|
|
|
GOD PRAAT - HOOR JY DIT? 25 Mei 2011 Het jy al God se stem gehoor? Het jy al ervaar dat God met jou praat? Om vir jou 'n spesifieke woord, of opdrag, of 'n woord van bemoediging te gee? Ek is seker dat ons almal sekerlik op een of ander manier God se stem gehoor het. En ek is seker ons almal smag daarna dat die Here spesifiek met ons praat. Wel, dit gebeur, en dis reg so. God praat met Sy kinders. Op verskillende maniere. Baie mense smag daarna om God se stem te hoor, daarom lees hulle geestelike boeke, luister na geestelike programme, ens. Ek het bietjie op die internet gesoek na artikels oor hoe om God se stem te hoor. Daar is baie mense wat probeer voorskryf "hoe"; ek het selfs een gevind wat sê: "three steps to hear God's voice - guaranteed".... en dan moet jy betaal om dié drie stappe uit te vind! Ek wil eers vir jou 'n paar vrae vra:- "Hoekom wil jy God se stem hoor? Wat wil jy hoor? Wat moet Hy vir jou sê? Waaroor moet Hy met jou praat? Wat is ek en jy bereid om te doen met dit wat Hy vir ons wil sê?" Ongelukkig is dit so dat ons soms net wil hoor wat ons pas. En nog meer, soms soek ons so 'n bietjie toekomsvoorspelling sodat die Here vir ons kan vertel dat daar lekker voorspoed wag, en dalk op die koop toe so 'n bietjie finansieële gewin. Dan gaan klop mense sommer maklik by sogenaamde profete aan. Jer 23 : 16 - 17 Moeilike een dié. Oppas, baie mense vertel maklik stories wat hulle self opdis. Alles wat mense sê, kom nie noodwendig van die Here af nie. As iemand iets in die Naam van die Here sê, vra eers "Sê wie?" Hoe kan ons die stem van die Here hoor? Kom ons kyk so bietjie terug in die geskiedenis hoe God met Moses gepraat het. Eks 3 : 1 - 6 'n Baie baie spesiale en gewyde oomblik toe God met Moses praat. Stem jy saam dat dit 'n baie besondere en heilige oomblik was? Nie sommer so in die 'stride' nie? As ons die Here se stem wil hoor, kan ons verwag dat God met ons moet praat soos met Moses? Kom ons ontleed dit so bietjie:- 1. God praat op Sy tyd, Sy metode en Sy terme met
Moses. Hy het besluit wanneer Hy met Moses gaan praat. Dit is God se
inisiatief, en Sy besluit. Kan ons vandag God se stem hoor? Ja, verseker! Ek vra net: Is jy bereid om God se opdragte uit te voer wat Hy aan jou openbaar? Het die woorde: "En toe sê die Here vir my", nie dalk so bietjie goedkoop geword nie? Ons hoor dit deesdae nogal baie. Klink nogal goed en spesiaal. Maar kom dit regtig van die Here af? My vriend, moet nooit die Here aanhaal vir iets wat Hy nie gesê het nie! Hoe hoor ons Sy stem? · Soms in 'n gedagte wat by jou opkom wat maar net
nie wil weggaan nie. En soms word dit op verskeie maniere bevestig. Hoe praat Hy deur Sy Woord? Wel, jy moet dit lees. Die grootste geheim! Iemand sê eendag vir 'n ds: "Ek staan op die Woord". Toe sê die ds: "Klim af en lees dit". Probeer bietjie hierdie:- Neem in jou stiltetyd 'n gedeelte in die Bybel. Nie 'n lang stuk soos 'n hoofstuk nie, net 'n paar verse. Lees die stuk so drie keer stadig deur, sonder om dit te probeer verklaar, of selfs om die presiese konteks te verstaan. Neem dan 'n pen en 'n notaboek en vra jouself die vraag:- Wat wil die Here VANDAG vir MY deur hierdie gedeelte sê. Begin om die gedagtes wat in jou kop opkom neer te skryf. Lees die stuk weer, bid dat die Here vir jou dit sal oopbreek, en wees bereid om alles te doen wat God dalk vir jou mag sê. Skryf in ek-taal, bv die Here vra vandag vir my of ek Hom waarlik liefhet. Gaan lees dan agerna 'n paar keer wat jy geskryf het. Jy gaan nogal verstom staan hoe die Here met jou praat. Jy sien, die Here praat op baie
maniere met mense, maar ons moet soms gaan toets of dit regtig Sy stem is
wat ons gehoor het. Hoe weet ek dit is God se stem? Toets dit aan die
woord, God sal nooit iets sê wat in stryd is met Sy Woord nie. As dit jou
lei in 'n dieper verhouding met Hom, na meer liefde vir Hom en vir ander
dan is dit Sy stem. As dit jou hart sagter maak vir ander, en nie net oor
jou eie belange en welstand gaan nie, is dit Sy stem.
|