|
|
|
HEMELVAART Vandag is Hemelvaartdag. 'n Besondere dag in die geskiedenis van die Christendom. 'n Dag van hoop vir dié wat onwrikbaar glo. 'n Aanstoot vir die ongelowige. 'n Dag wat vra dat ons God op Sy Woord moet neem. Glo jy werklik dat die Hemelvaart plaasgevind het? Kan jy onvoorwaardelik aanvaar dat dit werklik gebeur het? Luk 24:44-53 Met 'n wonderwerk het Jesus Sy verskyning op aarde gemaak (deur die maagdelike geboorte), en met 'n wonderwerk het Hy die aarde verlaat. Ek dink dit is juis DIT wat vir die ongelowiges so moeilik maak om dit te glo. Dis nogal snaaks hoe die mens se kop werk, en wat mense bereid is om te glo, solank hulle net nie die knie voor Jesus hoef te buig nie. Mense sal glo dat die hele skepping met sy miljoene wonderwerke sommer toevallig ontstaan het; dat lewe wat só kompleks is, 'n ongeluk is. Daar is selfs mense wat sal glo dat hulle voorouers 'n aap was, solank hulle net nie hoef te glo dat dit God is wat hulle uniek geskep het nie. In 1 Kor 2:14 gee die Bybel 'n verduideliking: "Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie, vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word" . Dinge in die Geestelike realm is nie sigbaar nie, en moet dus met geloof beoordeel word. Dus, óf jy glo dit, óf jy glo dit nie. Nogal interessant dat die ongelowige sóveel tyd en energie spandeer om sy ongeloof te verklaar en verduidelik … iets wat hy in elk geval nie glo nie. Wat beteken Jesus se hemelvaart vir JOU? Wat is die waarde daarvan in jou lewe? Veertig dae na Sy opstanding… Met die sondvloed reën dit 40 dae, dan word Noag en sy gesin in 'n nuwe lewe "vrygelaat". Die Israeliete swerf 40 jaar in die woestyn rond, waarna hulle die land Kanaan in besit neem. 40 dae na Jesus se opstanding vaar hy op na Vader toe, om te gaan heers aan Sy regterhand. Dit is die finale slag vir Satan, en die hele verlossingsiklus word met hierdie aksie voltooi. Vóór Hy aarde toe gekom het, was Hy in die hemel by God die Vader. Hy verlaat Sy hemelse tuiste ter wille van ons verlossing, en nou gaan Hy terug om aan die regterhand van die Vader te gaan sit, waar Hy nou namens ons intree. Laat dit jou nie ook belangrik en spesiaal voel nie? Voel jy nie ook dat jy persoonlik daarby gebaat het dat daar 'n hemelvaart was nie? As Jesus nie op 'n bo-natuurlike manier hierdie aarde verlaat het nie, sou ons waarskynlik in sy menslikheid bly vaskyk het. Goddank dit was nie so nie - dis juis Sy talle en talle wonderwerke wat ons bewys is dat Hy die Seun van God die Vader is, en ook sélf God. Joh 1:18 "Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak" Wat is die voordeel van die
hemelvaart vir jou en my? Die dissipels moes dit ook geglo het, want hulle het só sterk by hulle punt gestaan, dat hulle waarskynlik almal vir hulle geloof gesterf het. Dit sê vir my nogal iets. Die hemelvaart hét gebeur, of ek dit glo of nie. Maar, ómdat ek dit glo, pleit Jesus op hierdie oomblik vir my by die Vader. Die hemelvaart gee vir ons hoop. Hoe wonderlik om te weet dat ons eendag dalk mag toekyk hoe Jesus neerdaal aarde toe. Vir dié wat nie glo nie, sal dit 'n helse verskrikking wees. Vir dié wat glo, sal dit die stempel wees op alles wat jy ooit geglo het. Wil jy nie ook vashou aan hierdie
belofte nie? My vriend, gee die Hemelvaart nie vir jou ook hoop nie? As dit nie gebeur het nie, sou die hele verlossingsboodskap dalk daarmee heen wees, want dit voltooi die sirkel. Glo dit, want dit IS so.
|