|
|
|
GELOOFSBELYDENIS Ons praat so baie van geloof, geloof in God, in Jesus Christus, opstanding, hemelvaart, ens. Toe ons klein was het ons gereeld in die kerk die geloofsbelydenis opgesê in die erediens. Vir my as kind was dit 'n gewoonte, ek het nooit gedink aan dit wat ek opgesê het nie, en dit het vir my nooit baie sin gemaak nie. Bloot 'n gewoonte, maar jitte, wat 'n goeie gewoonte!! Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde, en in Jesus Christus, Sy eniggebore Seun, ons Here …… ens. Hoekom ons geloof bely? Sodat dit wat jy glo, in jou hart vasgemaak kan word. Dit is so maklik om te sê, ek glo. Jakobus 2 : 19 "Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die duiwels glo dit ook - en hulle sidder van angs!!" Hebr 11 : 1 - 11 Hebr 11 : 20 - 24 Wonderlike goed wat mense glo, en wat die uitvloeisel van daardie geloof is. Ware geloof word dikwels uitgedaag in vandag se samelewing. Ons Christelike geloof , en ons waardes, word gereeld onder die soeklig geplaas. Dis asof die wêreld konstant probeer om ons van stryk te bring, en die Satan probeer om ons geloofslewe te verflou en onder verdenking te bring. So, wat glo jy? Ek wil graag vanoggend bely dat ek glo. Ten spyte van, omdat, en al is daar moeilike dinge. Ek glo, ten spyte van siektetoestande, ten spyte van die feit dat baie, goeie, wedergebore christene gesterf het terwyl daar vir hulle gebid is. Ek glo, ten spyte van misdaad, bedrog en diefstal, en moord op onskuldige mense wat dit nie verdien het nie. Ek glo, ten spyte van hoë teoloë wat begin om die waarheid van die skrif in twyfel te trek. Ten spyte van mense wat vroeër ook hulle geloof in God bely het, en dit nou verloor het. Daar is baie van hulle. Ek glo, ten spyte van die feit dat mense my sieninge aflag, en my dalk spot omdat ek onbevange vashou in wat in die Woord van God staan. Ek glo, ten spyte daarvan dat mense die Bybel begin verdraai, en afwater, en selfs heeltemal van die tafel af stoot. Ek glo, ten spyte van armoede, honger en swaarkry van ander mense. En ook ten spyte daarvan dat ek ook soms in my lewe deur moeilike tye moes gaan. Ek glo, ten spyte van aanvalle op sendelinge, moord op hulle kinders, swaarkry, ens. Ek glo, ten spyte daarvan dat kerke begin leegloop, en gemeentes swaarkry, predikante en pastore moedeloos word en naderhand opgee. Ek glo, ten spyte daarvan dat skole, en besighede en ander gesaghebbende instansies hulle uitlewing van hulle Christenskap begin versaak en hulle wend tot sogenaamde spirituele aksies in plek van Christelike aksies. Jy sien, die aanvalle op ons geloof is fel, waarvoor sal jy en ek opstaan. Ek wil dit nog verder vat. Ek glo, al verstaan ek nie alles in my eie Christelike geloof nie. Ek glo, al is daar elemente in my geloofsoortuiginge wat selfs vir my nie sin maak nie. Ek glo, al kry ek nie beheer oor my eie lewe nie, en al buig ek daagliks die knie voor sonde in my lewe. Ek glo, al verstaan ek nie die volle omvang van Jesus se genade nie, en al dink ek soms dat Jesus my nie NOG 'n keer kan vergewe nie. Ek glo, al sukkel ek soms om te bid, en al laat ek na om te bid vir sake wat ek dink gebed nie sal help nie. Ek glo, al lees ek dinge in die Bybel wat vir my dalk vergesog klink, en wat klink of dit te goed is om waar te wees. Ek glo, al verflou my geestelike lewe soms en al voel dit of ek 'back slide'. Ek glo, al hoor ek soms nie die Here se stem nie, al wag ek vir 'n antwoord. Ek glo, al het God in die verlede nie my gebede geantwoord soos wat ek dit wou hoor nie. Ek glo, al is daar so baie ander gelowe wat hulle leerstellinge as die waarheid voorhou, en dit lynreg met my oortuiginge verskil. Ek glo, al raak ek soms verward as dinge in die wêreld net nie meer sin maak nie. Ek glo, al het ek God nog nie gesien nie. Ek glo, al het ek nog nooit God se stem verbaal, hardop gehoor nie, of al het ek nog nooit 'n duidelike visioen gesien nie, en al het 'n engel nog nie aan my verskyn nie. Ek glo, al twyfel ek soms. Gebeur dit met jou ook? Hoekom glo ek? Ek glo, omdat God my nog nooit teleurgestel het nie. Ek glo omdat ek meer dinge in die Bybel verstaan as wat ek nie verstaan nie. Ek glo omdat God wel al talle en talle van my gebede verhoor het. Ek glo omdat daar wonderlike kinders van God is wat Jesus se liefde op 'n ongelooflike manier uitstraal. Ek glo omdat ek al mense gesien gesond word het, wat volgens mediese normes dit nie moes maak nie. Ek glo omdat duisende mense dieselfde getuienis oor Jesus in hulle lewens vertel, terwyl hulle uit verskillende agtergronde kom. Ek glo omdat ek al die geloof van 'n kind gesien en ervaar het. Ek glo omdat die Heilige Gees al vir my van dinge oortuig het wat totaal onverstaanbaar is. Ek glo omdat die Heilige Gees vir my die Bybel oopbreek en die lig vir my opgaan. Ek glo omdat geen ander geloof die ware oplossings bied nie. Ek glo omdat my suster se bekering haar hele lewe omgeswaai het. Ek glo omdat God se skepping (waaroor ek graag lees) so onbeskryflik is, dat dit by my geen ander keuse los, as dat Hy moet lewe nie. Ek glo omdat die Here deure oopmaak in die Geestelike wêreld, wat geen mens kon doen nie. Ek glo omdat die Here my gawes vir my uitwys, en dan geleenthede vir my oopmaak wat by my gawes pas. Ek glo, omdat my geloof in God vir my vrede gee wat alle verstand te bowe gaan. Ek glo, omdat God die waarhede van Sy Woord op wonderbaarlike wyses bevestig. Ek glo, omdat God geloof werd is.
|