|
|
|
GELOOF 2 Ons het by 'n vorige geleentheid gepraat oor antwoorde op 'n paar kwelvrae oor wat ons glo, hoekom ons glo. Is die Bybel waar en is dit waarlik die Woord van God? Hhet Jesus regtig bestaan? Is daar 'n God (skepping), kan almal gered word? Vandag wil ek nog so 'n paar dinge aanraak sonder om dogmaties of teologies te raak. 1 Pet 3 : 15 2 Tim 4 : 2 · Wat onderskei die Christelike geloof van ander gelowe? 1. Die Christelik geloof is die
enigste geloof waar die redding van ons siel nie van werke afhanklik is
nie. Gal 3 : 10 "Almal wat staatmaak op die onderhouding van die
wet, val onder 'n vloek as ons nie alles stiptelik kan nakom nie."
Maar hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe. En ja, Jakobus
vra waar is die werke? Dit doen ons uit dankbaarheid, en nie tot vryspraak
nie. Dit wil sê as jy met iemand gaan praat oor sy saligheid, is dit tot
voordeel van sy siel, en nie tot voordeel van jou siel nie. As jou werke
jou dryf en jy praat met iemand, is dit dan tot voordeel van jou siel. Dus
misbruik jy die gesprek tot jou eie voordeel. · Wat dan van die ander gelowe? Nie denominasies nie. Bybel toe, en die vraag is dan of ons kan sê ons is alleen reg. Die Bybel is die eerste en oudste geskrifte wat praat van 'n hemel, van God, van 'n hel, van liefde. En as ander gelowe dan hierop aanspraak maak, moet al die reëls van die Bybel mos geld. Een van die ander hoofstroom gelowe se geskrifte verwys na hordes karakters van die Bybel, nl Adam en Eva, Noag, David, Salomo, Abraham, Lot, die woestyntog, Maria, Jesus (die Messias), en nog baie baie ander. Hierdie boek is egter geskryf 200 jaar nadat die Bybel reeds in sy huidige vorm saamgestel is. (400 jaar na Christus). Dit is dus duidelik dat hierdie persoon se bron die Bybel was. Dus, watter een sou jy kies? Die oudste en oorspronklike, of dit wat daaruit gespruit het. Waar Jesus voorgehou is as 'n gewone mens en Sy Godheid verwyder is. Ons moet ook verstaan dat van die ander hoofstroom gelowe is nie gelowe in die ware sin van die woord nie, maar godsdiens beoefening, wat nie werklik veel geloof in iets vereis nie. Maar kan hulle almal gered word? Volgens die Bybel, verseker nie. 2 Petr 3 : 3 - 9 Die Here gee dus vir almal, maar almal, 'n kans om hulle te bekeer. Red 'n geloofsgroepering jou? Nee, geloof in Jesus Christus red jou. Dis die boodskap uit die oudste en oorspronklike bron. Op watter model basseer jy jou saligheid? · Hoekom laat 'n liefdevolle
God lyding toe? 1. Reg deur die Bybel lees ons van
mense wat baie swaar gekry het en deur baie lyding gegaan het. Job, die
dissipels, Paulus, om maar 'n paar te noem. Swaar tye is dus absoluut 'n
Bybelse werklikheid. Slegte goed wat met goeie mense gebeur het, en dis
vandag nog so. Ons kan dus nie sê dat daar nie 'n God is nie, omdat daar
lyding is. Sy Woord sê dit sal so wees. Maar, die Woord sê baie meer dat
God jou sal beskerm in swaar tye, as teen swaar tye. · Is daar 'n hemel en 'n hel? Dit kan ons nie noodwendig konkreet bewys nie, hoewel die Bybel so sê. Lasarus en die ryk man is 'n kosbare gebeurtenis (nie 'n gelykenis nie). Lasarus is in die hemel en die ryk man is in die hel en hy kry baie baie swaar. Maar tog is daar duisende verhale van mense wat 'n nadoodse ervaring gehad het wat van die hemel of hel getuig. Ian McCormick se video (getuienis) "A glimps of Eternity", is 'n skitterende getuienis van so 'n gebeurtenis. En mens kan nou sê die ou het sommer 'n droom gehad of die goed so half gefabriseer. Maar sy lewe het so verander, dat hy 'n pastoor geword het en sy lewe het dramaties verander. En meer as 20 jaar later getuig hy reg oor die wêreld daarvan. Daar was dus groot vrug na die gebeurtenis. Daar moet iets in steek as so baie mense van presies dieselfde goed getuig na so 'n ervaring. En dan natuurlik, as ek so baie dinge van die Bybel glo en verstaan, en so baie goed is bewys, dan glo ek dit verseker dat daar 'n hemel en 'n hel is. En dat bekering nodig is. Al glo iemand dit nie, dan is dit maar okay, solank as jy lewe. Maar dan kom daar 'n baie baie slegte verrassing. Die Bybel sê, "Elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Jesus die Christus is". As ons dit nou doen, is ons gered en volgens Rom 8 : 1 is daar dus nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie. Maar die res sal dit verseker voor die regterstoel van God bely en dan is dit te laat. Ek glo, en ek weet wat ek glo, en hoekom ek dit glo. En dis lekker, goed, vol seëninge. Hoekom sal ek iets anders kies?
|