|
|
|
As ek die woord Hooglied noem, wat is die eerste gedagte wat in jou kop opkom? Wel, dit hang seker af wie dit vir wie sę, en in watter omstandighede en konteks. Verskillende mense sal verskillend reageer as hulle dit hoor.
Hooglied is 'n pragtige boek. Een hele boek wat die Here afgestaan het om op 'n pragtige manier die ware liefde tussen man en vrou te beskryf. Agt hoofstukke waar respek, agting, trots, verwondering, bewondering en liefde vir mekaar besing en uitgespreek word. Met baie detail wys die Here vir die mens dat hulle mekaar nie net emosioneel kan koester en geniet nie, maar ook fisies. In my persoonlike verwysingsraamwerk, pas van hierdie elemente net binne die huwelik, tussen man en vrou. As jy so deur Hooglied lees, sal jy waarskynlik ook herinneringe en emosies ervaar wat jy kon oproep van die tye waar daar so flink hofgemaak is. Nou vra ek jou (as jy getroud is), bestaan dit nog vir jou na 'n klompie jare van getroude lewe, of het dit in die niet verdamp? Hooglied 4:9-15
en 5:10 -16 Sy: “Die man wat ek liefhet, is blakend gesond en blosend van kleur; jy kan hom uitken tussen tien duisend ander. Sy voorkop is soos suiwer goud, sy haarlokke soos dadeltrosse, so swart soos 'n kraai. Sy oë is soos die duiwe langs die spruite, duiwe wat lyk of hulle in melk gewas is waar hulle langs die water sit. Sy wange is soos die kruiebeddings waar lekkerruik-kruie groei. Sy lippe is soos lelies, hulle drup van mirre. Sy hande is soos stawe goud, met edelstene ingelę. Sy lyf is soos 'n blok ivoor, met saffiere ingelę. Sy bobene is soos marmerpilare wat op goue voetstukke rus. Sy voorkoms is soos dié van die Libanon, indrukwekkend soos die seders. Sy mond smaak soet, alles aan hom is begeerlik. So lyk die man wat ek liefhet, so lyk my lewensmaat, vroue van Jerusalem.” Hoe klink dit vir jou? Verwondering, respek en liefde. Party dele in Hooglied is nogal eksplisiet, maar dis eenhonderd persent binne God se wil. Geskep vir die mens se vreugde en in die mooiste woorde beskryf. Weet jy, ek dink Adam het nogal na sy asem gesnak toe die Here hom uit die narkose laat wakker word en hy sy oë op Eva lę. En andersom. Onthou jy toe jy vir vroulief by die kerk se deur sien instap het die dag toe julle getroud is? Hoe verruklik sy gelyk het? Vroulief, onthou jy hoe goed manlief gelyk het? So asof hy pas van sy wit perd afgewip het. O wee, moenie dat hy nou probeer afwip nie, hy sal dalk afvoeter! Arme perd... Is daai gevoel nog aanwesig in die huwelik? Is daar nog enigsins romantiek, aanraking, liefkosing, intimiteit, respek, verwondering en bewondering? Of het dit plek gemaak vir irritasie, verwydering, afguns en jaloesie? Om nie eens van “name-calling” te praat nie. Ek glo met my hele hart dat die Here hierdie pragtige boek geskryf het sodat dit kan werk “till death do us part”. Ongeag van ouderdom of die verandering van die uiterlike. Meneer/mevrou, laat jou oë toe om saam met jou wederhelfte oud te word. Skoonheid lę nie in perfektheid nie. In 1 Kor 13 kry ons wonderlike riglyne oor hoe om die liefde te laat hou. Hierdie klein jakkalsies wat die wingerd verwoes, word baie mooi beskryf. Hierdie klein goedjies wat stadig maar seker die huwelik infiltreer en verwoesting saai. 1Kor 13:4-7
Hooglied. Liefdeslied. Hooglied 2:2 “Soos 'n lelie tussen die dorings, so is my liefling tussen die meisies”. Sien jy dat hy in die derde persoon praat? Hierdie ou spog met sy geliefde. Is dit nie mooi nie? Weet jy waar Skinnerstraat is? Nee, nie die dubbelpad wat deur die middestad loop nie, dis die hoekie waar almal eenkeer per uur gaan vars lug vir die longe soek. Daar word lekker stories uitgeruil, en soms kliphard oor manlief / vroulief geskinder. Maar nie Salomo nie, hy verklaar openlik dat sy bruid sy hart se punt is. Vers 16: “Die man wat ek liefhet, is myne en ek is syne” Juffrou staan nie en flikflooi met Adoons by die werk nie, sy verklaar openlik dat sy klaar “ge-dęps” is. “Hands-off” menere, ek is klaar gevat. En o ja, moenie praatjies met my maak wat jy nie voor jou vrou sou maak nie. Hooglied 4:1 “Jy is mooi my liefling, jy is mooi, jou oe is duiwe agter jou sluier”. Hoor hoe mooi komplimenteer hy haar. Hy sę sy is ten volle aanvaarbaar vir hom, net soos sy is, ongeag van die uiterlike. Jy weet mos, 'n man is soos 'n spieël waarin die vrou haarself sien. Dit wat hy reflekteer, is wat sy oor haarself glo. Manlief maak 'n aaklige opmerking, en vroulief glo dit vir die res van haar lewe. Maar dan kom Adoonsie by die werk en vertel vir haar die teendeel, en onmiddelik is daar “trouble in paradise”. Nee, as manlief haar gereeld komplimenteer, dink sy by haarself:- “Ek sien so paar “flaws” in die spieël, maar vir hom maak dit nie saak nie”. Hooglied 4:10 “Ek hou van jou liefkosings, my beminde bruid...” Liefkosing, baie baie belangrik. Dit staan nou nie hier geskryf nie, maar waarskynlik het meneer homself lekker vars ingeseep, sy harde baard afgekrap en homself aanvaarbaar gemaak. 'n Man wat sy vrou so mooi komplimenteer en haar goed behandel, hoef minder hoofpynpille te koop. Weet jy waarheen lei hierdie goeie gedrag dikwels? Heaven at eleven, starts at seven. 'n Lekker aangename aanloop... Hooglied is mooi, dit vra vir mooi en dit beskryf mooi. Dit praat van innige liefde. |