|
|
|
God. ‘n Baie bekende woord, ‘n baie bekende naam, ‘n baie bekende Persoon. Die mees bekende Persoon op aarde, en in die hemele. Mense roep Hom aan, mense het verskillende opinies oor Hom, mense verbind aan Hom uit verskillende verwysingshoeke, ons probeer Hom peil en plot. Sy naam word soms as ‘n skelwoord gebruik, sommiges betwyfel Sy bestaan, ander word kwaad vir Hom. party soek hulle lewe lank na Hom, en kry Hom nooit. Ander beweer Hy het Hom aan hulle openbaar, hulle kry drome waarin Hy met hulle praat .... maar ek nooit. Waar kom Hy vandaan? Hoe lyk sy woonplek? Job 23:1-17 Dis Job se woorde; en so voel ek ook. Ek sit elke week hier in Rippel se ateljee en praat oor Hom en bedien mense op verskeie plekke; ek was jare lank betrokke met evangelisasiewerk, waar ek die evangelie met baie mense gedeel het; daar is vrug op ons werk .... maar as jy my vandag vra om Hom te verduidelik, Sy weë uit te pluis, Hom op ‘n manier in ‘n boks te plaas sodat Hy en wat Hy doen kan sinmaak, dan kan ek nie. Want ek verstaan Hom nie. Ek verstaan tonne dinge wat Hy doen en toelaat net eenvoudig glad nie. Soos Job sê: “Ek probeer verstaan, maar ek bly Hom vrees”. Maar nogtans kan ek onomwonde sê: ek is werklik lief vir Hom. Hoe baie probeer ons nie om in ons eie menslikheid formules aan Hom toe te ken en Hom te probeer verduidelik nie. E=mc2 is Einstein se formule. Dit verduidelik die son wat skyn, en hoe ‘n atoombom groot verwoesting laat plaasvind. ‘n Klein bietjie massa word vernietig en onbeskryflik baie energie word vrygestel. Ek verstaan die formule ... soort van. Maar watter formule beskryf die Here? God = , God is gelyk aan wat?
Eks 3:13-14 “Ek is..”. Ek is wie? Ek is wat? Dié beskrywing beskryf nie in verstaanbare taal wie Hy regtig is nie. Verstaan jy Sy werke? Ek bely vandag dat ek nie verstaan nie. Jy sien, dit is hierdie ding van “on-verstaan”, wat maak dat ongelowiges vir Christene uitlag. Want, ek moet self sê ek verstaan nie hoekom ek glo nie. Heb 11:1 ... dit maak net eenvoudig nie sin nie. Ek verstaan nie hoekom ek onwrikbaar glo in die maagdelike geboorte, die kruisiging en opstanding en hemelvaart van Jesus nie. Ek verstaan nie, maar ek GLO dit! Hoe maak dit sin....? Hoekom leef ons so goed in Suid-Afrika, in hierdie lieflike sonskynland? Maar ‘n paar duisend kilometer Noord gaan kinders dood van die honger. Hy is tog sekerlik net so lief vir daardie mense as vir ons, of hoe? Hoekom raak ‘n wonderlike, wedergebore egpaar se kind verslaaf aan dwelms, maar my kinders nie? Hoekom bid ons intensief, in volle afhanklikheid van God, vir ‘n kind met kanker en dan gaan daardie kind dood? Intussen sit ‘n boemelaar, so vuil dat jy nie met ‘n tang aan hom kan vat nie, op die sypaadjie en bedel; dalk voel hy niks eers vir die Here nie. Al sy organe werk perfek - dit kan tog seker eerder vir iemand anders, ‘n goeie mens, aangewend word? Hoekom word mense gestremd gebore? God wat die mensdom dan so volmaak geskep het. Maak Hy dan so nou en dan ‘n ou foutjie? Maar... om een of ander onverklaarbare rede, hou hierdie siekes, en gestremdes, en getraumatiseerdes, hierdie mense wat soms so gebroke is, onwrikbaar vas aan hulle geloof in God. So asof hulle hierdie “magic” formule ken, wat ek nog nie ontdek het nie. Hoekom draai hulle nie hulle rug op Hom nie? Nee, hulle vlug juis na Hom toe! En kry ongekende vertroosting. Ek verstaan nie...? Uiteindelik kom ek toe tot hierdie besef; en ek stel dit in ‘n vraag: sê nou maar ek hét Hom verstaan, en ek hét Sy formule geken, sou Hy dan nog steeds ‘n God vir my gewees het? Sou Hy nog majestieus en soewerein gewees het? Belangrikste van alles: sou ek nog geloof nodig gehad het? Kom ek sê nou reguit hoe ek voel: Ek kies honderd persent om nie te verstaan nie, maar om te glo. Nie andersom nie. So weet ek dat die Heilige Gees in my woon. So verstaan ek dat Jesus se kruisdood my heil is, en dan kan ek glo in ‘n ewige lewe saam met Hom. As ek hom verstaan het, sou ek deurgaans kon eis vir verduidelikings; Hy sou altyd moes “please explain” vir dinge wat Hy toelaat. Hy skuld my niks, maar tog oorlaai Hy my met genade. Ek verdien niks, en tog leef ek in oorvloed. Wil Hy nie dalk hê dat ek net so bietjie moet deel van hierdie oorvloed nie? Goddank, Hy vat nie alles weg waaroor ek soms so kla nie. Sê nou maar net ek het vandag nét dit gehad waarvoor ek gister dankie gesê het? Sê nou net Hy vat jou kinders weg oor wie jy so kla? Of jou werk wat jy so swaarmoedig doen? Of jou wederhelf wat net nooit goed genoeg is nie? Of jou huis wat te klein geword het omdat jou goed so baie geword het? Of jou gesondheid wat jy dalk opmors? Maar dit lyk my Hy doen dit nie sommer nie.... en DIT verstaan ek regtig ook nie. Soms mors ek met Sy genade, maar Hy onttrek dit nie. .... daarom staan ek vreesbevange voor Hom, ek probeer verstaan, maar ek bly Hom vrees. |