|
GOD
SE OPPERMAGTIGHEID
Wat is die mens dat God aan Hom
dink? Hoe gaan ons met die Here om? Hoe sien ons die Here? Dink jouself in
hierdie prentjie in:- Jy staan voor die troon van die oppermagtige God.
Wat sien jy? Hoe lyk God se gestalte? Is Hy so groot soos 'n gemiddelde
mens? Lyk Hy soos 'n mens? Is Sy gestalte soos die van 'n reusagtige man?
Ons weet nie!! Die vraag is:- "Hoe gaan ons met Hom om? Hoe praat ons
met Hom, en hoe praat ons van Hom?" Ek dink nie ons besef altyd met
wie ons te doen het nie. Partykeer praat ons van God, en met God, asof Hy
op ons vlak opereer. En partykeer bevraagteken ons Sy mag en gesag, en
vergeet dat Hy 'n soewereine God is. Soms neem God 'n besluit wat teen ons
sin is, dan wil ons Hom as't ware aankla, en in 'n hoek druk, sonder om te
besef met wie ons te doen het. Dan kom Hy in Job 38 en sit vir Job (en ook
vir jou en my) so bietjie op ons plek.
Job 38 : 1 - 11
1 Toe het die Here vir Job aangespreek uit 'n stormwind uit:
2 Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat
getuig dat hy geen insig het nie?
3 Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My.
4 Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die
antwoord het.
5 Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het 'n maatlyn oor hom
gespan?
6 Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom aanmekaargesit
7 daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel
het?
8 Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel het?
9 Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak.
10 Ek het vir hom perke gestel, hom agter slot en grendel gesit.
11 Ek het gesê: "Tot hiertoe mag jy kom, nie verder nie; hier is die
grens van jou magtige golwe."
Kan jy 'n antwoord gee op enige van
hierdie vrae?
Wie is Hy? Hy is nie 'n mens nie.
Wie is Hy?
Die oppermagtige God. Ek dink nie
ons besef dat God die eienaar van alles en almal is nie. En dat Hy ons
eintlik absoluut niks verskuldig is nie. Nie 'n antwoord nie, of 'n
verduideliking nie. Niks.
Ps 96 : 4 "Die Here is
groot, al die lof kom Hom toe, Hy moet gevrees word bo alle gode".
Kan jy sien wat hierdie vrees
beteken? Kan ons opstaan teen God?
Kan ons enigiets skep soos God dit
gedoen het? Kan ek en jy selfs 'n klip maak? Ons kan dalk iets met 'n klip
maak, maar die grondstowwe het Hy gemaak. Ons kan nie eers aand en more
be-invloed nie.
Job 38 : 12 - 20
12 Het jy, Job, in jou tyd die môre beveel om te kom? Weet jy waar die
daeraad vandaan kom,
13 die daeraad wat lig oor die hele aarde bring sodat die goddeloses nie
in die donker kan bly skuil nie?
14 Met die daeraad word die vorm van die aarde sigbaar, dit neem vorm aan
soos klere wat aangetrek word.
15 Dan word die goddeloses hulle bestaan ontneem en word hulle geweld
beëindig.
16 Het jy, Job, al gekom by die plek waar die seewater uitborrel, en
rondgestap op die bodem van die diepsee?
17 Het jy die ingang van die doderyk gesien, die plek van donkerte al
bekyk?
18 Kan jy 'n beeld vorm van die groot wye wêreld? Praat as jy iets
daarvan weet.
19 Hoe loop die pad na die plek waar die lig woon? En die donkerte, waar
is sy woonplek?
20 Kan jy die donkerte na sy gebied toe terugvat? Ken jy die paaie na sy
woongebied toe?
God, die Skepper van tyd, van lig
en donker. Ons kan sien omdat God lig gemaak het. Ons kan slaap omdat Hy
donker gemaak het. Alles in perfekte harmonie, met volmaakte ritme,
doelgemaak sodat die mens kan lewe, en 'n bestaan kan maak. Wetenskaplikes
glo dat lewe op aarde afhanklik is van die makrokosmos in sy totaliteit.
Deur God geskep, sodat ons kan leef. En laat leef. Wie is Hy? Wat is die
mens dat Hy aan ons dink?
Wie is God? Die Versorger, die
liefdevolle Vader. Die Oppermagtige. En soos Hy Homself beskryf:- "Ek
is".
Hy is God van die natuur. Die Een
wat vir die diere in die natuur sorg.
Job 39 : 1 - 11
1 Kan jy vir 'n leeu sy prooi vang? Kan jy vir hom genoeg gee om te eet
2 wanneer hy in sy skuilplek gereed lê, op die loer lê agter 'n bos?
3 Wie gee vir 'n kraai die kos wat hy nodig het wanneer sy kleintjies om
hulp roep na God, rondskarrel vir iets om te eet?
4 Ken jy die tyd wanneer die klipspringers lam? Staan jy en kyk waar die
wildsbokke kleintjies kry?
5 Kan jy vir hulle die draagtyd bepaal, weet jy presies wanneer hulle moet
lam?
6 Hulle trek inmekaar, die bokkies word gebore, die geboortepyne is gou
verby.
7 Die lammers groei en word groot in die veld, hulle gaan weg en kom nie
na die ooie toe terug nie.
8 Wie gee aan die wildedonkie sy vryheid en laat hom ongebonde vryloop?
9 Ek het vir hom die oop veld gegee om in te bly die brakbossies om in te
wei.
10 Hy bekommer hom nie oor die gewoel in die stad nie, hy hoef nie te
luister na die geskreeu van 'n drywer nie.
11 Hy deurkruis die berge vir weiding, hy snuffel elke groen sprietjie
uit.
God sorg vir die wat nie eers
daarvoor vra nie. Want hulle kan nie. Dit is ons God. Die een wat Hom oor
Sy hele skepping ontferm. Almal!! Hy hou die ekologie in stand, sodat lewe
vir almal moontlik is. Kan ek en jy dit doen? Is ons nie maar 'n bietjie
beperk in ons vermoëns nie? Slaan ons onsself nie bietjie te hoog aan
nie? Probeer ons nie soms om voor Hom te gaan staan, en hakke in te kap
nie?
Job 39 : 34 - 35
34 Die Here het verder vir Job gesê:
35 Wil jy 'n saak maak teen die Almagtige en Hom bestraf? Wil jy vir God
teregwys? Antwoord Hom dan!
Kan ons 'n saak teen God maak? By
wie kan ons Hom gaan aankla? 'n Miertjie het nie mag oor jou nie, net so
het ons nie mag oor God nie. Miskien moet ons dan maar soos Job sê:-
Job 39 : 36 -38
36 Job het toe vir die Here gesê:
37 Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon antwoord? Ek sal
liewer stilbly.
38 Ek het gepraat, maar ek kon nie 'n antwoord vind nie, ek het weer
geprobeer, maar nou sal ek stilbly.
Nou sal ek stilbly. Nou sal ek my
afhanklikheid aan U erken.
Wat is die mens dat God aan Hom
dink?
Jes 43 : 1 - 7
1 Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm
het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam
geroep, jy is Myne.
2 As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou
nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie,
3 want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee
Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek.
4 Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek
mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.
5 Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek bring jou kinders van die ooste
af, Ek maak hulle bymekaar van die weste af,
6 Ek sê vir die noorde: Gee! vir die suide: Moet hulle nie terughou nie!
Bring my seuns van ver af, my dogters van die uithoeke van die aarde af,
7 elkeen wat na my Naam genoem word, elkeen wat Ek geskep het tot my eer,
wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het.
Dis wie God is!! Die groot
almagtige, oppermagtige God, wat vir jou en my onbeskryflik lief is.
Die Een wat elke dag aan ons dink.
Selfs al gaan dit sleg. Die Een wat dààr is in moeilike tye, wat vanaf
Sy troon na ons toe afbuk en ons by die hand vat. Dit is Hy wat sê
"Ek het jou by die naam geroep, jy is myne!!"
Glo jy dit? In moeilike tye, kan
ons Hom tot 'n verduideliking oproep? Of moet ons sê "Hy is groot
genoeg om my te red!! Om my by te staan in my probleme!!"
Hierdie oppermagtige God, is 'n God
van liefde.
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|