HOEVEEL KAN 'N MENS HANTEER?


Hoeveel kan 'n mens hanteer? Jy ken seker die spreekwoord: "It doesn't rain, it pours"? Daardie dae, of tye, dalk jare wat kom, wat 'n mens vra: "hoeveel nog?". Miskien kan jy daarmee assosieer. Dalk 'n siekte wat net nie wil wyk nie, probleme met geld, swaarkry, slegte verhoudinge, eensaamheid …. Dis 'n tyd wanneer mens voel dat jy net nie meer kan nie en dan vra: "Hóéveel kan 'n mens hanteer?" En dan kom die volgende vrae gewoonlik: "Hoekom?", "Waarvoor straf God my?", ens.

Jer 20:14-18
Vervloek is die dag waarop ek gebore is, die dag waarop my ma my in die wêreld gebring het; mag dié dag altyd sonder seën wees.
Vervloek is die man wat vir my pa die berig gebring het: "Jy het 'n seun," 'n berig wat hom baie bly gemaak het.
Mag dit met daardie man gaan soos met die stede wat so genadeloos deur die Here verwoes is, mag daardie man angskrete hoor in die môre, oorlogskrete op die helder middag,
omdat hy my nie doodgemaak het voor ek gebore is sodat my ma my graf kon gewees het en sy nooit in kraam kon kom nie.
Waarom is ek gebore net om ellende en pyn te beleef en my lewe lank verneder te word?

Jeremia vind homself in 'n put van depressie, en sien nie meer kans vir die lewe nie. Ek dink, dis 'n toestand waarmee baie mense hulleself kan vereenselwig. Slegte dae, moeilike tye. Die lig in die tonnel is af. Die silwer randjie het verdwyn om die donker wolke, en die nagte word al hoe langer en langer. Daardie tye wanneer mens nie tot slaap kan kom nie … wanneer jy wens die nag is al verby, maar jy sien ook nie kans vir die dag om te kom nie. Tye wanneer die drukgang net té nou word. Hoeveel kan 'n mens hanteer?

Die mens is 'n wonderlike wese, en kan BAIE verder gaan as wat hy dink, baie meer uithou, langer uithou. Op fisiese valk is dit verstommend tot hoeveel die mens in staat is, en hoeveel die Here in ons ingebou het om onsself te beskerm, en om slegte en moeilike situasies te bowe te kom. Fil 4:13 bevestig dit: "Ek is tot alles in staat, deur Hom wat my krag gee". MAAR, dit voel nie altyd so nie. En dan kom mense (ja, Christene ook!) soms met vreeslike onsensitiewe opmerkings, soos: "Jy moet eers alle sonde uit jou lewe verwyder" - so asof daar enige sondelose mense op aarde is. Of opmerkings soos: "Ruk jou reg" - so as of iemand sal kies om in 'n gat van depressie te verval. Of miskien 'n uitspraak soos: "Die Here straf jou vir iets wat jou voorouers gedoen het (of in betrokke was)". Jammer, maar ek verstaan dat God se genade en vergifnis nie só beperk is nie!

Die mens se drang vir oorlewing is geweldig sterk, en sy vermoëns is verstommend. Dit is nou op fisiese vlak, maar op die vlak waar jou siel begin spartel, raak dit 'n ander saak. Hoeveel kan 'n mens hanteer? En wat as jy voel jy kan net nie meer nie? En dan vra mens dalk: "waar is die Here?" Dis die moeilike een. Sekerlik dié moeilikste vraag. Dis maklik om te sê: "Wag op die Here", of: "Jy sal nie nou verstaan nie, maar eendag sal jy". Dis gewoonlik ook die tyd wat almal jou verlaat, en dit voel of jy alleen staan. Voel jy vandag so? Of miskien ken jy iemand wat só voel?

Hoeveel kan 'n mens hanteer? Baie! Vreeslik baie, maar net tot op 'n punt. En as daardie punt bereik word, is daar net een uitweg oor … en dit is om op die Here te vertrou, te kyk na sy "track record", en te weet dat Hy tot alles in staat is. Wanneer ons nie meer kan nie, KAN HY! Watter mens kan ek vertrou? Kan geld my probleme oplos? Wie kan ooit doen wat God kan doen? Iewers moet ek op die punt kom wat ek moet sê: "Here, nou nie meer ek nie, maar U".

Die Here se beloftes is tog meer werd as enige mens s'n. En kyk wat sê Hy:

· Jos 1:5 "Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie." Kan jy DIT glo?
· Ps 91:15 "Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor, in sy nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in sy eer herstel". Klink hierdie belofte goed?
· Jes 41:10 "Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou. Ek help jou, Ek hou jou vas, met My eie hand red Ek jou"
· Deut 33:26-27 "Die ewige God is 'n skuilplek, Sy arms is altyd onder jou". Daar is niemand wat jou kan help soos ons Hemelse Vader nie.
· Jes 35:3-4 "Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik, sê vir dié wat moed verloor: wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier"
· Ps 147:6 "Die Here laat die hulpeloses weer opstaan …"
· Ps 147:3
"Hy genees die gebrokenes van hart, en verbind hulle wonde"

Kan jy sien dat God aan jou kant is?

Hoeveel kan 'n mens hanteer? As jy alleen staan, MIN. Maar saam met die Here, baie!

Hoe maak ek as dinge te veel word?
1) Hou op veg. Erken dat jy nie alleen kan verder nie.
2) Deel jou probleme, vrese en bekommernisse met iemand, die Here gee mense vir mekaar om mekaar te help:

Pred 4:9-12
Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets.
As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.
As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word?
Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. 'n Driedubbele tou breek nie maklik nie.

3) Weet dat die slegte tye en dinge nie vir altyd aanhou nie. Daar kom gewoonlik iewers uitkoms, al lyk dit nie so nie.
4) Vat die Here op Sy beloftes dat Hy dáár is en jou vashou, dat Hy jou sal oplig en uitlig.
5) Vat elke dag, 'n dag op 'n slag. Elke oomblik wat jy kan vasbyt, is oorwinning.
6) Doen alles wat jy kan om omstandighede te verbeter. Aanvaar wat jy nie kan verander nie, en sit die res in die Here se hande.
7) Geloof in die Here se vermoëns, gaan verby dit wat ons kan sien. Heb 11:1 "Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie"
8) Dalk lê die draaipunt net om die volgende draai. Moet nooit te gou opgee nie.
9) Wéét dat die Here jou WIL help, dit was sy belofte in al die voorafgaande verse.

Hoeveel kan 'n mens hanteer? Op sy eie nie veel nie, maar ... 

"Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee" (Fil 4:13)
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)