|
|
|
EMOSIES AAN DIE KRUIS Wat beteken die kruisdood van Jesus vir jou? Ek wil vandag so 'n bietjie dink en redeneer oor wat dalk in Jesus se gemoed en in Sy gedagtes moes wees toe Hy na die kruis toe is. Ons sal nooit regtig weet nie, maar ons kry tog in die Bybel skrifgedeeltes rondom van die emosies waardeur Hy gegaan het. Ek wil graag na so 'n paar daavan kyk, aan die hand van hierdie gebeure 2000 jaar gelede. Vasberadenheid. Jesus het vir lank (hoe lank?) geweet waarvoor Hy op aarde was. Die Vader het Hom intensief voorberei in hierdie tyd, veral die laaste drie jaar van Sy openbare lewe. Wat het in daardie tyd deur Sy gedagtes gegaan? Vasberadenheid om te doen wat die Vader vir Hom bestem het. Matt 16 : 21 - 23 Jesus klink eintlik aggressief as Hy so ernstig vir Petrus vermaan. Ek dink Hy noem vir Petrus "Satan", omdat die satan natuurlik in die pad sou wou staan van Jesus se verlossingswerk. Jesus was vasberade om dit te kom klaarmaak waarvoor Hy aarde toe gekom het. Toe Jesus met Sy werk besig was, was die boek Jesaja beskikbaar. Het Hy dalk self die profesieë oor Homself gelees en geken? Jesaja 53, waar alles wat gaan gebeur in verstommende detail vertel word. Die volgende emosie wat ek raaklees, is vrees. Matt 26 : 36 - 41 Jesus het presies geweet wat met Hom gaan gebeur want Hy was volkome mens, en volkome God. Joh 1 : 1 "In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God." Vers 14 "Die Woord het mens geword en onder ons kom woon." Jesus se mensheid het gemaak dat Hy al die emosies kon en moes ervaar wat ons ervaar, en Sy Godheid het Hom al die kennis gegee wat Hy gehad het. Hoekom het Hy gevrees, en was Hy beangs? Want Hy het geweet dat dit die prys sou wees vir jou en my sonde. Jesus het geweet dat baie baie bloed sou vloei om die prys volkome te betaal. Ek en jy het geen begeerte om sommer net te bloei nie, want dit gaan gewoonlik met geweldige pyn gepaard. Maar Jesus het geweet dat ons nie die vermoë sou hê om hierdie pyn self te dra en prys self te betaal nie. Jesus het geweet dat die verlossingsbloed in Sy liggaam was, en dat dit deur Sy are gepomp het. In Hebr 10 : 5 sê Jesus vir die Vader "Dit is nie dieroffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het". Jesus was totaal bewus daarvan dat Hy alles sou prysgee vir jou en my. Elke druppel bloed, vir iemand op aarde. Kosbare bloed. Rooi goud. Die vraag is, toe jou druppel uitgeval het grond toe, het dit in die stof weggesyfer? Of het dit voor die Vader geval, as versoening? Die derde emosie was eensaamheid. Gelukkig beskryf die Bybel nie in detail die wreedheid wat met kruisiging gepaard gaan nie. Ongelukkig besef ons nie die verskrikking daarvan nie. Jesus hang aan die kruis in verblindende pyn, en die Vader draai Sy gesig van Jesus af weg. Sodat Hy in desperaatheid uitroep. Matt 27 : 45 - 46 "My God, My God, waarom het U My verlaat?" Sjoe, sou die Vader dalk kon antwoord, "want jy is die Enigste Een wat dit kan doen"? Op wie anders sou Ek die sonde van die wêreld laat afkom? Wie anders sou hierdie ongelooflike las kon dra? Ek sou nie kon nie, en ek glo jy sou ook nie kon nie. In Jesus se diepste nood, en donkerste uur, is daar niemand om Hom te help nie. Jy sien, as daar iemand was om Hom te help, sou verlossing goedkoop gewees het. Dan was dit nie 'n offer nie. Mense vra so dikwels, hoe kan God so wreed wees om Sy enigste Seun te laat vermoor. Nee, my vriend, dis nie wreed nie, dis liefde. Joh 3 : 16 "God het die wêreld so lief gehad, dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê". Dis liefde, want nou draai die Vader nie meer Sy gesig weg van ons as ons vuil is van sonde nie. Dis nie meer nodig nie, ons hoef nie meer eensaam te wees nie, want ons het vir Jesus. Die laaste emosie is blydskap. Blydskap as gevolg van oorwinning. Hoe lyk dit as ons top-atlete wen? Hoe maak ons, en hoe maak hulle? Ons juig, want hulle het namens ons gewen. Soos wat ons kan juig, omdat Jesus namens ons alles wat boos, sleg, vuil en sondig is, oorwin het. Matt 28 : 5 - 7 Jesus het opgestaan. Alles is oorwin. Aan die kruis was Sy laaste woord "Tetelestai". Dit is volbring. Dit is betaal. Die blydskap en vreugde was nie net tussen die mense nie, maar ook by Jesus. Want jy sien, Jesus het geweet dat alles die moeite werd was, want ek en jy, het saam met Hom uit die graf gekom. Ek glo Jesus was direk na die drie dae in die graf, totaal genees van Sy wonde, maar dat die merke as getuienis agter gebly het, om vir die dissipels te wys. Net so, kan ons totaal genees en gereed vir die ewige dood, saam met Jesus opstaan. Ons het die oorwinning saam met Hom behaal. As ons dit vir onsself aanneem. Jesus het gesterf, en Hy het opgestaan, maar dis net vir jou, as jy dit kies. Joh 6 : 47 "Dit verseker Ek julle, wie in My glo, het die ewige lewe!" Jy sien, jy kan kennis dra van die gebeure by die kruis, maar as dit nie jou eie is nie, lê jou druppel bloed verlore in die stof. Dan het dit geen krag nie. Dan is Jesus se blydskap nie vir jou nie. Dan is daar ook by Hom droefheid. Maar as ons saam met Hom gesterf en opgestaan het, is die volgende waar: Openb 2 : 7 Openb 2 : 11 Openb 2 : 17 Openb 2 : 26 Openb 2 : 28 Jesus kan my en jou blydskap volkome maak. Hy neem al jou sonde weg, Hy is die pad na die ewige lewe.
|