie meer tem dis uit om my te pynig dis soos n vlymskerp lem
Daar's niemand om te luister daar's niemand om te deel die stem wat hier kom fluister dit is net en te veel
Waar sal my hulp vandaan kom hoe kan ek dan betoog daar's niemand wat hier saamdrom dis net 'n monoloog
Ek kan die stem nie stilmaak ek kan dit glad nie tem die stem wat my so gek maak is net my eie stem
('n lawwe gedig deur Willem Botha) Hierdie drie bostaande dinge ding het iets in gemeen – eensaamheid, alleenheid, net “me and myself”, die hel van afsondering. Dit moet erg wees, ek ken dit nie. Dalk iets soos die dag toe Jesus alleen aan die kruis gehang het, toe selfs Sy Vader hom verlaat het. Stoksiel alleen. Ek dink dis nogal erg. Soms raas dit vreeslik in my huis, daar is altyd musiek aan die gang, gewoonlik deur die kinders gemaak. Dogter speel gereeld op die klavier, seun op sy kitaar, soms oefen die orkes en andersins blęr 'n radio. Ek en vroulief kla nooit daaroor nie, want daar is LEWE in die huis. Want hier is nog asems in die huis, iets wat baie mense nie ken nie. As ek wakker word is vroulief langs my en ek kry gewoonlik koffie in die bed. In ons huis is daar stemme, klanke, gesprekke en argumente (aangenames), raad vra, raad gee, menings uitruil, 'n totale interaktiewe lewe. Lekker!!! Maar... dis nie vir almal nie. Daar is mense vir wie die lewe hel is, wie se eie menings die enigstes is wat hulle hoor. Vir wie huis toe gaan dieselfde is as om in die Donker gat in die Kasteel gegooi te word. Eensame aanhouding is seker een van die slegste vorme van straf wat daar is, net jy en die vier mure. Ek glo eensaamheid gaan dikwels gepaard met depressie. Die mens het nou maar eenmaal die mens nodig, ons is so geskape. Pred 4:9-12Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. 'n Driedubbele tou breek nie maklik nie. Twee vaar beter as een. Twee slaap warmer as een, 'n driedubbele tou breek nie maklik nie. Mens kan nie met jouself lepel le nie. Dis nie baie slim om heeldag met jouself te praat nie, mense sal dink jy is koekoes. Jy kan nie met jouself argumenteer nie, 'n een-man vergadering het altyd 'n kworum, jy kan nie eers veto-reg uitoefen nie. Dink bietjie aan die woord “eensaam”, klink eintlik snaaks. EEN SAAM. Een saam met wie? Een wat saam is, saam wie? Saam verwys immers na meervoud, of hoe? Selfs net die woord “eensaam” is eintlik belaglik. Ek gun niemand eensaamheid nie. Eensaamheid is dikwels 'n teelaarde vir verkeerde besluite. Ek het al gesien hoe mense weens eensaamheid so desperaat raak vir geselskap, dat hulle in die vrotste huwelike denkbaar beland, alles net ter wille van geselskap. Miskien is dit sleg om alleen te wees, maar dit kan BAIE slegter wees om met die verkeerde persoon jou eensaamheid te verbreek. Nog 'n probleem met eensaamheid is dat mense so teruggetrek raak in hulleself, dat hulle net nie meer in ander se geselskap wil wees nie. Dan gaan mens EERS in 'n “downward spiral”. Voorts voel baie enkellopendes dat hulle nie meer die vrymoedigheid het om in ander paartjies se geselskap wil kom nie, en dis heeltemal onnodig. Nee man, neem die vrymoedigheid om in ander se geselskap te kom, maak moeite om te meng met mense wat jou kan oplig en neem deel aan aksies en aktiwiteite wat weer sin aan die lewe gee. En nee, dis verseker nie opdringerig om met ander te meng wat nie in dieselfde bootjie is nie. Dis verkeerd om te dink dat aksies vir enkellopendes “dating clubs” is. Inteendeel, dis 'n gemaklike manier om weer opgeneem te word tussen ander mense. As jy vriende het wat alleen is, maak tog 'n punt daarvan om moeite te doen om uit te reik na hulle. In Prediker gee die Here hoeka vir ons 'n opdrag as Hy se twee vaar beter as een. Twee slaap warmer as een, twee kan mekaar ophelp. By aftree-oorde sien mens nogal hoe mense weer begin LEEF as hulle tussen ander van dieselfde portuur kom. Daar doen hulle dinge saam, neem deel aan aktiwiteite en kuier sommer net 'n hond uit 'n bos uit. Daar kom sekerlik 'n tyd waar omstandighede mens in 'n alleenlewe indwing, die vraag is net of jy gaan toelaat dat allenwees in die hel van eensaamheid ontaard. Hoe langer mens toelaat dat die swart wolk van eensaamheid soos 'n kombers om jou toevou, hoe moeiliker gaan jy weer daar uitkom.. Wel, ons is in
elk geval verseker nie alleen nie. |