|
Terug
na HOOFBLAD
DIE
GELYKENIS VAN DIE ROOI FERRARI
– 19 Julie 2011
Sien hierdie
prentjie saam met my: Jou voordeurklokkie lui, jy maak die deur oop, maar
daar is niemand nie. Dan stap jy uit by die deur, en daar, in jou oprit,
staan ‘n bloedrooi, helderblink, splinternuwe Ferrari 599GTO, met ‘n reuse
lint om die motor en ‘n reuse strik op die dak. Daar is ‘n koevertjie op
die lint. En jy dink ... wat op aarde? Uit nuuskierigheid maak jy die
koevert oop en daar is ‘n klein briefie in met die woorde: “Hierdie is ‘n
geskenk aan Willem. Geniet hom!” Die sleutels is binne-in, tesame met die
registrasie papiere – reeds op jou naam. Wat sal jy dink?
Matt 13:34 Al
hierdie dinge het Jesus vir die mense in gelykenisse geleer, en sonder 'n
gelykenis het Hy hulle niks geleer nie.
Vandag wil ek ook
‘n gelykenis vertel.... dié een van die rooi Ferrari: ‘n vergelyking met
ons saligheid. Gratis, free en verniet.
Rom 6:23 Die
loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die
ewige lewe in Christus Jesus ons Here.
Matt 13:44 Met
die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n skat wat in 'n saailand
onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat
hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop
daardie land.
Sal jy kan glo
daardie Ferrari behoort aan jou? Of sal jy ook dink dis te goed om waar te
wees? Soos wat ons dink oor ons Saligheid, wat gratis is... te goed om
waar te wees? Dalk glo jy dat ‘n gratis Ferrari meer waarskynlik is as dat
Jesus jou hemelse prys klaar betaal het? Wie sal tog vir Willempie ‘n
Ferrari gee? Ek verdien dit tog nie. Hoekom sou Jesus vir my sterf? Ek
verdien dit tog nie.
As kind het ek
elke jaar met my verjaardag én vir Kersfees ‘n geskenk gekry. Ek het nooit
vir my ma-hulle gevra hoeveel ek daarvoor moet betaal nie; ek het hulle
integriteit genoeg vertrou om te weet dat hulle nie later van plan sou
verander nie.
Joh 6:46
Dit verseker Ek julle, wie in My glo, het die ewige lewe.
PUNT. Die briefie
op die rooi Ferrari: hierdie Italiaanse monster behoort nou aan my. Punt.
Baie belangrik is
egter om te besef dat saam met die rooi Ferrari kom ‘n geweldige groot
stuk verantwoordelikheid. Dis nie sommer vir: dé, kry vir jou nie. Om so
'n motor, wat so geweldig kosbaar is, te besit en te onderhou vra baie.
Bekering is die begin van ‘n ongelooflike journey, maar dit vra ook ‘n
prys.
- Voordat jy die
pad met jou rooi skip aandurf, haal jy eers daardie handleiding uit, wat
vir jou presies vertel hoe alles werk. Al die moets en moenies,
voorwaardes, verduidelikings, alles wat jy nodig het om die beste
daarvan te kan geniet. So gee die Here vir ons die Bybel, sodat ons kan
weet presies wat dit behels om die weg na Saligheid te bewandel.
- ‘n R4 miljoen
Ferrari is baie gevaarlik in die hande van ‘n 18-jarige laaitie. Of
liewer, dit kan wees. Jy weet mos hoe gevaarlik ‘n nuwe bekeerling kan
wees, of hoe? Was jy ook daar? Raak dinge kwyt, wil die wêreld omkeer,
wil net bestraf, uitdryf, bebid, bepreek.... maar weet self nog maar
min. 1 Kor 3:2 Ek het julle met melk gevoed, nie met
vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie.
Spring maar eerder stadig weg
met daardie rooi Ferrari. ‘n Nuwe bekeerling weet nie skielik alles nie,
inteendeel! Wees maar eers versigtig.
- Jy kry dalk ‘n
lewenslange onderhoudsplan saam met jou Ferrari, maar as jy hom nie
diens nie, gaan daai plan jou niks help nie. Die inisiatief lê by my en
jou om ons Christen-lewenspad in stand te hou. Heb 10:25 Ons moenie
van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is
nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te
meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom. Dit behels meer as
net kerk toe gaan. As ek en jy ons Ferrari afskeep, gaan jy hom nie lank
ry nie. Hang van jou af...
- As jy die
Ferrari se waarde besef, en dit nie sommer net so weer wil verloor nie,
moet jy hom verseker. Jy sien, as iemand hom vir jou skenk, het iemand
daarvoor betaal. Met ‘n R4 miljoen pryskaartjie, het jy ‘n baie
waardevolle item! Wat het jou Saligheid gekos? R4 miljoen is
grondboontjies! Dit het ‘n léwe gekos. Bloed, duur, kosbare bloed. My en
jou versekering is die inwoning van die Heilige Gees. 1 Kor 4:14 Die
mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die
Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie,
omdat dit geestelik beoordeel moet word. Baie mense klink baie
geestelik, maar dis soms leë doppe. Soos ‘n bloedrooi Ferrari sonder ‘n
enjin. Mooi van buite, maar leeg binne.
- Daai rooi
Ferrari gaan jy wraggies moet oppas, want ander gaan hom wil steel. Joh
10:10 'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat
hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Boeta, stop met daai rooi
vuurwa op die verkeerde plek, los sommer roekeloos die deur oop, en
sommer so traak-my-nie-agtig die sleutel in hom, en hy is weg sodra jy
jou rug draai. Die Here sê vir jou vandag: moenie ‘n opening in jou lewe
los vir daardie dief nie, hy sal inkom en steel en verwoes. Staan die
duiwel teë en hy sal van jou af wegvlug. (Jak 4:7)
- Die rooi kar
het baie vermoëns. Hy is vinnig, en hy het padhou vermoë, maar moenie
hom op die verkeerde plek gebruik nie. ‘n Klein Toyota RAV 4X4 kan op
plekke ry waar die Ferrari nie kan nie. Moenie in die gemors gaan
ploeter nie. Luister maar vir sy ingeboude GPS. Ons GPS sê: Jes 30:21
Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê:
Hier is die pad, loop hierlangs.
- As jy die
Ferrari op die regte plek gebruik, is hy tot baie in staat. Hy is
veilig, is luuks, is kwaliteit. Fil 4:13 Ek is tot alles in staat
deur Hom wat my krag gee.
As bevrydes,
wedergeborenes kan ons baie meer vermag as ander mense. Ons het krag wat
skrik vir niks. Geniet jou geskenk, maar weet dat dit groot
verantwoordelikheid vra.
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|