GEESTELIKE KOS 


Is jy honger, reg vir iets om te eet? Is jou ontbyt al aan die gang? Is jy dalk lus vir iets lekker? Ek onthou so as my ma nog besig was met middagete, vra ek al wat eet ons vanaand. Ons praat vandag oor kos en oor goeie eetgewoontes. Die belangrikheid van 'n goeie, gebalanseerde dieet. 'n Saak waaroor min mense regtig bekommerd is, maar wat jou lewe ernstig kan bedreig. Dis baie belangrik om te besin oor wat jy in jou liggaam inprop. Ons moet eet, maar ons moet rég eet.

Maar wat van ons geestelike kos, ons geestelike dieet? Hieroor het die Bybel heelwat te sê. Ons móét geestelike kos inkry - genoeg daarvan, in die regte verhouding, sodat ons geestelik kan groei. Anders raak ons konstitusie (soos Oubaas sou sê) bietjie omgesukkel. Soos ou Mike, op 'n vraag wat sy gunsteling kos is, het hy gesê, dis vis, Brekfis! Die vraag is, van watse geestelike kos leef ons? Nog daardie fyn kossies wat mens in die klein glas botteltjie gekry het, of is daar al iets beter op die tafel? Maar net soos met fisiese kos, gaan geestelike kos saam met groei en ons geestelike toestand. Wat kan ons absorbeer in die geestelike realm?

Hebr 5 : 11 - 14
11 In verband hiermee het ons baie te sê wat moeilik is om aan julle te verduidelik, aangesien julle so traag is om te leer.
12 Hoewel julle teen hierdie tyd self reeds onderrig behoort te gee, het julle weer nodig dat iemand julle in die grondwaarhede van die woord van God moet onderrig. 'n Mens moet julle met melk voed en nie met vaste kos nie.
13 Iemand wat nog van melk lewe, kan nie saampraat oor wat reg of verkeerd is nie, want hy is nog 'n kind.
14 Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.

Hier spreek die skrywer van Hebreërs hierdie saak van geestelike onvolwassenheid aan, en hy vergelyk dit met melk vir babas. Hy sê, "Teen hierdie tyd behoort julle self onderrig te gee in die grondwaarhede van die Woord". Dan sê hy, "Julle lewe nog van melk". Dan is die vraag vandag, waar staan ons? Nog geestelike babas, of atlete? Die probleem lê in dit waarmee ons onsself voed, en hoe ons geestelike dieet lyk. Wat eet ons?

Soms is ons op 'n geestelike dieet soos mense wat glo in 'n kitsdieet. Eet niks en jy word vinnig maer. Werk nogal goed met gewone fisiese kos. Eet lank genoeg niks en jy is sommer binnekort net vel en been - daar in jou kis. Net so met geestelike kos. Neem niks daarvan in nie, dan is jy ook sommer heeltemal verlore en nou-nou geestelik morsdood. Daar in die groot verlorenheid - ons noem dit die hel. Dit lyk my daardie een gaan nie werk nie. Mens kry ook 'n pilletjie - hulle noem dit 'n eetlusdemper, Dit keer dat jy honger word. Dis soos sonde in jou lewe wat nie klaarkry nie. Dit vat ook die lus na geestelike kos weg. Die eetlusdemper pilletjie het so 'n klein probleempie, sien, dit vat die lus vir kos weg, maar die lus vir lekkernye bly. Soos die lus vir sonde. Dan begin ek maar sommer alles akkommodeer. Nee wat, hierdie tipe metode werk ook nie lekker nie.

'n Goeie gesonde geestelike dieet:

· Partykeer is ons geestelike kos soos 'n pizza. Nogal vrek lekker, moet ek sê. Maar so 'n roesemoes van deurmekaar goete op so 'n plat fondament. Lekker om te eet, maar jy weet nie eintlik wat dit is nie. Op geestelike vlak is dit soos 'n oppervlakkige geloofslewe. Anything goes. Allerhande geestelike gedagtes, en gewoontes en teologie is aanvaarbaar. Meng die goed saam en dit maak vol. Enigiets word geakkommodeer.

· Dan is daar nog so 'n plat ding, 'n pannekoek. Baie lekker, maar ook maar sonder veel van 'n basis. Lekker om te eet, maar jy is sommer netnou weer honger. En dan is hy nog seisoengebonde ook. Gaan saam met reënweer. So 'n geloofslewe het nie veel om die lyf nie. Ook nie baie vullend nie en die mens smag vinnig weer na meer. 'n Pannekoek met vulsel is darem regtig lekker, maar so maak ons ook met ons geloofslewe. Gaan neem een goeie element en rol dit toe in iets wat nie veel van 'n basis het nie.

· Voorts kan ons deesdae sommer so met die motor by so 'n klein venstertjie stop en 'chop-chop' is jy daar uit met 'n ete. Wegneemkos. Voor jy by die robot kom is alles op, en die kinders is bly want daar was so 'n koddige speeldingetjie as troosprys omdat die kos nie so lekker was nie... So 'n geestelike lewe is so 'n 'hit-and-run'. Boekies wat sê "1 minuut stiltetyd vir die besige persoon". Die geestelike honger word nie vir lank gestil nie. En dan neem jy ook maar die combo, want daar is nie tyd om in die spyskaart te delf nie. Vat maar wat jy kry. En die speeldingetjie? Nee, ek weet nie hoe om dit te gebruik nie.

Nou hoe lyk 'n goeie geestelike dieet dan? Die slim dieetkundiges sê jy moet gereeld en korrek eet. Nie min en gemors nie. Gereeld met die Here besig wees, beteken om sommer al vroeg-vroeg te begin, met 'n goeie, diep stiltetyd - soos 'n 'thick base pizza'. 'n Goeie basis vir die dag. Dan neem jy 'n peppermint. Die ding maak jou mond vars, sodat daar net goeie goed uitkom, soos 'n vars geur. Nie so 'n knoffelklank van slegte taalgebruik en vuil grappies nie, nee, laat daar liewer woorde uitkom wat getuig oor Jesus. Dan volgende, om goeie gesonde, voedsame vaste kos in te kry, growwe vesel, kosse wat ryk is aan vitamiene: "eet die Woord". Kennis, inligting, wysheid kom uit die Woord van die Here. Dit is vullend en lewensveranderend. "Eet" as gesin saam - ons noem dit huisgodsdiens. Daar staan geskryf, leer jou kinders, as jy op die pad is, en as jy tuis is, oral en altyd.

Deel van jou kos uit. Wat jy saai sal jy maai, so ook geestelik. Verkondig die Woord, hou daarmee vol, tydig en ontydig. 2 Tim 4 : 2. Jesus sê, gaan maak die mense My dissipels. Deel van jou geestelike kos uit.

Neem vitamiene aanvullings, dit bou jou immuniteit op. Op geestelike vlak is dit die basis van gesondheid om staande te bly. Dis vir my soos geloofsekerheid. Die basis van alles. Weet jy of jy hemel toe gaan as jy sou sterf? Vitamiene aanvullings maak dat jy deur die winter kom. Geloofsekerheid maak dat jy deur die dood kom.

Ag nou ja, wat is dan lekkerder as 'n ou lekkernytjie so nou en dan? 'n Ou tjokkie of 'n suiglekkertjie. Dis lofprysing. Om die Here se lof en goedheid te besing.

En dan, laastens, die gesin maaltyd, of saam met vriende. Lekker eet en lekker kuier. Hebr 10 : 25 "Moenie van die samekomste van die gemeente wegbly soos party se gewoonte is nie ….."  Hoef ek meer daaroor te sê? Saam bid, saam loof, saam juig.

Op aardse vlak ……. Eet gesond, leef lank.

Op geestelike vlak ……. Eet geestelik gesond, leef vir altyd.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)