ERFENISDAG - 24 September 2008 


Wat is 'n erfenis?
Dit is om iets te ontvang wat voorheen aan iemand anders behoort het, maar aan jou oorgedra word, op grond van:-
· Een of ander verbintenis
· Iemand se besondere guns op jou
· 'n Familieband
· 'n Afstammeling
· Iemand se keuse

Jy kry dus iets waarvoor jy nie gewerk het nie, wat jou nie per definisie toekom nie, wat na enigiemand anders toe sou kon gaan. Dit impliseer ook kosbaarhede of bates wat aan jou oorgedra kan word. So kan jy dalk die een oomblik brandarm wees en die volgende oomblik skatryk!

As kinders van die Here het ons ook 'n erfenis, ons is Sy erfgename. Ons kry dit sonder verdienste, sonder dat ons daarop kon aanspraak maak, sonder dat ons daarvoor gewerk het. Dus, dit is God se genade wat maak dat ons iets beërwe, waarop ons nie noodwendig geregtig is nie.

Erfenis in die Ou testament:
· Eersgebore seun ontvang ("erf") geboortereg - spesiale posisie binne sy gesin
· Eersgeborene erf 'n dubbele deel
· Dogters erf eers indien daar geen seuns was nie
· Indien daar geen kinders is nie, erf 'n familielid

In die Nuwe testament lees ons dat Jesus die erfgenaam is van ALLES:
Heb 1:2 .. maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.

'n Mens kan net erf van iemand wat gesterf het. 'n Lewende persoon kan vir jou iets skenk, maar jy kan eers erf as die persoon sterf.

Na Jesus se sterwe aan die kruis, word óns erfgename, maar… nie elke mens op aarde nie, want, die "voorwaardes" soos vroeër genoem, geld tog sekerlik hier ook, nl.
Daar moet 'n verbintenis wees met Jesus
Sy genade (guns) is op jou
Daar is 'n familieband
Jy is 'n afstammeling (jy is Sy kind)
Dit is God se keuse

Ons is erfgename wanneer:

Ons kinders van God word:
Gal 4 : 7 Jy is dus nie meer 'n slaaf nie; jy is nou 'n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.

Wanneer ons in Jesus glo:
Rom 4 : 13 Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het.
Heb 6 : 12 Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.

Wanneer ons God se genade ontvang:
Gal 3 : 18 As 'n mens dit wat beloof is, kry op grond van die onderhouding van die wet van Moses, kry jy dit nie meer op grond van die belofte nie, en God het sy genade aan Abraham juis deur 'n belofte toegesê.

Ons word mede-erfgename saam met Christus
Rom 8 : 17 En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Wat erf ons?
Die aarde
Matt 5 : 5 Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

Koninkryk van die lig
Kol 1 : 12 Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig.

Koninkryk van die hemel
Matt 25 : 34 Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: 'Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit.

Koninkryk van God
1 Kor 6 : 9 Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie?

Die ewige lewe
Matt 19 : 29 En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry.

Alles
Op 21 : 7 Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees.

Die erfenis wat ons as kinders van God kry is vir ewig
Heb 9 : 15 Daarom is Hy ook die Middelaar van 'n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang

Ons erfenis het 'n waarborg: die Gees
Ef 1 : 13 - 14 Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël.
Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Kom ons pas hierdie erfenis goed op, en leef voluit met dit wat ons uit genade ontvang het.
Dit is so dat mens goed wat jy verniet kry, nie so goed oppas as goed waarvoor jy gewerk het nie. Daarom moet ons besef hoe duur die prys was wat Jesus aan die kruis betaal het, sodat ons erfgename kon word. Jesus se genade is verniet, maar dis nie "cheap" nie.

Daarom moet ons so leef dat ons as't ware Jesus se skoene volstaan.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)