Ek
glo jy het die woordjie “hoekom” al ’n miljoen of meer keer gehoor,
veral as jy klein kindertjies het of gehad het. Jy het seker self as
kind jou ma en pa teen die mure uitgedryf met hierdie woord. Dis ook
’n woord wat ons op geestelike vlak dikwels gebruik.
Onthou
jy dat jou kind tot vervelens toe kon vra: “hoekoôom?” Vir alles is
dit hoekom? Jy gee die antwoord elke keer so goed as wat jy kan,
maar uiteindelik sê jy dan net: “sommer”. Dan hoor jy: sommer is nie
’n rede nie, skilpad het nie vere nie, appelboom dra nie pere nie.
“Ja, maar hoekoôom?”. “Sommer, want ek sê so”. As die hoekoms jou
dan heeltemal teen die plafon uitdryf, sê jy: gaan vra jou pa!
’n Mens
is as ’n soekende wese geskape. Het jy al agtergekom dat ’n kind nie
daardie hoekoms vir sy maatjie vra nie. Hy soek antwoorde by iemand
wat meer weet as hy, iemand met meer gesag as hy. Iemand wat hy as
kundig genoeg beskou om sy vrae te beantwoord. “Hoekom” is die rede
vir ons totale wetenskaplike verstaan en vordering. Hoe meer ons
verstaan hoe beter kan ons funksioneer. Dit lyk ook vir my dat ons
soos ons ouer word meer en meer vir die Here vra: hoekom? Vir baie
van ons hoekoms is daar antwoorde in die Bybel. Soms moet ons lank
wag, dan gee omstandighede vir ons die antwoord. Wanneer ons wêreld
deur die een of ander trauma, soos dood, egskeiding, siekte of
bankrotskap inmekaarstort, dan kry ons baie keer nie ’n antwoord op
die hoekom nie. Dan word dit nag. Jy sien, as daar ’n antwoord is op
daardie traumatiese hoekom, kan mens dit makliker aanvaar en
vorentoe gaan. Dink bietjie hieroor: móét daar altyd ’n antwoord op
jou hoekom wees? En meer nog, hét die Here die antwoord?
Hoekom?
Hoekom Here? Hoekom ek, Here? Maar het jy al ooit die vraag anders
gevra: hoekom nié ek nie, Here? Nou lyk dit my daar kan gevalle wees
waar hoekom ’n vervaldatum het. As ’n kind van 10 skielik
onverklaarbaar tot sterwe kom, is daar ’n reuse hoekom. As iemand
van 80 skielik tot sterwe kom, maak hoekom nie meer saak nie. Toe my
ma in 2010 kanker kry, was die hoekom in my minder as die hoekom in
haar. Toe ’n goeie vriend ’n klompie jare gelede kanker kry, het hy
vir die Here gevra: hoekom? Toe kom dié antwoord by hom op: Hoekom
nie jy nie? Hoekom iemand anders? Wat maak jou so spesiaal? Toe kom
daar aanvaarding en berusting en hy voel: as die beker dan nie by my
kan verbygaan nie, sal ek hom drink. Die Here het hom wonderbaarlik
genees. Maar, Hy het nie my ma genees nie. Sy is oorlede aan kanker.
Ek vra egter nie hoekom nie, want sy was bejaard. Ek vra nie hoekom
nie, want ek dink nie daar ís ’n antwoord nie. Ek dink nie daaraan
of die Here die antwoord het nie, ek dink daaraan dat die Here die
antwoord is en dit is te midde van groot hoekoms.
Nou bly
die vraag: kan en mag ons die Here vra vir antwoorde? Ek glo JA,
100 maal ja. Want jy sien, as ons hierdie wroeging in ons hart het
en antwoorde soek by die Here en aanhoudend vra en smeek, kry ons
nie noodwendig ’n bevredigende antwoord nie, maar ons leer die Here
beter ken, ons kom nader aan Hom. Ons kan op een van twee maniere
hierna kyk: wanneer trauma ons tref kan ons die Here op die rooi
tapyt laat kom en aandring op sy antwoord en sy bedoelings. Dit
plaas ons eintlik in ’n gesagsposisie waar Hy verantwoording moet
doen. Die ander kant is dat ons sien dat die Here in die middel van
die storm staan, die aanslae trotseer en met oop arms vir jou staan
en wag en sê: My kind, kom hier. Dan vou Hy jou toe in sy arms en
hou jou vas totdat die storm bedaar. Ek glo nie trauma is God se
toedoen of wil nie, ek glo ook nie Hy is onmagtig om dit te keer nie.
Ek glo ook nie alles hoef ’n doel te hê nie. Ek dink nie ons hoef
die Here se eer te beskerm deur sê: die Here het ’n doel met jou
swaarkry nie. Dit kan natuurlik wel só wees, maar ek glo eerder dat
die Here ín sulke omstandighede ’n doel met ons bereik sonder om die
rede daarvoor aan ons te verduidelik.
Job 39:1-7
“Kan jy vir 'n leeu sy prooi vang? Kan jy vir hom genoeg gee om
te eet wanneer hy in sy skuilplek gereed lê, op die loer lê agter 'n
bos? Wie gee vir 'n kraai die kos wat hy nodig het wanneer sy
kleintjies om hulp roep na God, rondskarrel vir iets om te eet? Ken
jy die tyd wanneer die klipspringers lam? Staan jy en kyk waar die
wildsbokke kleintjies kry? Kan jy vir hulle die draagtyd bepaal,
weet jy presies wanneer hulle moet lam? Hulle trek inmekaar, die
bokkies word gebore, die geboortepyne is gou verby. Die lammers
groei en word groot in die veld, hulle gaan weg en kom nie na die
ooie toe terug nie.
Job 39:29-33
“Is dit deur jou insig dat 'n valk vlieg, dat hy sy vlerke na die
suide toe span? Is dit op jou bevel dat 'n aasvoël hoog opvlieg en
sy nes in die hoogte gaan bou? Hy woon op die rotse, hy bly daar, op
die spits en die kranse. Van daar af soek sy oë na kos, van ver af
sien hy dit. Sy kuikens vreet bloederige vleis, en waar iets
doodgaan, is hy.”
Hier lees ons hoedat die Here vir Job aanspreek in sy tyd van bitter
beproewing en swaarkry. Die Here berispe hom ernstig in Job
39:34-35: Die Here het verder vir Job gesê: “Wil jy 'n saak maak
teen die Almagtige en Hom bestraf? Wil jy vir God teregwys? Antwoord
Hom dan!”
En dan
volg vers 36-38 met: Job het toe vir die Here gesê: “Ek is nie
opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon antwoord? Ek sal liewer
stilbly. Ek het gepraat, maar ek kon nie 'n antwoord vind nie, ek
het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly.”
Mag ek
en jy vrae vra? Ek dink so. Maar ek glo nie ons gaan altyd die
antwoord kry nie en ek glo nie daar is altyd ’n antwoord nie, want
ons leef steeds in ’n onvolmaakte wêreld wat ’n slegte wond gekry
het met die sondeval. Ek dink egter ons ontdek baie keer ons eie
antwoorde op die hoekoms, wat nie noodwendig van die Here af kom nie,
maar dis okei, want dit laat ons vorentoe beweeg met moed en hoop.
Soms kry ons egter wel ’n antwoord op ’n wonderbaarlike manier, dalk
op ’n manier wat ons glad nie verwag het nie. Soms is die antwoord
iets anders as wat ons wou gehad het. Soms ontdek ons self ’n
antwoord. Soms is dit positief en soms negatief.
As ek
vir myself hierdie ding bymekaar wil trek, is my slotsom as volg:
bly besig met die Here. Vra die hoekom ’n miljoen maal, sif tussen
al die goed wat in jou kop opkom wat moontlike antwoorde kan wees.
Toets dit aan die Woord van God, toets dit by ander mense, maar wees
maar versigtig vir Opinie 3:10, want mense is mal daaroor om met
slim antwoorde vorendag te probeer kom. Dan wag jy en as jy glo jy
het die antwoord gekry (goed of sleg), aanvaar dit. En as die
antwoord nie kom nie? Probeer om dit dan ook só te aanvaar. Dalk het
die Here ook die reg om sê: “sommer”....?
|