|
|
|
EK
STREK MY UIT … - 11 Desember 2009 Nou is nog ‘n
jaar amper verby. Onthou jy nog jou nuwejaarsvoornemens wat jy aan die
begin van die jaar gemaak het? Hoe het jy gevorder? Ek gee dit sommer in
elk geval op vir ‘n “bad job”. Die einde van die jaar is vir my
altyd so bietjie van ‘n skeidslyn, waaroor ek kan klim. Iets tot die
effek van “wat was en wat kom”, “voor en agter”, “gister en môre”,
“verlede en toekoms”. Of soos om deur ‘n deur te stap .. duskant die
deur en anderkant die deur. Dis vir my ‘n tyd om terug te kyk en te
reflekteer, en ‘n tyd om vorentoe te kyk en te droom. Hoe was hierdie
jaar vir jou? Hoe hoop jy sal volgende jaar wees? Wat laat jy agter en wat
vat jy saam? Wat hoort by volgende jaar en wat moet agtergelaat word? Ek
hoop jy visualiseer ‘n beter jaar as wat hierdie een was. Al was hy dalk
goed. Ek glo nogal baie mense
wil nou maar eerder hierdie jaar klaar deurwerk, hom opvou en mooi verpak
en iewers in ‘n kas in ‘n donker hoekie wegpak…. Om hom nooit weer
uit te haal nie. Kom ons dink so bietjie – hoe was 2009? Was daar
trauma? Hartseer? Misdaad? Armoede? Ek wil vandag vir jou ‘n kort stukkie lees, en dan die teks ‘n bietjie uit sy bedoelde konteks gebruik. Fil 3:10-14 Pragtige
gedeelte. Ek wil veral konsentreer op “ek maak my los van wat agter is,
en strek my uit na wat voor is”. Ons het so ‘n hele rukkie gelede
gepraat van daardie sleepwaentjie wat ons óf agter ons aansleep, óf
afhaak en agterlos. Bagasie, gemors, hartseer. Hierdie waentjiemet die wêreld
se pyn daarin, slegte verhoudinge, onvergewensgesindheid, swaarkry,
emosionele pyn, en alles wat sommer net sleg is. Ek dink ons almal se
waentjies het maar iets sleg in. Die vraag is, gaan jy hom afhaak voor die
einde van 2009, of gaan jy hom oor die 2010 drumpel sleep. Of nog erger
… gaan hy jou oorstoot in 2010 in? Ek glo nie mens kan alles uitgooi
nie, maar ek dink tog party van die slegte goed kan maar gerus uitgehaal
word. Miskien moet jy die
ding maar net bietjie afpak en kyk of daar nie so paar gemorsies is wat jy
kan uitgooi nie. Jy sal moet, want jy moet plek maak vir die lekker goed
van 2010 wat moet in. “Ek maak my los van wat agter is, en strek my uit
na wat voor is”. Ek wonder nogal as ek vir jou vra hoe jy 2009 sou
gradeer, ‘n punt uit 10 – waar sou jy jou merkie sit? Watter van
daardie elemente wat hierdie jaar sleg gemaak het, moet saamgaan? Kom ons kyk na ‘n paar goed wat gerus maar kan agterbly: - Slegte verhoudinge. Kom ons maak vandag vir onsself die besluit om niks daarvan saam te neem in 2010 in nie. Daar is ‘n paar maniere hoe mens met slegte verhoudinge kan werk. Jy kan (a) dit ignoreer en hoop dit gaan weg. Dit sal nie weggaan nie; (b) voortbou daarop deur nóg meer kole op die vuur te gooi, en dit sodoende nóg slegter maak, of (c) dit regmaak. Ag toe man, dis mos by verre die beste opsie. - Emosionele pyn. Dis definitief nie so maklik nie, maar dit is dalk slim om hulp te kry daarmee. - Die effekte van trauma. Miskien het jy onder misdaad deurgeloop. Ons het presies ‘n jaar gelede onder gewapende rowers in ons huis deurgeloop, en ons het besluit om die in 2008 agter te los. Ek dink bykans nooit meer daaraan nie. Dis nie die moeite werd om heeltyd daaroor aan te hou tob nie. - Bekommernis en stres. Veral die onnodiges. Daar is mos baie daarvan in ons lewens, of hoe? Nee wat, dis tyd vir ‘n nuwe blaadjie. Maak jou los van wat agter is, en strek jou uit na wat voor is. Waarna strek jy jouself uit in 2010? Ja, strek en rek ‘n bietjie om dit by te kom wat dalk buite jou bereik voel. - Strek uit na nuwe geleenthede. Dalk het jy ‘n paar goeies gemis in 2009. Moet dit nou nie weer mis nie; dalk sou dit bietjie beter met jou gegaan het as jy dit benut het. - Strek jou so bietjie uit na diensbaarheid. Doen miskien so bietjie meer tot voordeel van iemand anders. Dink so bietjie of jy miskien so ‘n projekkie of twee moet aanpak wat vir iemand anders iets kan beteken nie. Dink net, dalk wil jy spaar om vir iemand ‘n rolstoel te koop, of dalk ‘n paar rand opsy sit om ‘n weeskind vir ‘n kamp te borg. Daar is só baie goed wat gedoen kan word. - Strek jou uit na ‘n jaar met minder stres. Miskien moet jy bietjie afskaal, miskien moet jy bietjie meer by jou gesin wees. - Dalk moet jy jou uitstrek om ‘n slegte gewoonte af te leer, of daardie troetelsondetjie laat staan. -
Dalk moet jy jou uitstrek na ‘n intieme verhouding met die Here.
Meer tyd saam met Hom. Meer geestelike groei. Meer intimiteit met Hom.
Meer liefde vir die Here en vir Sy kinders. Nog so bietjie geestelike
verdieping, bietjie meer Woordkennis. Bietjie nader aan Hom. Kom ons besluit
sommer nou al wat duskant die 2009/2010 skeidslyn gaan bly, en wat
anderkant hom moet gebeur. Ons het nou wel nie beheer oor alles nie, maar
daar is tog sekere dinge waaroor ons wel beheer het. Maak los van wat
agter is, en strek uit na wat voor is. |