Een van die gedeeltes in die Bybel waaroor jy nooit klaar kan praat
nie is 1 Kron 4:10
1 Kron 4 : 10 Jabes
het die God van Israel aangeroep met die woorde: Stort u seën oor my
uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou
onheil van my sodat geen smart my tref nie.God het laat gebeur wat
hy gevra het.
Wat vir my baie
interessant is van die gebed van Jabes, is dat die meeste mense
vandag dit ken en bid, maar tot enkele jare gelede was dit totaal
onbekend aan die meeste mense. Maar wat 'n kragtige gebed, en hoe
bemoedigend dat daar staan "God het laat gebeur wat hy gevra het".
Hierdie eenvoudige gebed kom op 'n vreemde plek voor, 1 Kronieke,
waar die eerste 9 hoofstukke net hordes name is van die
geslagsregisters van Israel. En Jabes kom voor in die
geslagsregisters van die stam van Juda.
In vers 8 staan "Jabes
het voorrang geniet bo sy broers", en dan "Toe sy ma hom die naam
Jabes gegee het, het sy gesê "Ek het hom met smart in die wêreld
gebring". Nou, ek hoop nie jou ma noem jou agteraf Jabes nie!
Ek glo dat die
bedoeling van Jabes se gebed fisies was, in die sin dat hy gevra het
vir meer grond (vergroot my grondgebied), en dan bid hy vir
beskerming en God se hand oor hom. Dr Bruce Wilkinson het pragtige
boeke geskryf waar hierdie deel vergeestelik word en ons dit vandag
bid in die konteks van die vergroting van ons Geestelike
grondgebied. Dus, Here, maak vir my deure oop, meer as wat ek kan
bid of dink. Ek wil by hierdie gedeelte stilstaan en sê, "Here, aan
die hand van die gebed van Jabes, vergroot die werf waar ek
geestelik 'n verskil kan maak". Ek vermoed dat, as jy al hierdie
gebed gebid het, was dit heel waarskynlik ook jou bedoeling.
Jes 54 : 2 - 3 Maak
groter die plek vir jou tent, maak breër jou tentdoeke, moenie
suinig daarmee werk nie. Maak langer die tentlyne en slaan die
tentpenne dieper in, 3 want jy sal na alle kante toe uitbrei; jou
nageslag sal nasies verdryf en in die stede wat nou verwoes is, gaan
woon.
Ek dink dit is wat die
Here van my en jou verwag, om die gebied waarin ons geestelike gesag
het, te vergroot.
Daar is soveel
aanvalle, en aanslae, dat ons moet besef dat daar geweldige druk op
ons Christenskap is. Paulus sê, "ons stryd is nie teen vlees en
bloed nie, maar die bose geeste in die lug". Die vraag kan wees,
hoekom het ek 'n verantwoordelikheid om 'n groter grondgebied te
proklameer? Dan is die antwoord seker, wie s’n dan anders? 'n
Weermag veg met sy eie soldate, hy huur mos nie 'n ander weermag se
troepe nie. So het ons 'n verantwoordelikheid. "Here, vergroot my
grondgebied", beteken "Here, ek wil deelneem aan hierdie geestelike
stryd". Anders moet ek bid, "Here, vergroot U grondgebied". Dan word
ek passief in hierdie oefening. Wat bid jy?
Hoekom moet ons dit
bid? En wanneer is ons gereed daarvoor? Die hoekom is maklik: Matt
28 : 19 "Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my
dissipels, doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die
Heilige Gees". Dis 'n opdrag. Nou wanneer gee jy vir iemand 'n
opdrag? Wanneer daardie persoon die regte vermoëns het, en wanneer
jy hom genoeg kan vertrou om die werk reg te doen. So vertrou Jesus
ons as Sy kinders om hierdie opdrag te gaan uitvoer. Dis die hoekom
gedeelte, maar die vraag is "Wanneer is ons gereed daarvoor?"
Hebr 5 : 12 - 14
Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee,
het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die
woord van God moet onderrig. 'n Mens moet julle met melk voed en nie
met vaste kos nie. 13 Iemand wat nog van melk lewe, kan nie
saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog 'n kind. 14
Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat
deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.
Hier lees ons van 'n
toets. Leef ons nog soos Geestelike babatjies? Of het ons al begin
vaste kos eet? Jy sien, ons gaan kerk toe, jaar vir jaar. Ons doen
kursusse en word toegerus, maar kom nie van die bottel af nie. Soos
'n baba wat nog in die “pram” lê, sy hande en voete pas nie meer in
nie, en hy huil met so 'n growwe stem wat al lankal gebreek het. Hy
drink ook nie meer uit 'n tietie bottel nie, maar sommer so uit die
glas- melkbottel. Die skrywer van Hebr sê, "nee, jong jy behoort
teen hierdie tyd al self onderrig te gee!" As jy al ooit Jabes se
gebed gebid het, het jy as’t ware gesê "Here, ek is nou uit my
kinderskoene, ek dink ek kan nou ook op die water loop, ek glo ek
kan diensbaar wees om 'n verskil te gaan maak. U het my nou al lank
opgebou en toegerus en ek glo U kan my vertrou, en daarom wil ek nou
tot U beskikking wees". Besef ons regtig dat hierdie maar net 'n
modegier kan wees as ons hierdie gebed bid? Hierdie is 'n ernstige
gebed - nie vir die "faint hearted" nie. As ons hierdie gebed bid,
moet ons besef dat die Here kan dit dalk net beantwoord. Ons moet
baie versigtig wees vir geestelike speletjies. Die Jabes-gebed kan
gevaarlik wees.
Hoe antwoord die Here
as ons vra vir 'n groter grondgebied? Geestelike deurbrake gebeur
onverwags. Deure gaan oop en bedienings geleenthede kom op ons pad.
Mense vra vir ons raad, of vir 'n opinie. Ons word dikwels
gekonfronteer met geleenthede wat ons dink ons nie kan hanteer nie.
Die probleem is net, ons bid dikwels hierdie gebed sonder om te dink
aan die konsekwensies. Daar kom 'n oop deur, dan kyk ons dikwels met
watter verskonings ons weer die deur kan toekry. Dan dink ons aan
alle redes denkbaar om dit nie te doen nie. Jy sien, die Here se
werk vra opofferings. Miskien moet ons so bietjie uit die gemaksone
kom. Dalk moet sommige van ons ou wêreld plesiertjies plek maak
daarvoor om die Here se koninkryk uit te brei. Dalk word ons gesinne,
of ons werk, ons verskoning. Onthou die spreekwoord? Moenie jou
talente onder 'n maatemmer bêre nie? Hoe weet ons wanneer daar ’n
geestelike deur vir ons oop is? Wanneer daar bevestiging is. Wanneer
dit binne ons gawe profiel pas. Wanneer dit fisies moontlik is (nie
verskonings nie). Wanneer dit tot eer van die Here is.
Laat ons nie hierdie
gebed bid, as die werk van die Here nie regtig prioriteit is nie, of
as ons gemaklike lewe belangriker is nie. Maar wat 'n vreugde as ons
dit bid, en ons sien hoe die Here ons daarmee vertrou.
|