GRAFSKRIF


Hierdie lewe kom tot niks. Ons lewe nou, dit gaan verby, en ons is in die hemel, of in die hel. Glo dit! Ek en jy is tans besig om te lewe, en aan die lewe te bly. Vir wat?

Prediker 3 : 18 - 22
18 Ek het by myself gedink: dit is ter wille van die mense self dat God hulle toets; hulle moet insien dat hulle niks anders as diere is nie.
19 Een en dieselfde lot tref mens en dier, hulle gaan almal dood, die een soos die ander. Almal het net een asem. Die mens is nie beter daaraan toe as die dier nie. Alles kom tot niks.
20 Almal is op pad na dieselfde plek toe, almal is van stof en almal word weer stof.
21 Wie weet of die asem van die mens opstyg boontoe en of die asem van die dier afgaan onder toe?
22 Ek het gesien dat daar niks beter is nie as dat die mens vreugde vind in sy werk; dit is wat hom toekom. Wie kan hom laat sien wat ná hom sal gebeur?

Prediker 4 : 8
8 daar was 'n man wat alleen was, sonder seun of broer. Tog was daar nie 'n einde aan al sy inspanning nie en was hy steeds op soek na meer rykdom. Hy moes later sê: "Vir wie sloof ek my af en ontsê ek my die aangename dinge?" Ook hier kom dit tot niks. Dit bly 'n harde saak.

Sjoe, klink nogal "gloomy"! Nou ja, as ons dan lewe, net om tot niet te gaan - dis nou wat ons aardse bestaan betref - hoekom ons dan afsloof? Vir wat? Punt is, ek en jy lewe, en ons gaan sterwe. Maar …… gelukkig, of dalk ongelukkig, moet ons iets van hierdie lewe maak. Gelukkig, kies óns grotendeels hoe dit sal wees.

Waarvoor sal jy onthou word? En deur wie? Wat sal jou man/vrou, of jou kinders, vriende, ens. van jou onthou? 'n Lewe wat tot niks gelei het nie, of gaan daar 'n gat in die samelewing wees as jy weg is?

Nou is my vraag: Wat sal jou grafskrif wees? Wat sal wie skryf, en wat sal jy self daarop geskryf wil hê? Ek hoor van 'n persoon op wie se grafsteen 'n graniet bottel vas gesement was met die woorde: "Hy het gesterf soos wat hy gelewe het". Hy was 'n alkoholis, en het gesterf van alkohol misbruik. Hy het gesterf soos wat hy gelewe het. Wat sal op jou graf staan?

Kom ons vra onsself die vraag vandag af: Wat sal wie op my graf skryf?

1. Jou baas: Wat sal hy skryf? Iets soos: Hy het my ryk gemaak, selfs ten koste van sy gesin. Ja, ons moet werk en dis reg so, maar ten koste van wie? Hoeveel ure is jy per dag van die werk af, en vir hoeveel word jy betaal? As jy nou reeds in jou motor sit, is jy waarskynlik 12 - 13 ure weg - vir 8 ure se salaris. Sluit nie oortyd en Saterdae in nie, dalk ook sonder vergoeding. Ten koste van wie? Of sou die baas dalk skryf: "Hy het gewerk asof hy vir die Here gewerk het". Ps 37 : 3 "Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort." Dit klink vir my na balans.

2. Jou vriende: Wat sal hulle skryf? Hy het maklik vir 'n rondte betaal. Of dalk iets soos "Ek onthou hom, maar hy het verdamp toe ek hom nodig gehad het". Mooiweer vriende, drinkebroers...?

Spr 27 : 10 "Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaan na jou broer se huis toe as jy moeilikheid het nie, 'n buurman wat naby is, is meer werd as 'n broer wat ver is."

Dalk sou jou vriend skryf: "Hy was daar, deur dik en dun." Inderdaad, ons het mekaar nodig. Wat sal jou grafskrif sê?

3. Jou kinders: Wat sou daar staan? Pa? Pa wie? Sou dit daar staan? Of iets soos: "Die sakgeld was goed, maar hy was nooit by my sportwedstryd nie". Afwesige pa's en ma's. Wat sou dogtertjie op ma se graf skryf? Dalk: "Ek sou haar gekies het, eerder as die geld wat sy ingebring het". Miskien moet jy werk, miskien nie. Of dalk: "Haar loopbaan was baie werd". Dalk moet jy werk, dis reg, hou net die balans. Dalk sou jou kinders skryf: "Hy was 'n pa duisend"! Wow. Dis moontlik.

4. Jou vrou, of jou man: Wat sal jou wederhelfte skryf? "Al wat ek gehad het, was sekuriteit". Of: "Ek moes hom deel met so baie ander". Waarmee deel jou vrou of man jou? Derde partye? Te veel sport of ander aktiwiteite? Die baas? Of sou vroulief kon skryf: "Hy was 'n man van balans. Hy kon alle fasette van ons lewe hanteer."

5. Jyself: Wat sou jy geskryf wou hê? Dalk iets so fataal soos: "Alles kom tot niks". Hoeveel sin maak die lewe vir jou? Is dit lekker? Myne sal lees: "Hy het nie geleef om dood te gaan nie, hy het geleef tot hy dood is". Bob Burford skryf in sy boek, "Halftime" dat syne sal lees 100x. Na die gelykenis van die saaier, 30x, 60x of 100x vrug gedra. 100x. Wat wil jy op jou graf geskryf hê?

6. Laastens - wat sou die Here op jou graf skryf? Dalk na gelang van Matt 7 : 23 "Ek ken hom nie". Dis erg. Of sou dit wees soos met Dawid, "Hy was 'n man na My hart". Ja, daar staan, Dawid was 'n man na God se hart. Ten spyte van sy gebreke, owerspel, moord, ens.

Of dalk soos met Moses, "Ek kon met hom praat soos met 'n vriend". Of miskien iets soos: "Sy het al die talente en gawes wat Ek haar gegee het, gebruik". Die beste sou dalk wees "Hy het baie saamgebring Hemel toe".

Ek wens só God sou op my graf skryf: "Hy het 'n verskil gemaak". Maar jy sien, ek is so besig met my eie goed, dat ek maar gewoonlik net 'n verskil aan myself maak. Dalk skryf die Here, "Hy het dikwels net by my verby geloop". Jesus sê, "wat jy aan die geringstes onder julle gedoen het, het julle aan my gedoen". Hoe wonderlik sou dit wees as die Here sou skryf: "Ek kon haar gebruik". My vriend, ons gaan dood, ons gaan hierdie aarde verlaat, maar wat bly agter? Ek en jy met ons gawes en talente, los ons 'n gat agter in die samelewing? Of sou mense sê "Willem wie?"

Hoe lyk 'n sinvolle bestaan? Weet jy wie is Moeder Theresa? Natuurlik weet jy! Die hele wêreld weet, want sy was niks, maar sy het 'n REUSE verskil gemaak.

Wat sal wie op jou graf skryf?
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)