GPS


Het jy al verdwaal? So verdwaal dat jy eintlik “home sick” word? Só dat jy nie ‘n idee het of jy selfs in die regte rigting ry nie? Nou, ek is goed met verdwaal … vra my gesin. Eendag was ons op pad na ‘n begrafnis toe – ons het nooit daar uitgekom nie! En ten spyte daarvan dat ek in die weermag ‘n opmeter was, wat kaarte gesit, geët, geslaap en gedroom het, het ek al só verdwaal MET ‘n padkaart, dat ek nie eers weet of ek die ding regop of onderstebo moet hou nie. So kom die mens toe met tegnologie te voorskyn om ons op die regte pad en regte rigting te hou: ‘n kompas, ‘n sextant op die see, sterrekunde, ens het die mens gehelp om te weet waar hy is. En nog later – amper té laat – kom die skitterende GPS op die mark. Wow!! Geseënd is jy as jy een het. 24 satelliete deur die VSA in ‘n lae wentelbaan, ‘n klein instrument in jou motor, en voilà! Jy weet waar jy is. Sit jou bestemming in die ding, luister na die antie se stem en ry. Sommer blindelings. Het jy ook al gewonder hoekom dit ‘n vrouestem is … seker omdat ons mans gewoond is dat ons vrouens die “back-seat-drivers” in ons motors is (ha-ha!!). Daar is net een voorwaarde as jy die vreemde aanpak met ‘n GPS: jy moet blindelings glo wat die ding sê, doen wat dit sê en draai waar dit sê jy moet draai … en glo my, daai antie ken elke hoek en draai. 

En … so kom die Here en Hy gee vir ons ‘n GPS vir ons lewenspad: die Bybel. Nét soos in ‘n GPS is elke roete, afdraaipaadjie, waarskuwingsborde, ALLES, daarin opgesluit. Terwyl ‘n GPS se kaarte gereeld opgedateer moet word, bly die Bybel egter tyd-loos. Alles wat nodig is om die “ultimate” bestemming, die hemel, te bereik, is hier vir jou opgeskryf. Gaan waar hierdie rigtinggewer sê, en jy sal nooit verdwaal nie. Ja, jitte, party van ons leef maar erg verdwaal, en op ons eie pad. .. weet nie waar ons vandaan kom nie, weet nie waar ons is nie, weet nie waarheen ons gaan nie. 

Ps 119:97-112
Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, en is altyd by my. Ek munt uit bo al my leermeesters, want u verordeninge bly my by. Ek het meer insig as ouer mense, want ek gehoorsaam u bevele. Ek het my voete van elke verkeerde pad af gehou sodat ek gehoorsaam kan wees aan u woord. Van u bepalings het ek nie afgewyk nie, want U het my dit geleer. Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond. U bevele gee my insig, daarom haat ek elke verkeerde pad. U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. Ek het 'n eed afgelê, en daarby sal ek bly, om my aan u bepalings te hou; hulle is regverdig. Ek ly swaar, Here, hou my in die lewe, soos U beloof het. Neem tog my dank aan, Here. Leer my u bepalings. My lewe is gedurig in gevaar, maar u wet verontagsaam ek nie. Die goddeloses stel vir my 'n strik, maar van u bevele wyk ek nie af nie. U verordeninge maak ek altyd my eie, want hulle is vir my 'n vreugde. Ek lê my daarop toe om u voorskrifte altyd uit te voer, tot die einde toe.
 

U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. Die Here se GPS vir my en jou lewe. Kan nie ‘n fout maak nie. Weet jy, hierdie padkaart is só volledig, dit spreek elke faset van jou lewenspad aan. Dit vertel jou hoe om te maak as jy by die besigheidswêreld aandoen, by jou huwelik, kinderopvoeding, in jou verhoudinge, orals. En net soos ‘n GPS jou kan waarsku oor “crime hot spots”, snelstrikke en ander gevaarlike situasies, verduidelik die Here in Sy padkaart watter situasies jy moet vermy, waar jy moet kyk vir rooi ligte van die lewe. Hy waarsku oor drank, verkeerde verhoudinge en tientalle dinge wat jou lewe kan versuur. Toe Hy dit wat Hy in Sy Woord opgeteken wou hê aan mense geopenbaar het, het Hy selfs toegelaat dat hulle die pad sleg byster raak, sodat hulle die GPS met die nodige inligting kom programmeer – soos bv. Dawid. 

Hoekom het ons God se GPS nodig? Hoekom ploeter ons nie sommer net van dag tot dag voort nie? Wel, as jy op pad is na nêrens, gaan jy beslis daar uitkom. Definitief. Jy sien, die lewe is ‘n reis. Op geen oomblik van lewe is jy al dáár nie. Waar is dáár, sal jy vra. Wel, dit is eenvoudig. Die grootste deel van die Bybel gaan oor hoe jy dáár kan kom. Daar by jou ewige woonplek. Dis nou die regte, goeie, lekker plek. Jy hoef nie slim of geleerd of kundig te wees om dáár te kom nie – jy hoef net te doen wat die GPS sê. As hy sê oppas vir ontugtige mense, oppas dan vir ontugtige mense. As hy sê oppas vir drank, oppas dan vir drank. En ja, oppas selfs vir geld, vir Mammon – moenie op jou lewensreis te veel by daardie bank probeer aandoen nie. Dink net vir ‘n oomblik of die Bybel enige nut sal hê as dit nie tot iets wonderliks en mooi sou lei nie. As dit nét oor vandag gegaan het, en oor vandag se voorspoed en genietinge, kon ons net sowel elke aand met ‘n soetsappige Mills & Boons bed toe gegaan het. As die hiernamaals geensins in die prentjie was nie, kon ons God se GPS maar weggooi. Ken jy die pad na die hemel toe? Verstaan jy die instruksies? Glo jy die roetewyser? 

Die Here se GPS is baie akkuraat, want die skrywers het die paaie geken. En hulle het ook die eindbestemming geken. Nou ja, die 4X4 bosryers sou seker onder mekaar kon armdruk oor watter GPS nou eintlik die beste is – sou dit nou ‘n Garmin of ‘n Tom Tom wees? Party ouens sê, nee, ek verdwaal liewer voor ek met daai ding ry! En so, ongelukkig, stoei baie mense dalk ook net té veel oor watter Bybelvertaling ‘n mens moet gebruik. Oom Angus het dit eendag mooi verduidelik. Hy het gesê jy moet dié vertaling gebruik waarmee jy gemaklik is, wat jy mee kan vereenselwig en wat jou “taal” praat – want God is groter as ‘n vertaling, en sal met jou praat uit watter vertaling jy ookal lees. 

Dis ‘n maklike GPS – God se GPS – kinders kan dit ook verstaan, en hulle doen wat dit sê, terwyl party slim geleerdes daarmee sukkel. Die Here sê, vat dit soos dit is, en vertrou dit. Jy sien, met ‘n GPS hoor jy die stem wat sê ry so, en ry daar, maar die eienaar van die stem het waarskynlik nog nie 'n voet in SA gesit nie. Sy reageer net op die inhoud van die sagteware. Nét dit. Soms verdwaal ons bietjie in die lewe; ons loop verkeerde paaie. Ry jy met ‘n GPS, en jy doen nie wat die stem sê nie, hoor jy “herbereken” en dan vat die dingetjie jou weer op ‘n nuwe pad, maar steeds na die korrekte bestemming.

Jes 30:21 “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor wat sê “Hier is die pad, loop hierlangs”. Soms ry jy met ‘n GPS en kom by plekke wat net nie reg lyk nie – dan moet jy maar net vertrou en die aanwysings volg – solank jy seker is jy het die regte adres van die eindbestemming ingeprogrameer. 

Matt 7:13-14
"Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min." 

Op watter een van dié twee paaie ry jy? Jy sien, solank jy ry, kan jy rigting verander – dit is nooit te laat nie. GLO die GPS, al weet jy nie wat die volgende draai gaan wees nie, KEN die Programmeerder en GLO Hom. 
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)