|
GELOOF,
HOOP EN LIEFDE - 9 JULIE 2008
Ek wonder so baie keer wat dit is
wat die lewe die moeite werd maak. Hoe kyk mens vorentoe? Hoe moet ek my
lewe bestuur, en inrig om die lewenspad die moeite werd te maak, om ten
spyte van moeilike tye nóg 'n dag op te staan, wéér 'n dag aan te pak
waarvoor ek dalk nie lus is nie. Om positief te bly in negatiewe
omstandighede. Voordat ek hierdie stukkie begin voorberei het, het 'n
klomp dinge deur my kop gegaan terwyl ek gedink het oor wat alles nodig is
om goeie bestuur van my lewe toe te pas. Bv wees tevrede, doen vir ander
iets, tel jou seëninge, verwerk stres en bekommernis, sorteer probleme
uit, handhaaf goeie verhoudinge, ens. Wel, ál hierdie dinge moet in plek
wees om 'n sinvolle lewe te handhaaf, maar … toe kry ek die heel beste
raad in drie eenvoudige woorde. Woorde wat so ryk aan inhoud is, dat ons
seker ure en dae oor elkeen kan praat, deur dit te bedink, ontleed en deur
te trap. Drie woorde wat alles bevat om sinvol te leef, vrolik op te
staan, positief te bly, uit te sien na môre. Ek het besluit dat ek wil
probeer om elke oggend hierdie drie woorde te oordink voordat ek opstaan.
Jy ken hierdie drie woorde baie goed, dit kom uit 1 Kor 13:13 "En
nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is
die liefde."
Geloof, hoop en liefde… na my
mening is dit die antwoord op 'n sinvolle, vreugdevolle lewe.
GELOOF
Heb 11:1 sê wat geloof is: "Om te glo is om seker te wees van die
dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien
nie". Hoor jy: die dinge wat jy nie sien nie. Hoe sien jy die
toekoms? Sien jy altyd 'n halfvol of 'n half leë glas? Weet jy, ek glo
vas ek gaan Vrydagoggend weer hier sit. Daar is absoluutgeen rede om die
teendeel te glo nie. Die kans is een uit miljoene dat ek voor dit iets
vreesliks gaan oorkom. Daarom glo ek 100% dat die Here my tot dan gaan
beskerm. Natuurlik is ek geensins vrygestel van iets slegs wat met my kan
gebeur nie, maar ek glo alles sal fyn wees. Ek glo in God wat my genoeg
rede gee om Hom te glo.
Geloof maak nie somme nie, en
voorspel nie die toekoms nie. Geloof is blind, geloof berus op vertroue,
spesifiek in Jesus Christus wat my gered het. Ja, iets kan gebeur, ek kan
omkap, maar niks kan my saligheid wegvat nie - juis omdat ek glo. Geloof
sê daar is 'n krag groter as ek. Geloof sê dat ek swak is, maar dit is
okay. Paulus het gesê: "As ek swak is, is ek sterk". Geloof
maak dat ek die toekoms met 'n 10 pond hamer aanpak.
HOOP
Voel jy dalk hooploos, of hopeloos? Geen mens kan hoop hê sonder geloof
nie. Niemand! Hoop se fondament is geloof. Hoop kan nie op sy eie gestalte
kry nie. Hoop is 'n gawe, 'n lewenskwaliteit, dit is 'n uitsien na iets
wat voor jou lê, wat jy nie noodwendig altyd kan teweegbring nie. Hoop is
niks anders as 'n lewensuitkyk waarop jy self besluit nie. Ek kan nie hoop
vir jou kies nie; ek kan probeer om vir jou hoop te gee - dit hang net af
of jy my sal glo. Kom ons probeer … vriend, wil jy hoop hê vir die
toekoms? Soek jy weer 'n silwer randjie om die donker Suid-Afrika wolk?
Kom ek gee jou hoop met net vier woorde: "God is in beheer". Nou
hang dit net af of jy dit glo. Hy is in beheer van jou lewe, van
Suid-Afrika, Zimbabwe, jou probleme …. Alles! As jy dit glo, kan jy hoop
hê. Ag, en as jy nog sukkel, kom ons gebruik bietjie "common
sense": is jy miskien gister vermoor? Het jy kos gehad om te eet? Het
jy 'n dak oor jou kop? Ag, weet jy, dit sal waarskynlik volgende week ook
nog so wees. Gebruik jou geloof om vir jou hoop te gee. 1 Pet 3:15: Wees
altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n
verduideliking eis oor die HOOP wat in julle lewe. Lewe daar hoop in
jou?
LIEFDE
Liefde is reguit van God af. 1 Joh 4:8 "God is liefde".
Jy kan nie liefde hê sonder God nie. Jy kan ook nie liefde hê sonder
hoop nie. God het ons baie baie spesiaal geseën deur iets van sy wese in
ons in te bou. Daarom, as ons mekaar bemoedig, kan dit net gebeur as dit
met liefde gepaardgaan. As ek jou liefhet sal ek jou aanspoor tot groter
hoogtes. Ek sal jou nie aftrek nie. As ek jou liefhet, sal ek Jesus se
hande en voete vir jou wees. As ek liefde het, kan ek vorentoe gaan.
Liefde vir God, liefde vir God se kinders en ja, selfs liefde vir God se
vyande … moeilike een, of hoe? As ek liefhet stel ek myself laaste, die
ander eerste. Liefde bring positiwiteit.
1 Kor 13
1 Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van
mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek 'n stuk klinkende
metaal, 'n galmende simbaal geword.
2 Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit
ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek
het geen liefde nie, dan is ek niks.
3 Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om
my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.
4 Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig
nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.
5 Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie
liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.
6 Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.
7 Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
8 Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn,
die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van
kennis sal uitgedien raak.
9 Want ons ken maar gedeeltelik, en ons profeteer maar gedeeltelik,
10 maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees.
11 Toe ek 'n kind was, het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind,
geredeneer soos 'n kind. Maar noudat ek 'n man is, is ek klaar met die
dinge van 'n kind.
12 Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld,
maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net
gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.
13 En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste
hiervan is die liefde!
Geloof, hoop en liefde. Hoe lyk dit, sien jy kans vir die toekoms?
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|