|
GEESTELIKE
VERPAKKING
Hoe lyk ons verpakking? As jy 'n
produk van die winkelrak afhaal, word jy dikwels beinvloed deur die
verpakking. Dit werk nie net met kinders nie, dit werk so vir my en jou
ook. Verpakking is 'n baie groot deel van die sukses van 'n produk. Jy sal
waarskynlik nie 'n deurskynende plastiese sak met waspoeier koop nie - hoe
meer indrukwekkend die verpakking, hoe makliker verkoop dit. Dis 'n
belangrike bemarkingstruuk. Net so, het ek en jy ook in ons lewe 'n balans
tussen die inhoud en verpakking van ons lewe nodig… wat aan die
binnekant aangaan wys aan die buitekant. Soms verander ons mos ons
verpakking om by die siuasie of die geselskap waarin ons ons bevind te
pas. Wat noem ons dit? Skynheiligheid? Huigelary? Valsheid? Ons sit mos
nie shampoo in 'n hondekosblikkie nie, of polonie in 'n olieblik nie, of
hoe?
As Jesus sê ons liggaam is 'n
tempel van God, dan moet ons produk (die binnekant) by die verpakking (die
buitekant) pas. Voor die dae van kartonbokse en weggooibare
plastiekbotteks, was produkte soos koffie, tee, koekies ens. in
staalblikke verpak. Jy het dalk nog daar in jou huis so 'n blikkie wat
uit jou ouma se spens gekom het. As jy nou na daardie blikkie kyk, weet jy
wat aanvanklik daarin was.
In Matt 23 vat Jesus die Fariseërs
ernstig aan oor die saak van verpakking:
Matt 23:13-33
"Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!
Julle sluit die deur van die koninkryk in die mense se gesig toe. Julle
gaan self nie in nie, en julle verhinder dié wat wel wil ingaan.
"Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!
Julle trek oor see en land rond om een bekeerling te maak, en as hy dit
word, maak julle hom twee maal so ryp vir die hel as wat julle self is.
"Ellende wag vir julle, julle wat ander wil lei en self blind is.
Julle sê: 'As iemand by die tempel 'n eed aflê, is hy nie aan sy eed
gebind nie, maar as hy by die goud van die tempel 'n eed aflê, moet hy
die eed nakom.'
Blinde dwase! Wat is belangriker: die goud of die tempel waardeur die goud
geheilig word?
Julle sê ook: 'As iemand by die altaar 'n eed aflê, is hy nie aan sy eed
gebind nie, maar as hy by die offergawe bo-op die altaar 'n eed aflê,
moet hy die eed nakom.'
Julle blindes! Wat is belangriker: die offergawe of die altaar waardeur
die offergawe geheilig word?
Wie by die altaar 'n eed aflê, lê 'n eed af by die altaar en by alles
wat daarop is.
Wie by die tempel 'n eed aflê, lê 'n eed af by die tempel en by God wat
daarin woon.
En wie by die hemel 'n eed aflê, lê 'n eed af by die troon van God en by
God wat daarop sit.
"Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!
Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die
wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid
en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet 'n mens doen en die ander nie
nalaat nie.
Blinde leiers! Julle skep die muggie uit julle beker uit, maar julle sluk
die kameel in.
"Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!
Julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binne is
hulle vol hebsug en onmatigheid.
Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy
buitekant ook skoon wees.
"Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!
Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne
vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is.
So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is
julle vol huigelary en minagting van die wet."
"Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars!
Julle hou die grafte van die profete in stand en versier die gedenktekens
van die vromes,
en julle sê: 'As ons in die dae van ons voorvaders gelewe het, sou ons
nie medepligtig gewees het aan die vergieting van die bloed van die
profete nie.'
Op dié manier erken julle self dat julle nakomelinge is van die
moordenaars van die profete.
Gaan maar aan, maak klaar wat julle voorvaders begin het!
"Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die
hel?
Sjoe, dit was 'n ernstige gesprek,
en ek dink ek is skuldig aan elke enkele een van die goed waaroor Jesus so
driftig praat. Onthou net, die Fariseërs was nie slegte mense nie,
inteendeel, hulle het baie, baie ywerig die wet onderhou. Hulle was dus
baie gehoorsaam aan die opdragte van God, en hulle verpakking was perfek.
Hulle is uitgeken aan hulle kleredrag. Hulle godsdienstige uitgangspunt
was ook honderd persent in die kol. Hulle het volgens die wette geleef,
dit is al wat hulle op daardie stadium gehad het. Hulle was ook bekend vir
hulle vroomheid en hulle eng lewenswandel. Hulle het geglo aan die
opstanding van die dooies en aan die ewige lewe, teenoor die Sadduseërs
wat nie daaraan geglo het nie. Hulle verpakking het verseker reg gelyk.
Hoe lyk ons geestelike verpakking?
In Matt 23 raak Jesus ses elemente
aan oor die Fariseërs se geestelike verpakking:
1) (:15) - hulle het mense van God
laat wegkeer om ook soos hulle te word.
2) (:16-22) - hulle laat God se volk blindelings agter tradisies aanloop,
in plaas daarvan om na God se Woord te luister.
3) (:23-24) - hulle raak verstrengel in beuselagtighede, terwyl geloof,
liefde, geregtigheid en genade geignoreer word.
4) (:25-26) - hulle doen vroom dinge om die sondes in hulle harte weg te
steek.
5) (:29-36) - hou dinge uit die verlede in stand, maar hulle gedrag toon
dat hulle niks uit die verlede geleer het nie.
Hulle binnekant het nie by die
verpakking gepas nie! En ons, hoe lyk ons verpakking? Ek weet ek is ook
skuldig, soos die Fariseërs … is ons nie ook maar skuldig dat ons ander
mense bombardeer met ons eie oortuiginge nie? Hou ons nie ook maar vas aan
ons ou tradisies nie? Is die metode van doop, nagmaal, kerktoe gaan, sing,
lofprysing, ens. nie dikwels belangriker as 'n verhouding met God nie? En
wie van ons wys openlik ons korruptheid? Vloek by die werk, maar nie by
die kerk, skinder subtiel …. Wit gepleisterde grafte.
Wat sal moet verander? Die
verpakking of die inhoud? Lyk my altwee. Ons moet só lewe dat ons wys wie
ons is. As ons ons sondes bely - God is getrou om ons te vergewe, en die
binne- en buitekant skoon te was.
Die mens sien die verpakking, maar
God sien die hart. God wil één prentjie sien as Hy na ons kyk.
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|