|
EK
IS TOT ALLES IN STAAT
Weet jy waartoe jy in staat is?
Besef jy wat die Here in jou ingebou het? Weet jy wat jy alles kan vermag?
Weet jy hoeveel kennis, ondervinding en inligting jy het? Besef jy wat se
stuk wonderwerk voor jou staan as jy in die spieël kyk? Weet jy wat dit
beteken om na die beeld van God geskape te wees? My vriend, jy is baie
meer as wat jy dink… JY is 'n lopende wonderwerk.
Gen 1:26-27
Toe het God gesê: "Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger,
ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die
lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde
kruip." God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van
God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.
Jy is God se verteenwoordiger. Dis
soos 'n ambassadeur. 'n Ambassadeur is in 'n land in die plek van 'n hele
nasie wat hy verteenwoordig. Só het God jou en my gemaak en aangestel as
Sy verteenwoordiger.
Ek dink dis tyd dat ek en jy ons
status opneem hier op aarde. Ek dink ons moet begin besef wat ons doel op
aarde is, ons verantwoordelikheid , en ons moet besef wat die krag is wat
God in ons ingebou het. Ons kan staande bly - ons kan die ken oplig, rug
reguit maak, hakke inkap en sê: "Ek is die kind van 'n Koning"
Fil 4:10-20
Ek was baie bly in die Here dat julle na so 'n lang tyd weer gewys het
dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle
het net nie die kans gehad om iets te doen nie.
Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle
omstandighede te behelp.
Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek
ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om
oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.
Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.
Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike omstandighede by te
staan.
Julle in Filippi weet ook dat in die begin van my evangelieprediking, na
my vertrek uit Masedonië, geen enkele gemeente behalwe julle 'n aandeel
gehad het aan my rekening van inkomste en uitgawe nie.
Ook toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een maal iets vir my
behoeftes gestuur.
Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan:
daardeur word julle self ryker.
Maar ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg. Noudat ek van
Epafroditos ontvang het wat julle gestuur het, het ek alles wat ek nodig
het. Julle gawe is voor God 'n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik
en welgevallig.
En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy
wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.
Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.
Paulus is hier aan die woord, met
'n baie bekende frase: "Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag
gee". Glo jy dit?
Kom ons sê ek laat my kind vir 10
jaar bokslesse neem, hy word 'n kampioen, en een dag kom hy huilend by die
huis en sê so 'n maer, tengerige seuntjie het hom geboelie en omgestamp.
Wat sal jy sê? "Nee man, staan jou man"
Of, jy koop 'n opregte
bullterriër, en jy lei hom op om vreeslik aggressief te wees. Dan kom
daar een nag 'n inbreker en jaag jou woeste waghond met een skree in sy
hok in. Dan was die hond se naam nog iets soos Hitler!! Dan sal jy dink,
maggies brak, is jy dan niks werd nie?
Nou vra ek jou: wat sien die Here
as Hy na ons kyk, en as Hy na ons luister? … daar waar ons so in 'n
bondeltjie staan en kla:
- oee, die krag is alweer af
- oee, kyk hoe stel hulle die verkeerde mense bo my aan
- oee, jy weet, hulle bestuur ons land in die grond in
Ek wonder wat die Here van ons dink, Hy wat sê: "jy is tot alles in
staat"?
Wie is jy - wenner of verloorder?
Vasverade of kragteloos? Positief of negatief? Fier en regop, of verlep en
nutteloos? Dink jy nie ons mors partykeer die krag wat God in ons ingebou
het nie?
Kom ons kyk bietjie wat God in die
natuur doen:
'n Vink bou 'n nessie in net so 3 dae, en dit net met sy pote en sy bek.
Niemand het hom opgelei nie, hy het geen kursus deurloop nie, nie 'n
vakleerlingskap gedoen nie. Hy bou 'n volmaakte nes, sonder 'n plan op
papier, met materiaal wat die Here vir hom voorsien het. Matt 6:26 - Kyk
na die wilde voëls: Hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in
skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie
meer werd as hulle nie? Glo dit! Ek verstaan nie voëltjie -taal nie,
maar ek glo nie die gekwetter van voëltjies is kla of skinder nie. Dit
klink vir my meer soos lofprysing.
Waarmee hou ons onsself besig in
moeilike tye? … mors ons dalk ons energie?
Kom ons dink bietjie hieroor: hoe
sleg gaan dit regtig vandag met jou? Het jy vandag geëet? Het jy laasnag
'n dak oor jou kop gehad? Is jy nou oppad werk toe (m.a.w het jy 'n werk)?
Is jy gesond? Is daar liefde in jou huis? "Werk" jou arms en jou
bene? .. en jou brein? Wel, indien jy "ja" kon sê op 'n paar
van hierdie vrae, gaan dit heel goed met jou! Dan KAN jy sê "Ek is
tot alles in staat deur Hom wat my krag gee". Miskien moet ons
bietjie hieraan dink: Sê nou ons kla so baie dat God hierdie krag wat Hy
ons gee, wegvat. Wat dan?
Hier is so 'n paar punte om aan te
dink:
1) Kla vermors energie. Kla is negatief, dit maak van ons verloorders.
2) Suid-Afrika is toe NIE die slegste plek op aarde nie.
3) Swaar tye bring geleenthede - sien dit raak!
4) Jy is tot meer in staat as wat jy dink
5) Die Kragbron, Jesus Christus, is 'n onuitputlike bron … daardie krag
gaan nooit af nie.
6) Jy kan baie meer verwerk en hanteer as wat jy dink.
7) Die Here het planne vir jou te midde van jou omstandighede.
8) Jy is 'n wenner, as jy een wil wees! Om 'n verloorder te wees hoef ons
net niks te doen nie - dis sommer outomaties. Om 'n wenner te wees is 'n
keuse, as jy kan vashou aan God se belofte: "ek is tot alles in staat
deur Hom wat my krag gee"
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|