|
GOD
IS IN BEHEER
Die rustyd lê agter ons. Hierdie
tyd waar die meeste van ons maar so bietjie kon terugsit en net afskakel
van alles. Februarie het aangebreek en die trein ry weer volstoom, en saam
met dit kom weer die gewone daaglikse bekommernisse. En ons moet bo bly.
Maar kom ons wees maar eerlik met mekaar, tye raak sekerlik moeiliker, ons
dink terug aan vroëer dae en sê so maklik:- ai, was dit maar nog die
goeie ou dae. Ek dink ons almal voel maar dat die druk vandag groter is as
ooit tevore, en min mense sien regtig lig in die tonnel.
Nou ja, 20 jaar terug was ons baie
ongemaklik met die regering van die dag, en nou verlang ons terug daarna.
Jy sien, die fout wat ons net maak, is dat dit niks nuut is nie. Daar
staan in Prediker, "daar is niks nuut nie, alles wat is, was
reeds gewees." Alles wat nou gebeur, het al vroëer gebeur. Ons word
vasgevang in omstandighede en verlang terug na die verlede, maar eintlik
is dit nie regtig die rede hoekom ons voel soos ons voel nie. Die rede vir
hoe ons voel, is meer te wyte aan die feit dat die gemiddelde persoon nie
hou van verandering nie. Dit bring onsekerheid.
Klaagliedere 5.
1 Slaan tog ag op wat oor ons gekom het, Here, kyk tog en sien self hoe
ons verneder is.
2 Ons besittings is gevat en aan vreemdes gegee, ons huise aan uitlanders.
3 Ons het weeskinders geword, daar is nie vaders nie, ons moeders is soos
weduwees.
4 Ons moet ons eie drinkwater koop, vir ons eie hout moet ons betaal.
5 Ons word gedryf deur ons oorheersers, ons is uitgeput, ons word geen rus
gegun nie.
6 Ons het ons hande uitgesteek na Egipte en na Assirië om by hulle kos te
bedel.
7 Ons vaders het gesondig, maar hulle is nie meer daar nie, ons word
gestraf vir hulle sondes.
8 Ondergeskiktes heers nou oor ons, en niemand kan ons uit hulle mag red
nie.
9 Met lewensgevaar moet ons vir ons gaan kos haal, want in die veld word
ons doodgemaak.
10 Ons vel verskrompel soos iets in 'n oond vanweë die verterende honger.
11 Vrouens is in Sion verkrag, en jong meisies in die stede van Juda.
12 Leiers is gevat en opgehang, oumense word met minagting behandel.
13 Jongmanne word gedwing om maalwerk te doen, jong seuns struikel onder
vragte hout.
14 Die oumense sit nie meer in die poorte van die stad nie en die
jongmanne maak nie meer daar musiek nie.
15 Vrolikheid het uit ons lewe verdwyn, ons koordanse het plek gemaak vir
rou.
16 Ons het ons aansien verloor, daar het ellende oor ons gekom, want ons
het sonde gedoen!
17 Dit is die rede vir ons droefheid, vir die swart kringe om ons oë:
18 Sionsberg lê so verlate, die jakkalse loop daar rond.
19 Maar Ú, Here, U heers vir altyd, u troon staan vas van geslag tot
geslag.
20 Waarom sou U ons dan bly vergeet, ons vir altyd verlaat?
21 Bekeer U ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees, gee ons weer die
bestaan van vroeër.
22 Of het U ons heeltemal verwerp? Is u toorn oor ons so groot?
Klink dit nie vir jou bekend nie?
Klaagliedere 5 het regtig vir my
gewys dat die verlede homself herhaal. Ek wonder egter soms of dit wel die
geval is. Raak dinge al hoe slegter en slegter? Of kom daar beter tye
tussenin. Wel, die vraag is, is dit regtig so sleg, of is dit net hoe ons
reageer op omstandighede. En nog 'n groter vraag is: Waar is die Here in
hierdie prentjie? Wel, die antwoord op laasgenoemde vraag is eenvoudig.
"Die Here is steeds op Sy troon, en Hy heers nog steeds oor die
heelal, en Hy is nog steeds ten volle in beheer, en Hy het nog steeds nie
vir my en jou vergeet nie."
Die Bybel is so vol beloftes!! Daar
word meer gesê in die Bybel dat God jou sal beskerm in moeilike
omstandighede, as teen moeilike omstandighede. En al verstaan ons dit nie
altyd nie, is God ook in beheer ten spyte van slegte dinge wat op jou pad
kom. Jy sien, ek dink nie ons omstandighede is die slegste in die wêreld
nie, inteendeel. Die Here vra vir ons om roekeloos op Hom te vertrou.
Klaagliedere 3 : 31 - 33
31 Die Here verstoot 'n mens nie vir altyd nie;
32 as Hy beproewing oor 'n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy
liefde is groot:
33 dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.
Al is jou situasie vandag baie
sleg, ek vertrou op 'n God wat jou omstandighede in 'n oogwink kan
verander. En ek ken baie mense wat daarvan kan getuig. Ken jy nie ook baie
mense wat uit die gutters opgestaan het nie? Ten spyte van hulle verlede,
trauma, ramp, siekte. Niks is buite God se beheer nie, al tree ons so
dikwels buite sy wil op.
Ek glo dat baie omstandighede
dramaties kan verander met 'n positiewe ingesteldheid. Ja, 'n ander
ingesteldheid kan berge versit. Met hierdie stelling probeer ek nie sê
dat ons maar so kop-in-die-sand houding soos 'n volstruis moet aanneem
nie. Nee, ek praat van vertroue op die Here.
Ps 118
1 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!
2 Israel moet getuig: "Aan sy liefde is daar geen einde nie."
3 Die huis van Aäron moet getuig: "Aan sy liefde is daar geen einde
nie."
4 Dié wat die Here dien, moet getuig: "Aan sy liefde is daar geen
einde nie."
5 In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en
my bevry.
6 Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan 'n mens aan my doen?
7 Die Here is by my, Hy help my: ek sal neerkyk op dié wat my haat.
8 Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou.
9 Om by die Here te skuil, is beter as om op hoë mense te vertrou.
10 Nasies het van alle kante af op my afgestorm. In die Naam van die Here
het ek hulle aanval afgeslaan.
11 Hulle het my omsingel, my van alle kante bestorm. In die Naam van die
Here het ek hulle aanval afgeslaan.
12 Hulle het soos bye om my gepak, maar hulle het verdwyn soos doringtakke
in 'n vuur. In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan.
13 My vyande wou my platloop en my ondergang bewerk, maar die Here het my
gehelp.
14 Die Here is my krag en my beskerming. Dit is Hy wat my gered het!
15 Hoor die gejuig in die laer van die oorwinnaars: "Die Here doen
kragtige dade,
16 die Here triomfeer, die Here doen kragtige dade!"
17 Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig.
18 Die Here het my swaar gekasty, maar my nie aan die dood oorgegee nie.
19 Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof.
20 Dit is die poort na die Here toe; regverdiges mag daardeur ingaan.
21 Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor en my gered het.
22 Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste
klip in die gebou geword.
23 Dit is deur die Here gedoen en is 'n wonder in ons oë!
24 Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly
wees.
25 Red tog, Here, gee tog voorspoed, Here!
26 Prys hom wat in die Naam van die Here kom! Ons seën julle uit die huis
van die Here.
27 Die Here is God; Hy skenk ons die lewe. Begin die fees! Wuif met takke!
Gaan tot by die horings van die altaar.
28 U is my God, U wil ek loof; my God, u grootheid wil ek besing.
29 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.
Aan Sy liefde is daar geen einde
nie. Wat moet die Here nog doen om vir ons te wys dat Hy in beheer is.
Hoeveel mense moet nog wonderbaarlik genees, hoeveel seëninge moet nog op
ons pad kom voor ons gaan begin rustig raak oor omstandighede?
Vers 27 "Die Here is God,
Hy skenk ons die lewe. Begin die fees! Wuif met takke! Gaan tot by die
horings van die altaar."
Hoe ongelooflik beeld die
Psalmskrywer nie hier iets uit van vertroue nie. Jy sien, in een Psalm vra
hy vir uitkoms, en dan dank Hy die Here in dieselfde asem.
Die Here vra van ons volgehoue
vertroue, ten spyte van wat ookal. En Hy is daar, ten spyte van wat ookal.
As jy wil kyk na mense wat dit regtig sleg gehad het, lees net die Bybel.
En as jy bewyse soek van wonderwerke ten spyte van baie slegte situasies,
kyk net om jou. En lees van Job. Ons God is 'n God van uitkomste, Hy het
medelye met ons, en Hy wys vir ons die pad.
Job 41 : 1 - 2
1 Hy is wreed as jy hom wakker maak. "Wie wil dan nog teen Mý
standhou?
2 Wie wil aan My eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder
die hemel behoort aan My
Dit is ons God, Hy hoef nie iets
aan ons te verduidelik nie. Hy is soewerein. Maar Hy is ook 'n God van
liefde.
Kom ons hou net aan Hom vas vir
uitkomste.
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|