|
|
|
Het jy al
verdwaal? So verdwaal dat jy eintlik “home sick” word? Só dat jy nie
‘n idee het of jy selfs in die regte rigting ry nie? Nou, ek is goed met
verdwaal … vra my gesin. Eendag was ons oppad na ‘n begrafnis toe –
ons het nooit daar uitgekom nie! En ten spyte daarvan dat ek in die
weermag ‘n opmeter was, wat kaarte gesit, geët, geslaap en gedroom het,
het ek al só verdwaal MET ‘n padkaart, dat ek nie eers weet of ek die
ding regop of onderstebo moet hou nie. So kom die mens toe met tegnologie
te voorskyn om ons op die regte pad en regte rigting te hou: ‘n kompas,
‘n sextant op die see, sterrekunde, ens het die mens gehelp om te weet
waar hy is. En nog later – amper té laat – kom die skitterende GPS op
die mark. Wow!! Geseënd is jy as jy een het. 24 satteliete deur die VSA
in ‘n lae wentelbaan, ‘n klein instrument in jou motor, en voilà! Jy
weet waar jy is. Sit jou bestemming in die ding, luister na die antie se
stem en ry. Sommer blindelings. Het jy ook al gewonder hoekom dit ‘n
vrouestem is … seker omdat ons mans gewoond is dat ons vrouend die
“back-seat-drivers” in ons motors is (ha-ha!!). Daar is net een
voorwaarde as jy die vreemde aanpak met ‘n GPS: jy moet blindelings glo
wat die ding sê, doen wat dit sê en draai waar dit sê jy moet draai …
en glo my, daai antie ken elke hoek en draai. En … so kom die
Here en Hy gee vir ons ‘n GPS vir ons lewenspad: die Bybel. Nét soos in
‘n GPS is elke roete, afdraaipaadjie, waarskuwingsborde, ALLES, daarin
opgesluit. Terwyl ‘n GPS se kaarte gereeld opgedateer moet word, bly die
Bybel egter tyd-loos. Alles wat nodig is om die “ultimate” bestemming,
die hemel, te bereik, is hier vir jou opgeskryf. Gaan waar hierdie
rigtinggewer sê, en jy sal nooit verdwaal nie. Ja, jitte, party van ons
leef maar erg verdwaal, en op ons eie pad. .. weet nie waar ons vandaan
kom nie, weet nie waar ons is nie, weet nie waarheen ons gaan nie. Ps 119:97-112 U woord is die
lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. Die Here se GPS vir my en jou
lewe. Kan nie ‘n fout maak nie. Weet jy, hierdie padkaart is só
volledig, dit spreek elke fasset van jou lewenspad aan. Dit vertel jou hoe
om te maak as jy by die besigheidswêreld aanddoen, by jou huwelik,
kinderopvoeding, in jou verhoudinge, orals. En net soos ‘n GPS jou kan
waarksu oor “crime hot spots”, snelstrikke en ander gevaarlike
situasies, verduidelik die Here in Sy padkaart watter situasies jy moet
vermy, waar jy moet kyk vir rooiligte van die lewe. Hy waarsku oor drank,
verkeerde verhoudinge en tientalle dinge wat jou lewe kan versuur. Toe Hy
dit wat Hy in Sy Woord opgeteken wou hê aan mense geopenbaar het, het Hy
selfs toegelaat dat hulle die pad sleg byster raak, sodat hulle die GPS
met die nodige inligting kom programmeer – soos bv Dawid. Hoekom het ons
God se GPS nodig? Hoekom ploeter ons nie sommer net van dag tot dag voort
nie? Wel, as jy op pad is na nêrens, gaan jy beslis daar uitkom.
Definitief. Jy sien, die lewe is ‘n reis. Op geen oomblik van lewe is jy
al dáár nie. Waar is dáár, sal jy vra. Wel, dit is eenvoudig. Die
grootste deel van die Bybel gaan oor hoe jy dáár kan kom. Daar by jou
ewige woonplek. Dis nou die regte, goeie, lekker plek. Jy hoef nie slim of
geleerd of kundig te wees om dáár te kom nie – jy hoef net te doen wat
die GPS sê. As hy sê oppas vir ontugtige mense, oppas dan vir ontugtige
mense. As hy sê oppas vir drank, oppas dan vir drank. En ja, oppas selfs
vir geld, vir Mammon – moenie op jou lewensreis te veel by daardie bank
probeer aandoen nie. Dink net vir ‘n oomblik of die Bybel enige nut sal
hê as dit nie tot iets wonderliks en mooi sou lei nie. As dit nét oor
vandag gegaan het, en oor vandag se voorspoed en genietinge, kon ons net
sowel elke aand met ‘n soetsappige Mills & Boons bed toe gegaan het.
As die hiernamaals geensins in die prentjie was nie, kon ons God se GPS
maar weggooi. Ken jy die pad na die hemel toe? Verstaan jy die
instruksies? Glo jy die roetewyser? Die Here se GPS
is baie akkuraat, want die skrywers het die paaie geken. En hulle het ook
die eindbestemming geken. Nou ja, die 4X4 bosryers sou seker onder mekaar
kon armdruk oor watter GPS nou eintlik die beste is – sou dit nou ‘n
Garmin of ‘n Tom Tom wees? Party ouens sê, nee, ek verdwaal liewer voor
ek met daai ding ry! En so, ongelukkig, stoei baie mense dalk ook net té
veel oor watter Bybelvertaling ‘n mens moet gebruik. Oom Angus het dit
eendag mooi verduidelik. Hy het gesê jy moet dié vertaling gebruik
waarmee jy gemaklik is, wat jy mee kan vereenselwig en wat jou “taal”
praat – want God is groter as ‘n vertaling, en sal met jou praat uit
watter vertaling jy ookal lees. Dis ‘n maklike GPS – God se GPS – kinders kan dit ook verstaan, en hulle doen wat dit sê, terwyl party slim geleerdes daarmee sukkel. Die Here sê, vat dit soos dit is, en vertrou dit. Jy sien, met ‘n GPS hoor jy die stem wat sê ry so, en ry daar, maar die eienaar van die stem het waarskynlik nog nie 'n voet in SA gesit nie. Sy reageer net op die inhoud van die sagteware. Nét dit. Soms verdwaal ons bietjie in die lewe; ons loop verkeerde paaie. Ry jy met ‘n GPS, en jy doen nie wat die stem sê nie, hoor jy “herbereken” en dan vat die dingetjie jou weer op ‘n nuwe pad, maar steeds na die korrekte bestemming. Jes 30:21 “Wanneer
jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor wat sê
“Hier is die pad, loop hierlangs”. Soms ry jy met ‘n GPS en kom
by plekke wat net nie reg lyk nie – dan moet jy maar net vertrou en die
aanwysings volg – solank jy seker is jy het die regte adres van die
eindbestemming ingeprogrameer. Matt 7:13-14 |