|
|
|
HUUR JY SPASIE UIT? - 10 September 2008 Iemand vertel my nou die dag van hierdie situasie
wat hy op Candid Camera gesien het: hulle het 'n kamera opgestel by 'n
verkoopspunt in 'n winkel, en elke mens wie betaal het, se prys
"opgerond"(....R5.60 word R6.00 ens), en die mense reaksie is
toe nou natuurlik opgeneem. Mense wou moord pleeg van woede oor die
uitbuitery, partykeer oor net 10 sent! Toe stap die man in....lang slierte
vir hare, stap so 'n "rolstappie" waar die ouens hulle skouers
so beurtelings vorentoe stoot as hulle stap, maw 'n regte
"dude". Hulle verkul hom met 80sent, en toe hy vra hoekom,
vertel hulle hom ook dat hulle beleid is om alle pryse op te rond na die
volgende dollar toe. Wat is ons "dude" se reaksie? Hy kyk hulle
so 'n sekonde of wat.....steek sy hand so op (nogal so asof hy hulle
seën!) en sê : "That's cool man....." en slenter weer so uit.
Almal is eers baie verdwaas en hardloop hom toe agterna....kry hom terug
voor die kameras en wou toe weet hoekom HY die een uit die talle mense
voor hom is, wie nie kwaad word oor die kullery nie....Nou luister wat sy
beskouing is: Nou vra ek vandag ook die vraag: hoeveel kopspasie huur jy uit, of nog beter gestel, wie of wat laat jy toe om in jou kop te "plak". Wat laat ons toe om ons dag vir dag onder te kry … strooi en nonsens wat kom plak in ons koppe? Wie en wat huur spasie in jou kop? Daardie dinge wat ons in ons gedagtes toelaat en vetroetel wat ons vreugde steel. Waaroor is jy tans ongelukkig? Wat rol jy in jou kop rond? Watter gedagtes laat jy toe? Waarskynlik is dit dinge wat geen blou duit se waarde toevoeg tot jou lewe nie; dinge wat jou net ongelukkig en bekommerd maak. Spreuke 14:10 Nou vra ek jou: "Loop jy met goed in jou kop rond wat niks werd is nie?" Wie en wat plak in jou kop? Weet jy dat die bitterheid wat jy in jou gemoed ronddra absoluut vernietigend is? Om verbitterd te wees oor iets wat jy in elk geval nie kan verander nie, vat net te veel spasie in jou kop op. Dit maak dat mens heeltyd ongelukkig is, dit maak dat jy dalk mense verwens (wat sonde is!), dit maak mens moeg en afgemat. Mens dink dag en nag oor iets wat kon gewees het, maar nie was nie, oor iemand wat jou te na gekom het. Dalk verspeelde geleenthede; miskien geld wat jy verloor het; of iemand vir wie jy lief was en wat jy verloor het. Nee, bitterheid vat net té veel spasie in jou kop. Wat is die antwoord? Om te vergewe, om vry te spreek, te aanvaar … sjoe! Dalk selfs om daardie persoon te gaan seën, hoe moeilik dit ookal mag wees. Verbitterdheid beteken tog immers dat jy toelaat dat die verlede oor jou heers. Hoekom? As dit oor geld was, sou jy dalk in elke geval teen hierdie tyd daardie geld opgebruik het. As dit oor 'n verhouding was, was dit dalk in elk geval 'n ongelukkige verhouding. Verbitterdheid maak dikwels dat jy nuwe geleenthede misloop. Los dit - daar is geen sin daarin nie. Vind liewer nuwe blydskap, soos Spreuke 15:13 sê: Wat plak nog in jou kop? Miskien is dit bekommernis. Lê jy ook soms wakker en tob oor die toekoms? Die slegte nuus is: dis normaal. Nog slegter nuus is: dit help nie om daaroor te bekommer nie. Dink bietjie hieroor: die teenvoeter vir bekommernis is tevredenheid. Spreuke 15:16 Miskien het jy ook al, soos ek, in die nag somme gemaak wat net nie wil uitwerk nie. Probeer bietjie die volgende: as jy wakker word in die nag, dink liewer oor alles wat reg en goed is in jou lewe. Gesondheid, goeie gesinsomstandighede, dalk positiewe elemente by die werk, vakansie wat oppad is, ens. En dan verder: konsentreer eerder op oplossings as op die probleem self. Bekommernis plak nét te veel in ons koppe, ons huur té veel spasie daaraan uit. Dit help natuurlik ook om met die Here te praat oor jou bekommernis. Vertrou Hom. Gee Hom kans om op Sy tyd die uitkoms te gee. So bietjie stress is goed - net genoeg om verantwoordelik te wees, maar onthou genoeg is genoeg. Ander spasie-stelers in ons koppe is hierdie
daaglikse goeters wat oor ons pad kom en ons so grensloos irriteer, bv. Nog iets wat ons koppe só besig kan hou, is wat ander mense van ons dink. Iemand skinder miskien oor jou en jy loop weke daarmee in jou kop. Dit terwyl die skinderbek so deursigtig is dat ander hulle in elk geval nie daaraan steur nie. Weet jy wat? Dit maak net saak wat die Here van ons dink. As ons pad reguit en eerlik is, maak niks anders saak nie. Spreuke 15:7 Wat moet dan plek hê in jou kop? Die klein jakkalsies wat ons skedels binnedring en ons vreugde kom steel, moet verban word. Jy sien, as jy plakkers in jou kop toelaat, is daar nie ruimte en energie oor vir die heel belangrikste nie, en dit is om met God besig te bly…. Mediteer, oordink, bepeins die Woord, praat met God, luister na Sy stem. Kom ek gee vir jou 'n voorbeeld: wanneer ek voorberei vir my oggendpraatjie op Rippel, dan gebeur dit tussen my dag tot dag dinge. So, wanneer ek 'n tema het, gebruik ek baie kopspasie en laat die gedagtes oor die tema in my kop rondrol. Ek redeneer en beplan so in my gedagtes terwyl ek besig is met ander dinge. En dan as ek gaan sit, dan skryf ek alles net neer, en neem dit vorm aan. Miskien is dit waar dat 'n mens net op een ding op 'n slag regtig kan konsentreer …. So moenie jou kop "clutter" met gemors nie. Jos 1:8
|