|
|
|
Resessie,
ekonomiese afplatting, werksverlies, rentekoerse, wisselkoerse,
kontantvloei. Al hierdie goed is ernstig aan die orde van die dag en ons
word almal hierdeur beïnvloed en ons almal ly op die een of ander manier
daaronder. Dan glo ek ons almal het iets in gemeen, en dit is dat ons
almal graag so ietsie groot wil wen, of erf. Wonder jy ook of daar nie
dalk iewers so 'n ryk ou tannetjie is wat nét jou naam in haar testament
geskryf het nie? Nou nie dat ons die antie haar einde toewens nie, maar as
sy gou maak, is jy vinnig uit jou finansieële verknorsing. Wat is 'n erfgenaam? Dis iemand wat geld, bates of besittings kry waarvoor hy nie gewerk het nie, en dan bevoordeel word deur iemand wat hom goedgesind is. Daardie erfgeld sal so 'n persoon dan slegs toeval as dit in 'n geldige testament opgeskryf is. Daardie testament is dan bindend en kan nie deur iemand anders verander word nie. Die testament spreek die uitdruklike wil van die persoon uit. Die persoon wat
die testament opstel moet by magte wees om dit op te stel, by sy volle
positiewe wees en in goeie geestesgesondheid verkeer. As alles in plek is,
kan die erfgenaam staatmaak op sy erfporsie, en hy is dan ook gebind aan
die bepalings en voorwaardes. Gal 3 :15 – 20 In hierdie deel is die hele kruks van die Evangelie saamgevat. God sluit 'n verbond met Abraham en sy nageslag, waarvan jy een is, omdat Hy ongelooflik lief is vir die mens. God maak die weg tot Saligheid oop lank voor die belofte aan Abraham, en skep daardeur vir die mens die geleentheid om die volle erfporsie te ontvang. Nog lank voor Jesus op aarde gebore word, skryf God die testament vir jou en my. Eintlik maak Hy voorsiening daarvoor dat ek en jy alles kan erf, as ons net een ding doen en dit is om die erfporsie op te eis. Maar... natuurlik moet jou naam in die boek van die lewe opgeskryf staan, en juis dit is die testament wat die erfporsie op jou laat toeval. Vers 15 sê:- As 'n testamanet eers geldig is, kan niemand dit ongeldig maak of iets daaraan byvoeg of weglaat nie. God sê in Jes 49:16a “Ek het jou naam in My handpalm gegraveer...”. Sien jy? Vasgemaak, lank lank gelede. Ou-testament. Daarom kan ek en jy staatmaak op die volle erfporsie, die volle beloning wat hierdie testament aanbied. Die wonderlike is dat jy dit met niemand deel nie, want dis asof Jesus nét vir my gesterf het, en as ek en Hy alleen op aarde was, sou Hy steeds net vir my gesterf het. Al was dit dalk ek wat Hom aan die kruis moes vasspyker. Jy erf, of jy erf nie, jou naam is in die boek van die lewe, of dit is nie. Jy is die erfgenaam, of jy is nie. So eenvoudig soos dit. Wat moet 'n erfgenaam doen om te erf? Wel, absoluut niks!!! Sommige mense glo egter dat hulle by die lees van die testament eers bietjie moet “perform” voordat die erfporsie uitbetaal, maar dis nie nodig nie, want die persoon wat die testament geskryf het, moet net sterf, dis al. Die probleem is net, dit klink te goed om waar te wees. En die rede daarvoor is dat die wet vir die mens 'n probleem word. Want wie van ons kan dan nou verby die wet kom? Gal 3:21-22 Sien jy dat selfs die wet nie in staat is om dit te doen nie? Die wet het gekom as gevolg van die sonde, sodat die mens kan weet wat reg en verkeerd is. Die wet is die verkeersreëls en die padaanwysings om by die bestemming te kom, sodat ek en jy 'n sinvolle bestaan kan voer. Die bedoeling van die wet was nog nooit om jou Saligheid te bewerkstellig nie. Onthou net een ding, die wet is goed en sal altyd goed bly. En daarom sal dit ook altyd geldig bly. Die wet het dan ook 'n belangrike rol as oorgangsinstrument gespeel. Gal 4:1-7 Die wet self is dus nie die testament nie. Jy is egter 'n kind van God op grond van die testament. Hoe verkry ek dan hierdie erfporsie? Gal 3:21-29 Hoe moeilik is dit om dit te verstaan? Jou geloof in Christus maak die testament geldig, en dis al!!! God het die eerste stap geneem en aan Abraham en sy nageslag die belofte gegee, en die volgende stap is om jou naam in die boek van die lewe te kry. En almal wie se naam in die boek geskryf staan sal alles erf. Die wet is dus nie die toegang tot die erfporsie nie, die boek van die lewe is die toegang. Openb 20:15 In Openbaring is daar etlike verwysings na die boek van die lewe, en al die plekke sê dieselfde ding. Waar los dit vir jou en my? Die testament is geskryf en die erfporsie moet geërf word, en almal wat dit regtig wil hê kan dit kry. Die voorwaarde vir die afhandeling van die testament is dat iemand moet sterf, en dis wat Jesus gedoen het. Die testament moet gelees word en die erfporsie is gratis. Die testament is geldig, en die beloning is “out of this world”. Is jy seker jou naam is ingeskryf?
|