|
GOD
SE WAGKAMER – 15 April 2009
Kitskos,
internet, selfone, goeie diens, ADSL, turbo’s, eie motor, verkeersligte,
outo-tellers, elektroniese transaksies ….. hierdie goed het almal iets
met mekaar in gemeen; iets wat ons as baie kosbaar beskou; iets wat ons
almal gewoonlik te min van het ….. tyd! ‘n Belangrike komponent van
tyd is om te wag. Kan jy nog wag? Of is jy so ongeduldig soos ek? Dink jy
dalk ook wag is tydmors? Ek onthou hoedat ek in my kinderdae vir ‘n uur
na skool gewag het vir die bus, hoedat ons altyd gewag het vir ‘n bus om
stad toe te gaan, hoe ek in die weermag gewag het vir ‘n brief; of hoe
ek al gewag het vir ‘n tjek, gewag het vir vars broodrolletjies by die
kafee, wag vir Ma om huis toe te kom …. Wag, wag, wag. Vandag dink ek
tyd het ons ingehaal – hoe meer tegnologie ontwikkel word om vir ons
meer tyd te gee, hoe minder tyd het ons, en hoe haastiger word ons. Ons word
meer en meer ongeduldig en ons kan glad nie meer wag nie. Nou kan ons dit
nie verdra as iemand voor ons ry en by die snelheidsgrens hou nie, of ‘n
oomblik te laat wegtrek nadat die lig al groen geword het. Hoe het ons nie
tou gestaan in die weermag nie? Tou gestaan vir kos, vir mediese sorg, vir
toerusting, en ja, selfs vir die badkamer. Maar nou voel dit vir my
niemand kan meer wag nie – en nog meer … ons kan nie meer vir die Here
wag nie. Ons wil hê die Here moet net so vinnig reageer soos die mense
waar ek my hamburger by die deurry-restaurant bestel. Jy sien, jou deurry-restaurant kan jou hamburger in sekondes
aanmekaar sit – maar dan moet JY die ding eet!!! Kan jy wag op die Here
terwyl Hy miskien laaank neem om die perfekte situasie vir jou voor te
berei?
As iemand by jou
huis aankom, en die deurklokkie lui, dan staan hy daar en wag totdat jy
kom oopmaak. As hy sien niks gebeur nie, dan sal hy weer lui. My worshond
maak ook so: krap-krap aan die deur as sy wil inkom. As sy sien niemand
reageer nie, dan sal sy weer so krap-krap en wag en luister of daar
reaksie is. Ek het ook al bedorwe brakkies gesien met geen geduld nie –
as hulle krap, verwag hulle onmiddellike reaksie, anders sal hulle verwoed
krap en tjank totdat hulle in is! Nou kry mens mos soms besoekers wat ook
dink hulle is snaaks, en dan lui hulle die klokkie aanhoudend …
ding-dong-ding-dong-ding-dong-ding-dong! Ek dink baie van ons ding-dong
ook so in die Here se ore, omdat ons geen geduld het om te wag totdat Hy
op ons geroep antwoord nie.
God se wagkamer
volgens Ps 130:
Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister
tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep.As U ons sondes in aanmerking sou
neem, Here, wie sou dan nog bestaan? Maar by U ís daar vergifnis: daarom
word U steeds gedien. Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die
wagte op die môre wag, wagte op die môre. Wag
op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die
verlossing seker. Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes.
“Uit die
dieptes roep ek na U, Here!” So skryf die Psalmdigter. En dan sê hy:
“WAG”. Jy sien, vandag se kitswêreld het gemaak dat ons nie meer vir
die Here wil wag nie.
Kom ons kyk saam
na drie vrae:
1)
Hoekom is dit nodig om te wag?
2)
Kan jy vertrou terwyl jy wag?
3)
Wat doen jy terwyl jy wag?
Eerste vraag:
Hoekom is dit nodig om te wag?
Ek weet nie of ek
die rede kan gee hoekom die Here ons soms laat wag nie, maar ek kan
terugkyk op my lewe en die Here prys vir die goed waarvoor ek moes wag.
Byvoorbeeld: my kind se geboorte. Ons moes nogal lank wag, en ‘n rukkie
geduldig gewees het, voordat ons swanger kon raak met hom – maar dit was
die wag werd! So moes ek ook lank wag vir ‘n ander werk, nadat ek my
werk verloor het. Hoewel die wag nie lekker was nie, het dit uiteindelik
wonderlike resultate opgelewer, en het ek vandag die beste
werksomstandighede.
Wag is nou maar
eenmaal nie maklik nie! Jy sien, as jy in die dokter se wagkamer sit, dink
jy soms hy het van jou vergeet. Intussen is jou lêer amper heelbo op die
hopie. En so ook met die Here – Hy IS besig met jou saak, hoewel jy kan
dink Hy het opgegee met jou situasie. Onthou: wanneer jy wag is jy
afhanklik van iemand anders se program! ‘n Wagkamer kan nogal ‘n
ongeduldige plek wees, tensy jy die kuns kan aanleer om daardie tyd nuttig
te gebruik. Miskien is dit juis die rede hoekom ons partykeer moet wag –
sodat ons kan leer om die wagtyd te benut!
Tweede vraag: Kan
jy vertrou terwyl jy wag?
Ps 33:20: “Ons
vertou op die Here, Hy is ons hulp en ons beskermer”.
Jy sien, as ons vir die Here iets vra, en Hy spring onmiddellik om ons
menslike behoeftes te bevredig, wat dink jy gaan van ons word? Bedorwe
brokke. Kom ons sê Hy doen dit altyd, wie is dan in beheer? Onsself.
Vertrou terwyl jy wag, beteken dat jy ophou om jou eie planne in werking
te forseer. As ons nie vertrou dat die Here beter weet nie, kan ons maar
net sowel die lewe sonder Hom aanpak. Ons bid so maklik: “Here,wys my
die pad deur die oop- en toemaak van deure” Maar more, as die deur nog
toe is, skop ons hom oop. En nog meer, as die Here nie vinnig genoeg
reageer nie, gaan raadpleeg ons sommer ander mense… en dan wil ons hê
daardie mense moet vir ons sê wat die Here vir ons wil sê. Intussen sê
die Here miskien net vir jou: “Wag. Ek het jou gebed gehoor. Maar wag!
Ek werk aan jou saak. Ek het nie opgegee nie”. Ek dink nie jy hoef
noodwendig 1000 mense op te lyn om saam te bid nie – onthou, jy is die
eerste lyn van gebed. Die Here verstaan beslis jou nood en jou situasie
– kan jy Hom vertrou terwyl jy wag?
Derde vraag: Wat
maak jy terwyl jy wag?
Wag is nie ‘n
passiewe affêre nie. Wat doen ons gewoonlik as ons moet wag? Ons kla! Kla
by onsself, kla by ander, en ja, kla selfs by die Here. Wat kan ek doen
terwyl ek wag?
- Leer.
Leer uit die situasie, leer by ander, leer jouself ken. Leer om te
verstaan dat wag karakter bou. Leer om die stilte te geniet.
- Gebruik
jou wagtyd om vir ander tot diens te wees. In die dokter se wagkamer
kan jy maklik vir jouself ‘n “pitty – party” aanmekaar slaan,
totdat daar iemand instap wat werklik in die nood is. Terwyl jy wag,
kyk om jou en sien dat jy nie alleen in God se wagkamer sit nie.
Gebruik daardie tyd om vir ander te vertel hoe gròòt God is, en nie
hoe stadig Hy is nie. Vertel vir ander dat jy opgewonde is oor die
uitkoms wat kom.
- Wagtyd
is soms stilword-tyd. Moenie 1000 versies gaan soek om te probeer
staaf dat jy die oplossing sien soos jy dit wil sien nie – so
probeer ons die Here manipuleer.
- Prys
die Here terwyl jy wag. En dit kan jy nét doen as jy op Hom kan
vertrou, en as jy op Sy tydsberekening kan vetrou. Onthou jy vir
Paulus en Silas in die tronk? Hulle is letterlik dik geslaan, en wag
vir ‘n vonnis. En wat doen Paulus? Hy sê: “Silas, vat die noot,
ons gaan nou sing”. Dink jy nie Paulus was ook bietjie haastig om
daar uit te kom nie? Hy het iets verstaan van tyd nuttig gebruik, ten
spyte van sy vrot omstandighede. Jy sien, as jy regtig die Here
vertrou, kan jy Sy lof besing terwyl jy wag, want dan het jy mos klaar
aanvaar dat Hy weet wat Hy doen – of hoe?
Waarvoor wag jy?
Daar is so baie dinge wat mense sou kon opnoem. Een ding kan jy egter
verseker weet: die beste goed gebeur met tyd. Goeie wyn vat tyd, ‘n
swangerskap vat 9 maande. Abraham het lánk gewag – en kyk die nageslag!
Die Israeliete het 40 jaar gewag – en kyk die land van melk en heuning!
Kan jy nog so
bietjie wag?
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|