|
|
|
Hoe verskil ons van mekaar? Dis nou ons as Christene. As ek een of ander uitlating sou maak oor sekere goed wat ek glo, hoe sou jy reageer? Indien ek nou ‘n stelling sou maak, met watter gesindheid sou jy van my verskil? Aggressief? Militaristies? Aanvallend? Oor-reageer? Of dalk met liefde, iets soos: ek respekteer jou mening, maar ek behou my eie mening. Weet jy hoe min wedergebore Christene kry dit reg? Wanneer dit by ware, egte, vaste geloofsoortuiging kom, kry min van ons dit reg om die ander se standpunt te aanvaar. Ek gaan ‘n paar kwel-situasies noem waaroor ons Christene nogal skerp kan verskil: 1) Grootdoop vs kleindoop 2) Ses dag skepping vs ‘n ou heelal 3) Die eindtye – sal daar ‘n wegraping wees of nie? 4) Is rockmusiek boos of nie? 5) Wat mag geëet word en wat nie? 6) Sabbatsonderhouding op ‘n Saterdag vs geloofsviering op ‘n Sondag? 7) Gebruik van sekere rituele al dan nie 8) Mag ek Kersfees vier of nie? 9) Beeldjies, of dalk ‘n kruis in jou huis – mag dit? 10) Werk en inkopies op ‘n Sondag 11) Onderhouding van Geloftedag of nie? 12) Watter vertaling van die Bybel moet / mag ek lees? 13) Mag vrouens op die kansel kom? Jip, oor hierdie goed en nog horde meer kan ons mekaar se hare lekker trek. Nou praat ek nie van verskille tussen gelowiges en ongelowiges nie, of van Christene en ander gelowe nie, ek praat van wedergebore Christene wat verskillende sieninge handhaaf.... lekker bekgevegte! As ek Romeine 14 lees lyk dit vir my of hierdie nie ‘n nuwe ding is nie – dit gaan al duisende jare so! Rom 14:1-6, 9-16 Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes. Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, want daar staan geskrywe: “So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.” Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee. Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot 'n val kan bring nie. Omdat ek die Here Jesus ken, weet ek en is ek daarvan oortuig dat niks vanself onrein is nie. Maar as iemand iets as onrein beskou – vir hom is dit dan onrein. As jy met wat jy eet, jou broer aanstoot gee, leef jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie. Moenie dat die goeie wat julle het, 'n slegte naam kry nie. Paulus raak in Galasiërs 5 sommer erg omgekrap oor die besnydenis, want dit lyk my mense het soveel daarvan gemaak dat hulle in mekaar se saligheid begin twyfel het. En dis presies hoe dit vandag ook gaan tussen Christene. Ons byt en verskeur mekaar oor goed wat hoegenaamd geen ewigheidswaarde het nie. Gal 5:1-6, 12 Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou. Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur. Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word. In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan. Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman! Wat Paulus eintlik sê is: as ons so hartstogtelik vashou aan sulke moets en moenies, mis ons dalk net vir Christus. Vers 6(b): Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan. In Rom 14:13 “Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie”. Hierdie is ‘n opdrag van God! Hulle sê mos ons boere weet wat ons wil hê. As ons van mekaar verskil, stig ons ‘n nuwe politieke party en ‘n nuwe kerk. Dit lyk my die Bybel is oor sommige sake nie baie duidelik nie. Miskien omdat dit vir die Here nie baie belangrik is nie. Paulus sê jy moet wat jy doen uit geloofsoortuiging doen. En dit is reg, handel en wandel soos jy doen, glo soos jy glo binne God se raamwerk van jou saligheid, maar moenie ander veroordeel wat anders as jy dink of doen nie. As ons dan so verknog aan sekere dinge vashou, moet ons dan seker maar aan álles vashou wat daarmee saamgaan. Kom ek vra ‘n moedswillige vraag: mag ‘n Christen ‘n tatoeëermerk dra? Wat sê jy? Dalk sal jy sê: nee, want dit Bybel sê nee. Nog ‘n moedswillige vraag: sny jy jou baard, dié hier op jou wange? Of is jy skoongeskeer, soos ek? Lev 19:28 Daar het jy dit nou! Wangbaarde en tatoeëermerke in een sin. Nee, ek is nie ‘n voorstaander van tatoeëermerke nie, maar sal geen mens daaroor veroordeel nie. Ek sal ook nie my kind se hand afkap as hy een op sy hand aanbring nie.... en ek gaan ook nie my wangbaarde groei nie. Dis dalk hierdie tipe goed waarna Paulus verwys as hy sê: as jy een wet wil onderhou moet jy elke wet onderhou. Hy verwys na wettiese en godsdienstige reëls. Vraag is, hoe voel jy oor mense wat van jou verskil? Ek het al gesien hoe mense mekaar aanvat, Christene! en dan is daar geen sprake van die vrug van die Heilige Gees nie. Hoe sal ons dan ons verskille hanteer? Anders as wat ons dit met politiek doen. Weet jy, ek sien BAIE meer verdraagsaamheid onder mense wat verskillende rugbyspanne ondersteun as mense wat verskillend glo en tog veronderstel is om in dieselfde geestelike span te speel. Hulle sê mos: Die Christene is die enigste weermag wat sy eie soldate skiet. Of dit so is, weet ek nie, maar dat mense liefdeloos van mekaar verskil is duidelik. Ons weet teen dié tyd dat daar mense is wat glo die wederkoms van Jesus vind voor die einde van Mei plaas. Ek glo dit nie, maar hoe gaan ek optree teen die persoon wat dit verkondig, as 23 Mei wel aanbreek, en die wederkoms het toe nie plaasgevind nie? Gaan ek nydig wees, en die persoon se karakter afbreek? Of gaan ek bloot sê: vriend, ek het respek vir jou om so ver te gaan vir dit wat jy glo... al was hy verkeerd. Miskien moet ons mekaar ook maar ‘n bietjie uitluister, meer verdraagsaam wees, aanvaar dat daardie persoon gered kan wees, lief is vir die Here, al doen hy sekere dinge anders as wat jy dit doen. Paulus sê: as kos vir iemand onrein is, is dit vir hom onrein. Hy gaan egter nie sy eie siening daaroor verander nie, en ook nie sy broer veroordeel nie. Kom ons verskil van mekaar in liefde. Onthou: Al wat van belang is, is dat ons geloof in liefde oorgaan in dade. |