|
|
|
EK SAL VIR JULLE RUS GEE Hoeveel mense het vandag regtig 'n vrolikheid, of 'n uitsien na hierdie dag, of hierdie tyd van die jaar? Dalk is jy vandag werkloos, of jou besigheid presteer nie, of dalk is daar huislike of huweliksprobleme. Kinders, finansies, werksdruk. Daar is baie dinge wat daagliks oor ons pad kom wat ons in 'n drukgang sit, en dis nie lekker nie. Baie dikwels lei hierdie dinge tot depressie wat maak dat ons net nie kans sien vir hierdie dag nie. Dis sleg om in 'n lewenssituasie te wees waar alles hooploos geword het. Ek hoor so dikwels mense sê "Ek is so bang". Bang vir vandag, bang vir die toekoms, en dan kom hierdie tyd dat mens voel asof jy in so 'n swart kombers toegedraai word. En weet jy, in sulke tye voel dit selfs of die Here se genade, of Sy teenwoordigheid, of wat Hy kan doen, maar 'n skrale troos is. O ja, en dan kom mense en sê vir jou: "Man, ruk jou reg, tel jou seëninge, klim uit hierdie swart gat uit jou lewe uit". Maklike woorde, maar as daai bang vir more oor jou gekom het, is dit baie moeilik. Matt 11 : 25 - 30 My juk is sag, en My las is lig. Kom na My toe, en ek sal vir julle rus gee. Jesus se uitnodiging. Weet jy, ek sien nie in hierdie gedeelte die gedagte dat ek met my kruiwa probleme na Jesus toe kom, dit voor Hom uitgooi, en dan weghuppel met geen sorge in die lewe nie. Dis nie so maklik nie. Ek dink dis eerstens om te besef dis die enigste plek waar ek hoegenaamd kan gaan met my laste. Tweedens om te besef dat Jesus daar is vir my en jou, en dan net styf teen Hom te gaan leuen, sodat Hy ons kan vashou. Ps 62 : 1 - 13 Net by U vind ek rus. En die Here sê, kom, almal wat vermoeid en belas is. Luk 10 : 38 - 42 Moet ons nie soos Maria net gaan en styf by Jesus se voete sit nie? Ek sien so in my geestesoog hoe Maria net teen Jesus se been leuen, en Hy liefdevol haar hare streel. Jesus sê vir Marta, Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie. Ons is soms so besig met kerklike aktiwiteite en geestelike dinge, maar hoeveel keer gebeur dit dat ons regtig hierdie intimiteit van Jesus ervaar? As die Here sê, "Ek sal vir julle rus gee", wat beteken hierdie rus? Ek dink nie dis dat al jou sorge eensklaps verdwyn nie, maar dat die Here sê, "raak net rustig. Kom sit hier by My, hier aan My voete. Vergeet vir 'n oomblik van die berg wat voor jou lê. Ons sal later daarby kom. Kom raak net stil. Ek wil vir jou so bietjie van My oorvloedige seën gee". Ek ken nie jou situasie nie, dalk lê daar 'n berg voor jou, of dalk is jy in 'n swart gat in jou lewe, of dalk druk die drukgang onmenslik hard. Dan dink ek wil die Here net vir jou vandag sê, "Kom, kom sit hier by my voete, ja, huil jou hart uit, ek droog al die trane af. Ek is steeds hier." Al is jou las hoe swaar, sê die Here, "Neem My las, en My juk, dis lig en sag. Dalk sê die Here "Kom ons ruil, ek neem joune, en jy neem myne." Maak tyd om net rustig by die Here te gaan stilraak, en geniet Sy seën.
|