HANTEER BEKOMMERNIS SOOS JESUS


Ons almal het dae van benoudheid en bekommernis; tye wanneer mens voel jy het géén beheer nie, jou kop is suf planne gemaak, jy sien geen uitkoms nie en die maagswere groei geil.  Die vraag wat ek jou wil vra is: dink jy dis ‘n sonde om jou te bekommer? Of moet ons sê: Die Here weet alles, en ons moet net roekeloos op Hom vertrou; Hy weet beter; Hy sal voorsien? Wel, dis dalk maklik om dit te beaam, maar die realiteit is dat ons net mens is, en dat ons ons bekommer! Ek dink min mense het regtig die krag om in tye van nood alles onvoorwaardelik net te aanvaar en alles net in die Here se hand oor te laat. Hoe moet ons bekommernis hanteer? Die Here sê in Sy Woord: Vertrou My. Maar ons weet dat dit maar nag kan wees totdat die deurbraak kom. As daai vrees mens so beetpak, dat jy voel of jy van jou verstand af raak … 

Kom ons kyk hoe het Jesus opgetree in Sy donkerste uur: 

Matt 26:36-46 Daarna kom Jesus met sy dissipels by 'n plek met die naam Getsémané, en Hy sê vir hulle: "Sit hier terwyl Ek daar gaan bid." Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: "Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My." Hy het 'n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: "My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil." Daarna kom Hy na die dissipels toe terug en kry hulle aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: "Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak." 'n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: "My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied." Toe Hy terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want van die vaak kon hulle nie hulle oë oophou nie. Hy het hulle weer alleen laat bly en 'n derde keer gaan bid en dieselfde woorde gesê. Toe kom Hy na die dissipels toe terug en sê vir hulle: "Slaap en rus julle nog? Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee. Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby."  

As ek hierdie deel lees, dan sê dit vir my baie oor hoe om bekommernis te hanteer.  Selfs Jesus was doodsbenoud, beangs, bedroef ... Luk 22:44 sê Sy sweet het soos bloeddruppels op die grond geval. Dit lyk my Jesus was waarlik diep bekommerd. Hy het beslis geweet wat kom; Hy het reeds vir Sy dissipels daarvan vertel. En Hy was doodbang vir wat voorlê – kan jy jou in daardie situasie indink? 

Ek dink ons kan ‘n klomp dinge leer uit hierdie gebeurtenis: 

  1. Jesus het vriende saam met Hom geneem - Petrus en die twee seuns van Sebedeus. Jy sien, die Bybel is baie sterk daarop dat mens jou medemens kan vra om jou laste te help dra. Al gehoor van die uitdrukking: “tell someone”? ‘n Mens voel altyd beter as jy jou las met iemand deel. Net om dit vir iemand te sê laat jou beter voel. Maar Jesus doen meer. Hy vra: bid saam met My. Hoekom doen Hy dit? Hy is dan sélf God. Die antwoord is seker in die Bybel: die gebed van ‘n gelowige het groot krag.

  2. Jesus sê in  vers 38: “Ek voel doodsbenoud”. Hy erken dat Hy swaarkry onder  die druk van hierdie omstandighede.  Ons sê mos altyd net: “Dit gaan uitstekend, dankie! Bitter goed!”, en dan gaan dit meer bitter as goed, en ons jok vir onsself. Om jou probleme te ontken is om soos ‘n volstruis met die kop in die sand te staan. Dit help niks, want dan skram ons weg van die probleem, en word dikwels passief en depressief. Selfs al vertrou ons die Here 100%, het ons nog steeds ‘n verantwoordelikheid. ‘n Dominee het eendag eintlik ‘n mooi perspektief hierop gegee – hy het gesê jy moet alles doen wat jy kan en moet, voor jy bid vir uitkoms, want soms is die uitkoms in elk geval voor die hand liggend. Erken die feit dat dit swaar gaan, sodat jy nie in passiwiteit verval nie.

  3. “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by my verbygaan”.  Jesus vra vir uitkoms. Hy weet wat moet gebeur, maar in Sy vrees vra Hy vir uitkoms. So kan ons ook by die Here pleit vir genade, vir ‘n oplossing, vir ‘n uitkoms – dan gee ons erkenning daaraan dat dit binne Sy vermoë is om uitkoms te bring.

  4. “.. nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil”. Die Here weet tog alles. Hoekom moet ons dan sò bid? As ons so bid, dan onderwerp ons onsself aan Sy wysheid en insig en almag, en ons gee erkenning daaraan dat situasies mag ontstaan waar Hy nie antwoord soos ons wil hê nie. Goddank, dat Hy nie altyd ons gebede verhoor nie; Goddank dat Hy nie die lydensbeker by Jesus weggevat het nie. Goddank dat Sy wil geskied het. Wil ons regtig hê dat die Here altyd alles moet doen soos ons dit wil hê? Ons kan miskien so dink, maar gelukkig doen Hy dit nie. Om jouself onvoorwaardelik aan God se wil te onderwerp, is nie maklik nie. En dis nie noodwendig ‘n lekker en gladde pad nie. Baie keer sê die Here “nee”. Interessant hoe hierdie situasie daar in die tuin afgespeel het – God die Vader het nie met ‘n stem of met ‘n teken geantwoord nie. Hy het stilgebly. So gebeur dit mos maar gewoonlik met ons ook. Dan maak Hy sy wil deur omstandighede bekend. Kan ons Hom regtig genoeg vertrou om te bid: “Laat U wil geskied”?

  5. Jesus aanvaar dadelik God se antwoord, daarom sê Hy: “Staan op, kom ons loop. Kyk die man wat My verraai is naby”. Sy gebed is nie verhoor nie … of is dit? Dit is! “Laat U wil geskied” is beantwoord. So kan ek en jy ook net sê: “Goed, Here, met U krag gaan ek hierdie ding aanvaar, en die bul by die horings pak”. Nie ‘n maklike pad nie, vriend, maar die Here is dáár. In beheer. Op Sy troon.

As jy dalk vandag in ‘n moeilike situasie sit, probeer die volgende:

  1. Neem vriende in jou vertroue en vra hulle om saam met jou te bid

  2. Erken dat daar ‘n probleem is

  3. Vra vir die Here vir uitkoms

  4. Aanvaar dat God se wil geskied

  5. Pak die bul by die horings, staan op en begin daadwerklik optree

Mag ek jou vandag bemoedig met Haggai 2:4-5?

Maar nou …. skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige. My belofte wat Ek met die uittog uit Egipte aan julle gemaak het, sal Ek nakom: my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie! 

Sien jy, skep moed! Begin met  die werk. Doen wat jy moet doen … alles wat jy kan. Gaan staan by die fontein van moed, Jesus Christus, druk jou hande in hierdie fontein en skep hande vol moed. Jesus gee die moed. Skep dit, drink dit in. Die Here weet altyd wat die beste is. Hy is die bron van moed. Moet nie eers dink aan selfmoord nie, want by Jesus is geen probleem te groot om op te los nie. Dis juis omdat Jesus NIE die kruis vrygespring het nie, dat ons moed kan hê … kom skep! 
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)