VERDUIDELIK JOU GELOOF (2)


Ons het by 'n vorige geleentheid gepraat oor antwoorde op 'n paar kwelvrae oor wat ons glo, hoekom ons glo. Is die Bybel waar en is dit waarlik die Woord van God? Het Jesus regtig bestaan? Is daar 'n God (skepping), kan almal gered word? Klik hier om die vorige stukkie te lees >>

Vandag wil ek nog so 'n paar dinge aanraak sonder om dogmaties of teologies te raak.

1 Pet 3 : 15
"Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe."

2 Tim 4 : 2
 ….. verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee

· Wat onderskei die Christelike geloof van ander gelowe?

1. Die Christelik geloof is die enigste geloof waar die redding van ons siel nie van werke afhanklik is nie. Gal 3 : 10 "Almal wat staatmaak op die onderhouding van die wet, val onder 'n vloek as ons nie alles stiptelik kan nakom nie." Maar hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe. En ja, Jakobus vra waar is die werke? Dit doen ons uit dankbaarheid, en nie tot vryspraak nie. Dit wil sê as jy met iemand gaan praat oor sy saligheid, is dit tot voordeel van sy siel, en nie tot voordeel van jou siel nie. As jou werke jou dryf en jy praat met iemand, is dit dan tot voordeel van jou siel. Dus misbruik jy die gesprek tot jou eie voordeel.
2. Die Christelike geloof is die enigste geloof wat gebaseer is op 'n verhouding met Jesus deur die werking van die Heilige Gees. Waar gebed 'n twee rigting gesprek is. Waar die Here met ons praat deur die Bybel, omstandighede, medegelowiges, ens. Dus 'n lewende vriendskapsverhouding.
3. Die wete dat 'n Verlosser bestaan in die persoon van Jesus Christus wat vir ons die weg tot Saligheid gebaan het.

· Wat dan van die ander gelowe? Ek praat nie van denominasies nie. Bybel toe, en die vraag is dan of ons kan sê ons is alleen reg. Die Bybel is die eerste en oudste geskrifte wat praat van 'n hemel, van God, van 'n hel, van liefde. En as ander gelowe dan hierop aanspraak maak, moet al die reëls van die Bybel mos geld. Een van die ander hoofstroom gelowe se geskrifte verwys na hordes karakters van die Bybel, nl. Adam en Eva, Noag, David, Salomo, Abraham, Lot, die woestyntog, Maria, Jesus (die Messias), en nog baie baie ander. Hierdie boek is egter geskryf 200 jaar nadat die Bybel reeds in sy huidige vorm saamgestel is. (400 jaar na Christus). Dit is dus duidelik dat hierdie persoon se bron die Bybel was. Dus, watter een sou jy kies? Die oudste en oorspronklike, of dit wat daaruit gespruit het. Waar Jesus voorgehou is as 'n gewone mens en Sy Godheid verwyder is.

Ons moet ook verstaan dat van die ander hoofstroom gelowe is nie gelowe in die ware sin van die woord nie, maar godsdiens beoefening, wat nie werklik veel geloof in iets vereis nie. Maar kan hulle almal gered word? Volgens die Bybel, verseker nie.

2 Petr 3 : 3 - 9
3 Veral moet julle weet dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die spot dryf en wie se lewe net deur hulle eie begeertes beheers word. Hulle sal spot
4 en sê: En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms? Ons vaders is al dood, en tog bly alles nog net soos dit was van die begin van die skepping af.
5 Hiermee vergeet hulle moedswillig dat daar lank gelede 'n hemel en 'n aarde was wat deur die woord van God uit water en deur water ontstaan het.
6 En dit is ook deur water dat die wêreld van daardie tyd oorstroom is en vergaan het.
7 Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van God, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word.
8 Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.
9 Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.

Die Here gee dus vir almal, maar almal, 'n kans om hulle te bekeer. Red 'n geloofsgroepering jou? Nee, geloof in Jesus Christus red jou. Dis die boodskap uit die oudste en oorspronklike bron. Op watter model baseer jy jou saligheid?

· Hoekom laat 'n liefdevolle God lyding toe?
Moeilike vraag, waarop ek nie regtig 'n goeie antwoord het nie. Kom ons probeer.

1. Reg deur die Bybel lees ons van mense wat baie swaar gekry het en deur baie lyding gegaan het. Job, die dissipels, Paulus, om maar 'n paar te noem. Swaar tye is dus absoluut 'n Bybelse werklikheid. Slegte goed wat met goeie mense gebeur het, en dis vandag nog so. Ons kan dus nie sê dat daar nie 'n God is nie, omdat daar lyding is. Sy Woord sê dit sal so wees. Maar, die Woord sê baie meer dat God jou sal beskerm in swaar tye, as teen swaar tye.
2. Die sondeval is nie opgehef toe Jesus gekom het nie. Interessant, dat die meeste mense wat trauma beleef, na God gryp en Hom nie verwerp nie. Jy kry baie baie meer toegewyde Christene tussen mense wat swaar kry, as tussen mense wat in oorvloed en voorspoed lewe.
3. Ook interessant hoe ons lyding meet. Partykeer ly ons verskriklik met die witbrood onder die arm. As dit sleg gaan, soek (en verwyt) ons die Here, maar as dit goed gaan, vergeet ons Hom.
4. Maar dan kom daar bitter moeilike tye met groot trauma, erge siekte, die dood van 'n kind. Dan verstaan ons dit nie. Dit is so, maar dan kom die Here met Sy liefdevolle hand en Hy vertroos ons. Dis juis dan dat die meeste mense kan getuig dat die Here daar was vir hulle. Dis dan wanneer mense sê dat hulle nooit daardeur sou kom, as dit nie vir die Here was nie. Dan bring Hy die berusting en die vertroosting. God is soewerein, Hy skuld ons niks, ook nie 'n antwoord op slegte gebeure nie. Maar Hy belowe een ding, en dis Sy liefde. Die profeet Habakuk sê in Hab. 3 dat hy steeds in die Here sal jubel ten spyte van alles wat kan sleg gaan. Met tyd genees Hy wonde, en bring Hy berusting. Maar Hy is altyd daar, ten spyte van alles wat op ons pad kom. En dikwels is daar tog goeie uitvloeisel uit ons lyding.

· Is daar 'n hemel en 'n hel?
Dit kan ons nie noodwendig konkreet bewys nie, hoewel die Bybel so sê. Lasarus en die ryk man is 'n kosbare gebeurtenis (nie 'n gelykenis nie). Lasarus is in die hemel en die ryk man is in die hel en hy kry baie baie swaar. Maar tog is daar duisende verhale van mense wat 'n nadoodse ervaring gehad het wat van die hemel of hel getuig. Ian McCormick se video (getuienis) "A glimpse of Eternity", is 'n skitterende getuienis van so 'n gebeurtenis. En mens kan nou sê die ou het sommer 'n droom gehad of die goed so half gefabriseer. Maar sy lewe het so verander, dat hy 'n pastoor geword het en heeltemal ’n nuwe koers ingeslaan het. Nou, meer as 20 jaar later getuig hy reg oor die wêreld daarvan. Daar was dus groot vrug na die gebeurtenis. Daar moet iets in steek as so baie mense van presies dieselfde goed getuig na so 'n ervaring. En dan natuurlik, as ek so baie dinge van die Bybel glo en verstaan, en so baie goed is bewys, dan glo ek dit verseker dat daar 'n hemel en 'n hel is, en dat bekering nodig is. Al glo iemand dit nie, dan is dit maar okay, solank as jy lewe. Maar dan kom daar 'n baie baie slegte verrassing. Die Bybel sê, "Elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Jesus die Christus is". As ons dit nou doen, is ons gered en volgens Rom 8 : 1 is daar dus nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie. Maar die res sal dit verseker voor die regterstoel van God buig bely en dan is dit te laat.

Ek glo, en ek weet wat ek glo, en hoekom ek dit glo. En dis lekker, goed, vol seëninge. Hoekom sal ek iets anders kies?

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)