|
|
|
GEESTELIKE KOS Is jy honger, reg vir iets om te eet? Ontbyt al aan die gang? Lus vir iets lekker? Ek onthou so as my ma nog besig was met middagete, vra ek al wat eet ons vanaand. Ons praat vandag oor kos en oor goeie eetgewoontes. Die belangrikheid van 'n goeie, gebalanseerde dieet. 'n Saak wat min mense regtig oor bekommerd is, maar wat jou lewe ernstig kan bedreig. Baie belangrik om te praat oor wat jy in jou liggaam inprop. Ons moet eet, maar ons moet reg eet. Maar wat van ons geestelike kos, ons geestelike dieet? Hieroor kry ons baie in die Bybel, daarom sal ek maar liewer van kos wegbly. Kos moet ons eet, en geestelike kos moet ons inkry. Genoeg van, in die regte verhouding, sodat ons geestelik kan groei. Anders raak ons konstitusie (soos Oubaas sou sê) bietjie omgesukkel. Soos ou Mike, op 'n vraag wat sy gunsteling kos is, het hy gesê, dis vis, Brekfis!!! Die vraag is, van watse geestelike kos leef ons? Nog daardie fyn kossies wat mens in die klein glasbotteltjie gekry het, of is daar al iets beter op die tafel? Maar net soos met fisiese kos, gaan geestelike kos saam met groei en ons geestelike toestand. Wat kan ons absorbeer in die geestelike realm? Hebr 5 : 11 - 14 Hier spreek die skrywer van Hebreërs hierdie saak van geestelike onvolwassenheid aan, en hy vergelyk dit met melk - vir babas. Hy sê, "Teen hierdie tyd behoort julle self onderrig te gee in die grondwaarhede van die Woord". Dan sê hy, "Julle lewe nog van melk". Dan is die vraag vandag, waar staan ons? Nog geestelike babas, of atlete? Die probleem lê in dit waarmee ons onsself voed, en hoe ons geestelike dieet lyk. Wat eet ons? Soms is ons op 'n geestelike dieet soos mense wat glo in 'n kitsdieet. Eet niks en jy word vinnig maer. Werk nogal goed met gewone fisiese kos. Eet lank genoeg niks en jy is sommer binnekort net vel en been - daar in jou kis. Net so met geestelike kos. Neem niks daarvan in nie, dan is jy ook sommer heeltemal verlore. Daar in die groot verlorenheid - ons noem dit die hel. Dit lyk my daardie een gaan nie werk nie. Dan kry jy 'n pilletjie - hulle noem dit 'n eetlusdemper, dan word jy nie honger nie. Dis soos sonde in jou lewe wat nie klaarkry nie. Dit vat ook die lus na geestelike kos weg. Die eetlusdemper pilletjie het so 'n klein probleempie, sien, dit vat die lus vir kos weg, maar die lus vir lekkernye bly. Soos die lus vir sonde. Dan begin ek maar sommer alles akkommodeer. Nee wat, hierdie tipe metode werk ook nie lekker nie. 'n Goeie gesonde geestelike dieet: · Partykeer is ons geestelike kos
soos 'n pizza. Nogal vrek lekker, moet ek sê. Maar so 'n roesemoes van
deurmekaar goete op so 'n plat fondament. Lekker om te eet, maar jy weet
nie eintlik wat dit is nie. Op geestelike vlak is dit soos 'n
oppervlakkige geloofslewe. Anything goes. Allerhande geestelike gedagtes,
en gewoontes en teologie is aanvaarbaar. Meng die goed saam en dit maak
vol. Enigiets word geakkommodeer. Nou hoe lyk 'n goeie geestelike dieet dan? Die slim dieetkundiges sê jy moet gereeld en korrek eet. Nie min en gemors nie. Gereeld met die Here besig wees, beteken om sommer al vroeg-vroeg te begin. Met 'n goeie, diep stiltetyd. Dat dit soos 'n 'thickbase pizza' is. 'n Goeie basis vir die dag. Dan neem jy 'n peppermint. Die ding maak jou mond vars, sodat daar net goeie goed uitkom, soos 'n vars geur. Nie so 'n knoffelklank van slegte taalgebruik en vuil grappies nie. Nee, om sommer dikwels iets van jou geloofslewe te getuig. Dan volgende, om goeie gesonde, voedsame vaste kos in te kry, growwe vesel, kosse wat ryk is aan vitamiene: "eet die Woord". Kennis, inligting, wysheid kom uit die Woord van die Here. Vullend, lewensveranderend. "Eet" as gesin saam - ons noem dit huisgodsdiens. Daar staan geskryf, leer jou kinders, as jy op die pad is, en as jy tuis is, altyd. Deel van jou kos uit. Wat jy saai sal jy maai, so ook geestelik. Verkondig die Woord, hou daarmee vol, tydig en ontydig. 2 Tim 4 : 2 "Jesus sê, gaan maak die mense My dissipels." Deel van jou geestelike kos uit. Neem vitamiene aanvullings, dit bou jou immuniteit op. Op geestelike vlak is dit die basis van gesondheid om staande te bly. Dis vir my soos geloofsekerheid. Die basis van alles. Weet jy of jy hemel toe gaan as jy sou sterf? Vitamiene aanvullings maak dat jy deur die winter kom. Geloofsekerheid maak dat jy deur die dood kom. Ag nou ja, wat is dan lekkerder as 'n ou lekkernytjie so nou en dan? 'n Ou tjokkie of 'n suiglekkertjie. Dis lofprysing. Om die Here se lof en goedheid te besing. En dan, laastens, die gesinsmaaltyd, of saam met vriende. Lekker eet en lekker kuier. Hebr 10 : 25 "Moenie van die samekomste van die gemeente wegbly soos party se gewoonte is nie ….." Hoef ek meer daaroor te sê? Saam bid, saam loof, saam juig. Op aardse vlak ……. Eet gesond, leef lank. Op geestelike vlak ……. Eet geestelik gesond, leef vir altyd.
|