|
GOD
SE WEERMAG
Ons het so 'n paar weke gelede
gepraat oor Satan en hoe hy vir Jesus in die woestyn versoek het. Vandag
praat ons so bietjie meer oor hom en sy werkswyses, sonder om nou te veel
aandag aan hom te gee. Ek dink egter dis nogal nodig om wel te besin oor
waar ons met hom staan. Aan die een kant kan ons sê dat Jesus hom klaar
oorwin het aan die kruis, hy is in elk geval uit die hemel uitgewerp, ons
hoef hom teoreties nie te vrees nie, maar tog ....
1 Petr 5 : 8 - 11
8 Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n
brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.
9 Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie:
dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding
verduur.
10 God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus
deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle 'n kort
tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig
maak.
11 Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.
Petrus kom en herinner ons net so
kortliks dat satan steeds in aksie is. En daarom praat ons vandag oor God
se weermag. Waarvan ons soldate is, deel van hierdie mag om die vyand op
sy plek te hou. Nou is die vraag egter - met die oog op die feit dat satan
oorwin is - wie is dan die vyand as ons God se weermag is.
Ek het 'n paar mense gevra wat
hulle mening hieroor is, en die volgende punte vat alles so min of meer
saam:
1. Satan - uit die aard van die
saak. Die Bybel sê, ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen
die bose magte in die lug. Verder
2. teen alles en almal wat teen Christus opstaan.
3. Die wêreld met sy ongeregtigheid.
4. Baie interessante mening van iemand was, soms is onsself ons eie vyand.
My nogal laat dink. Eendag het iemand gesê "Die Christene is nogal
'n eienaardige weermag - ons skiet ons eie soldate. Skinder, verneuk,
swartsmeer, ondergrawe, ens.
Wat sê jy - wie is die vyand?
Ons is God se weermag. Hoe lyk 'n
weermag? Nou ja, as jy om 'n braaivleisvuur begin gesels, kom die gesprek
sommer gou by diensplig uit. Hoe weet jy iemand was in die weermag? Hy
vertel dit vir jou - sonder dat jy hom gevra het. Ja - ek was ook daar.
Twee jaar. 'n Goeie weermag dek alle fronte. See, land en lug. Want jy wil
seker maak dat die vyand jou nie verras nie. En jy konsentreer die hardste
op die plek waar jy die kwesbaarste is. 'n Land sonder 'n kuslyn hoef nie
te veel daaroor bekommerd te wees nie. Net so moet ons as God se weermag
alle fronte dek. Hierdie is nogal moeilik, want die vyand kom slaan ons
daar waar ons dit die minste verwag. En daarom moet ons die vyand ken,
meer daaroor netnou. 'n Goeie weermag het 'n goeie bevelstruktuur, wat
gesag afdwing. God is die hoogste gesag, en as ons nie onsself ten volle
aan hierdie gesag onderwerp nie, is ons soos 'n weermag sonder 'n
bevelvoerder.
'n Goeie weermag het goeie wapens,
en ken sy slaankrag, en weet voor die tyd of hy 'n goeie kans het. Nou ja,
ons kan sê ons het nie 'n probleem nie, want Gideon het met 300 ouens 'n
groot stryd gewen, maar dis nie altyd so maklik nie. Ons grootste wapen is
die Woord van God - die Bybel - maar hoe goed ken ons dit? En hoeveel lees
ons dit? Stefan Joubert sê, 'n vrou sê eendag vir hom: Ds, ek staan op
die Woord. Toe sê hy - klim eerder af en lees dit. 'n Goeie arsenaal
wapens beteken niks as dit in die stoor staan en stof opgaar nie.
Die belangrikste punt vir 'n
weermag is: Ken die vyand. Weet wie dit is.
1 Joh 2 : 18 - 27
18 Kinders, dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat daar 'n
antichris kom; en daar is nou reeds baie antichriste. Daaruit weet ons dat
dit die laaste uur is.
19 Hulle het wel uit ons geledere voortgekom, maar niemand van hulle was
ooit werklik een van ons nie, want as hulle werklik van ons was, sou hulle
by ons gebly het. Dit moes duidelik word dat geeneen van hulle werklik een
van ons is nie.
20 Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf, en julle ken almal die
waarheid.
21 Ek skrywe nie vir julle omdat julle nie die waarheid sou ken nie, maar
juis omdat julle dit ken en weet dat daar geen leuen uit die waarheid
voortkom nie.
22 Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus werklik
die Christus is nie? Hý is die antichris, hy wat nie die Vader en die
Seun wil erken nie.
23 Wie nie die Seun erken nie, verwerp ook die Vader; wie die Seun erken,
erken ook die Vader.
24 Wat julle betref, wat julle van die begin af gehoor het, moet in julle
bly. As wat julle van die begin af gehoor het, in julle bly, sal julle ook
in die Seun en in die Vader bly.
25 En dít is wat die Seun ons belowe het: die ewige lewe.
26 Dit het ek aan julle geskrywe oor die mense wat vir julle wil mislei.
27 Wat júlle egter betref, die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly in
julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie. Sy Gees
leer julle alles, en wat Hy julle leer, is die waarheid en geen leuen nie.
Ja, soos Hy julle geleer het, moet julle in die Seun bly.
Hy is die antichris. Nie net die
satan nie. Ook diè wat Jesus nie erken nie. Dis die vyand. En ja,
Christus het aan die kruis gesterf en die satan is oorwin, maar net vir
diè wat in Christus is. Wat is sy taktiek?
1. Teeninligting. In die weermag
kry jy afdelings wat spesialiseer in teeninligting. Jy gee die verkeerde
inligting so deur dat die vyand dit so half per ongeluk optel, en dan
gebruik jy dit teen hom. So kom die satan - en hy is 'n meester in
teeninligting. Sommer in die paradys kom hy en vertel vir Eva dat God nie
regtig ernstig was met sy opdragte nie. Vandag kom hy en oortuig ons dat
ons nie nodig het om goed te doen nie. Goeie dade. Want geloof is mos al
wat nodig is. Ja, dis waar, maar in dieselfde Bybel is 'n boek met die
naam Jakobus. En ons hoef nie by 'n geloofsgemeenskap in te skakel nie,
want kerk toe gaan red jou tog nie. Ag, en God is nie uniek nie, alle gode
is tog maar een. Dan misken ons mos nie die Here nie.
2. Gorilla oorlogvoering. Slaan en hardloop weg. Die duiwel is goed
daarin. Slaan ons kinders op maniere wat so onskuldig lyk. TV programme,
media, ens, ens.
3. Sonde is nie so erg nie, want wat is daar om te vergewe as ons nie
sonde doen nie. Nee jong, hierdie vyand is baie subtiel.
Hoe lyk die wapens van God se
weermag?
Efes 6 : 10 - 20
10 Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.
11 Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle
pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.
12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag,
teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees
in die lug.
13 Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle
weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die
einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.
14 Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle
heupe, die vryspraak deur God as borsharnas,
15 en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan
die voete.
16 Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee
sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer.
17 Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die
woord van God.
18 Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees.
Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.
19 Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die
geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak.
20 Ter wille van hierdie evangelie is ek 'n gesant in boeie. Bid dat ek
dit met vrymoedigheid kan verkondig soos dit my opgelê is.
1. Die gordel - die waarheid.
2. Die Borsharnas - God se vryspraak
3. Skoene - Die Evangelie verkondig!!!!
4. Skild - Die geloof, brandpyle afweer.
5. Helm - Die verlossing van Jesus
6. Swaard - Die Woord van God. NB: Die Bybel bo-oor alles, biddend. Om ten
alle tye in kommunikasie met die bevelstruktuur te wees.
Ons kan nie ten volle toegerus wees
as al hierdie elemente van ons wapenrusting nie in plek is nie.
Ps 18 : 30
"Met U hulp loop ek 'n oormag storm, met my God by my is geen
stadsmuur vir my te hoog nie"
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|