|
|
|
GLO IN JESUS Paasnaweek. Die tyd waar dìt wat ons as Christene glo, tot 'n hoogtepunt kom. Waar dit wat in die ou Testament in die profesieë voorspel word, bewaarheid word. Maar Paasnaweek en die gebeure rondom die kruisiging van Jesus, is ook die tyd waar ons as Christene se geloof, tot op die been getoets word. Daarom vra ek die vraag: wat van hierdie gebeure glo ons regtig? Joh 1 : 9 - 12 "Almal wat Hom aangeneem het, die wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word". Hoor mooi wat daar staan. "Die wat in Hom glo". Klink amper te goed om waar te wees. Daar is 'n paar tipes geloof: hoe mense glo, en wat hulle glo. Ons kan praat van 'n oorhoofse geloof in 'n Godheid. Die geloof dat daar een of ander goddelike figuur mag bestaan. Dit is per definisie die teenpool van ateïsme. Glo in God, of 'n god. My vraag is: Is dit goed genoeg volgens Joh 1 : 12? Kan hierdie geloof ons red? Is dit aanvaarbaar om ons by 'n punt te bring wat sê "Ek is 'n kind van God"? Hierdie tipe geloof is nie moeilik nie, want dit vra niks van my nie. Geen reaksie, geen aksie, niks. Hierdie is ook 'n natuurlike geloof, want elke wese op aarde soek outomaties na 'n opperwese. Hierdie tipe geloof maak ook dat hierdie "gelowiges" maklik die gedagte aan 'n godheid akkommodeer - maar ook maar net dit. Daar is onder hierdie groepering selfs mense wat sal glo dat daar net een God is. Jak 2 : 19 "Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die duiwels glo dit ook, en hulle sidder van angs". Hierdie tipe geloof red nie!! Daar is 'n volgende groepering. Iets wat my laat sidder tot in my binneste. En ek hoor Sondagoggend hoe hierdie mense praat oor wat hulle glo. En hulle is teoloë. Die Bybel word gebruik en om een of ander rede word dit selfs as die riglyne vir die lewe gebruik. Jesus word aangehaal, soms, en die feit dat Hy geleef het, word erken. Daar word gesê daar was so 'n persoon, maar die feit dat Hy hier op aarde was, is bloot van akademiese belang. Ongelukkig word die kern van die Evangelie bevraagteken. Kom ek vra net gou so tussendeur die vraag: As hierdie gebeure nie bonatuurlik was nie, het ek nie bonatuurlike geloof nodig nie. Is hierdie Bybel wat ons lees nie vol van bonatuurlike dinge nie? Is ons God nie 'n bonatuurlike God nie? Ek kom terug na hierdie tipe geloof, wat sê daar was dalk 'n Jesus, en ja, Hy was selfs gekruisig. Maklik om dit te glo. Kruisiging was immers algemeen in Jesus se tyd. Maar daar was nie 'n opstanding nie, nie 'n hemelvaart nie, ook nie 'n Adam, Eva, paradys, hemel of hel nie. Want dit maak nie sin nie. 1 Kor 2 : 14 "Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit Geestelik beoordeel moet word". Nou ja, sonder die Gees van God, kan ek nie bonatuurlik glo nie. Daar is nog 'n tipe geloof. Een wat sê, ek glo in God, een God, en in Jesus Christus. Ja, selfs dat Hy die Saligmaker is. Luk 13 : 23 - 28 Dit lyk vir my, hierdie geloof kan nie so goedkoop wees soos om net te sê, "Ek glo" nie. Die vergelykende deel in Matt 7 sê "Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree." Dit is dus vir my duidelik, dat om te glo dat daar 'n God is, nie goed genoeg is nie. Want daar staan dat die duiwels ook glo, en daar kan tog nie duiwels in die hemel wees nie. Die hemel is die Heilige plek waar ons saam met God gaan woon, die Nuwe Jerusalem. En die tweede tipe geloof, wat selfs die Bybel gedeeltelik aanvaar, lyk vir my eintlik nog erger. Want jy sien, ons kan die Bybel so maklik misbruik tot ons eie voordeel. En die Here sê niks kan tot sy Woord toegevoeg, of weggelaat word nie. Dis alles, of niks. Ek wil eintlik sê, hierdie mense moet liewer hulle Bybels vir iemand anders skenk. En die derde tipe geloof wat selfs tot by Jesus kom, is dalk die ergste. Om voor Jesus te staan, Hom aan te roep, en dan weggejaag te word soos 'n hond. Wat 'n teleurstelling, so naby maar tog so ver. As dit dan lyk of hierdie drie tipes van geloof nie red nie, wat is dan goed genoeg? Die toets is eenvoudig. Om net te glo tot en met Jesus se bestaan, werk nie. Maar ons is pas verby paasnaweek. Sondag het ons Jesus se opstanding herdenk. En oor 'n paar weke kom ons by hemelvaart. Om dit te kan glo, verg bonatuurlike geloof!! Meer as wat 'n mens se verstand kan of wil aanvaar. Sover, dat sommige sê dis onsin. Hebr 11 : 1 "Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie." Hoe kan ek bonatuurlik glo? Net op een manier. En dis om 'n ontmoeting met die opgestane Jesus te hê. Soos Paulus op pad na Damaskus. (sien Hand 9)! As Hy vra, "Wie is U, Here?" , dan antwoord die Here antwoord hom: "Ek is Jesus". Ek is Jesus!! Hoe op aarde sou Jesus dit kon sê as Hy nie opgestaan het nie. Hoekom skryf Paulus die meeste boeke van die Nuwe Testament, as hy nie vir Jesus sou gesien het nie. Paulus het bonatuurlike geloof gehad, omdat hy 'n ontmoeting met Jesus gehad het. Iemand sê eendag vir Billy Graham, "Jesus is dood". En Billy antwoord, "Onmoontlik, ek het netnou nog met Hom gepraat." Jesus, die opgestane Here, gee vir my en jou bonatuurlike geloof, as ons 'n bonatuurlike ontmoeting met Hom het. Dan is dit so maklik om hierdie bonatuurlike dinge te glo. Want dan het ons die Gees van God. Dan is hierdie dinge nie meer onsin nie, maar ons hoop, ons krag, en bo alles, ons toekoms. Jesus se koms na die aarde, Sy kruisdood, Sy opstanding en Sy hemelvaart, is die kern van die Evangelie. Geloof is alles, of niks. Die hele Bybel, of geen Bybel nie. Heeltemal gered, nie amper gered nie.
|