|
|
|
HARTOORPLANTING - 27 Oktober 2008 3 Desember 1967 - het jy toe al geleef? Weet jy wat daardie dag gebeur het? Wêreldgeskiedenis. 'n Massiewe deurbraak. Die heel eerste van sy soort. Pionierswerk. Die bykans onmoontlike gebeur. En dit gebeur hier in Suid-Afrika! Deur ons eie jong hartchirurg, Chris Barnard, by Grootte Schuur Hospitaal. Die eerste hartoorplanting. Die pasiënt het net 18 dae bly leef. Die tweede oorplanting vind twee maande later plaas, op 2 Januarie 1968. Dié pasiënt lewe vir 563 dae. Vandag is hartoorplantings alledaags, en suksesvol. Dit is die geskiedenis van mediese hartoorplanting, maar geestelike hartoorplanting kom al van baie lank terug … Eseg 36:21-35 'n Hartoorplanting vir 'n nasie. Die Here se wil vir Sy volk is 'n nuwe lewenssentrum, een van vleis. In Esegiël spreek die Here die hardheid van die hart aan. Vers 21 sê: "Ek is begaan oor My heilige Naam wat oneer aangedoen word …" Sjoe, klink dit nie bekend nie? 'n Land waar die slegte heerskappy voer oor die goeie. Só is dit in baie lande. Iemand vertel anderdag dat hy in 'n ander land gaan kuier het. Hy het sy "Loftus vir Jesus" baadjie gedra, en toe vra iemand vir hom: "Who is Jesus?" Wie is Jesus, nie wat is Loftus nie. En hierdie is 'n land waarheen baie van ons mense graag wil gaan! Hoekom praat die Here van 'n hartoorplanting? So lank gelede al? (Esegiël het opgetree in 597 voor Christus) Miskien is dit tyd om vandag so 'n bietjie te kyk na ons eie harte. Dalk is dit tyd vir 'n hartondersoek, miskien 'n EKG. 'n Gesonde geestelike EKG kan dalk beteken: "Ek ken God", 'n slegte EKG wys op 'n hart van klip. Die hart is sekerlik dié belangrikste orgaan in die liggam. Mens kan eintlik sê jou hele wese is in jou hart gesetel. Jy kan jou brein forseer om dinge te doen, jou brein kan gemanipuleer word, maar nie die hart nie. Die hart is klip of vleis, hard of sag, mooi of lelik. Soos 'n pit in 'n perske, is die hart die pit van ons bestaan. Dis hoekom dit ook die plek is waar Satan sy plek wil inneem, dis ook waar onheil uitbroei, dis waar alles wat kwaad is gestalte kry. En as 'n hart eers hard is, word hy moeilik sag. Job 41:15 "Sy hart is so hard soos klip, so hard soos 'n maalklip". Jou hele gevoel is gesetel in daardie holte in jou borskas. Is jou hart dalk vandag hard? Kom ek vra jou: "is daar iemand teen wie jy jou verhard het? 'n Familielid? Jou ouers? 'n Vriend? 'n Kind? 'n Kollega? Klink die woord 'wrok' bekend? Onvergewensgesindheid? Bitterheid?" … hierdie is dinge wat die hart hard maak. Hoe kan die Here vandag vir ons 'n hartoorplanting doen? Wel, as jy vir 'n hartoorplanting gaan, is dit tog seker jou keuse, dit geskied met jou toestemming. Niemand gaan jou oorrompel en 'n nuwe hart in jou inplant nie. Voor 'n hartoorplanting is daar dus eerstens 'n erkenning dat daar iets groot fout is met die hart, en tweedens sal jy dan toestemming verleen dat die operasie uitgevoer word. Ons moet dus self tot die punt kom waar ons kan erken dat ons 'n nuwe hart benodig, en die Here dan toestemming gee om die hartvervanging te doen! Wat is die simptome van 'n
klip-hart? 'n Nuwe hart beteken 'n nuwe mens. 'n Nuwe hart pomp lewegewende suurstof deur 'n mens se liggaam, tot by jou brein. 'n Nuwe hart maak die hele liggaam gesond. Nuwe denkpatrone, nuwe handelinge, nuwe praatgewoontes, herstelde verhoudings, diensbaarheid, gee hoop vir die toekoms, neem stress weg, gee nuwe insigte. Dit maak 'n mens bruikbaar vir die Here. 'n Hartoperasie vat lank, maar kan eers klaarkry as dit iewers begin het. Die Here kan 'n mens se hart in 'n oogwink vervang met 'n sagte een van vleis, maar lewegewende bloed vat dalk 'n tydjie om al die organe te bereik. En ja, ou sekelstert wil graag kom in-'chip' en jou kom wysmaak dat die operasie 'n mislukking was … moenie na hom luister nie. Na so 'n hartoperasie het mens hersteltyd nodig, jy het oefening nodig om die hartspier sterker te maak. Net so na 'n geestelike hartoorplanting moet daardie hartspier geoefen word sodat dit elke dag sterker kan word. Stadig maar seker begin al die slegte simptome verwyn. Dis nodig om nuwe gewoontes te vestig, om met ander oë te kyk… volkome vreugde en vrede sal volg. Ja, natuurlik sal daar dinge op ons pad kom wat weer die bloeddruk sal opjaag en die hart vinniger laat klop, maar die gesonde hart van vleis laat ons dinge anders hanteer … met meer liefde, meer geduld, mooier woorde, minder skree en vloek, minder verwyt, meer selfbeheersing. Pas jou nuwe hart op! Dit is soos 'n paradys - Eseg 37:35: "Dié land was verlate en nou is hy soos die tuin van Eden"
|