|

INTEGRITEIT - 19 November 2008
Job 2:3
Die Here vra toe vir Satan: "En my dienaar Job, het jy hom nou
gesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie; hy is vroom en opreg, hy dien
My en vermy die kwaad. Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om
hom sonder rede te ruïneer."
Wat 'n getuigskrif. Nogal reguit
van God af. Sjoe, nogal lekker om te dink dat jou Koning só oor jou voel.
Die een ding wat hier uitstaan, is INTEGRITEIT. Job was voorwaar 'n man
met integriteit. God sê self dat daar nie nog een soos hy is nie.
Kyk wat is vir God belangrik:
· Hy is vroom: d.w.s. sy voete was
plat op die aarde, geen eie ek nie, hy was presies wat jy gesien het, niks
voordoen nie.
· Hy was opreg: sy ja was sy ja en sy nee was sy nee. Hy kon ten volle
vertrou word. Geen verskuilde agenda nie.
· Hy dien My: Die Here wil hê ons moet Hom dien in alles wat ons doen.
Elke dag, elke oomblik, met ons hele hart, siel en verstand. Hy sê Hy is
'n jaloerse God, Hy wil heel eerste wees in ons lewe.
· Hy vermy die kwaad: Wat hoef mens meer hiervan te sê? Hy doen niks
verkeerd nie. Alles is óf reg, óf verkeerd - daar is niks tussen-in nie.
Só was Job. 'n Man met
ongelooflike integriteit. Rotsvas, vroom, opreg, dienend. 'n Man na God se
hart.
'n Mens met integriteit staan kop
en skouers bo ander uit. Jy sien, die Here is baie, baie duidelik oor wat
Hy van ons verwag.
Lev 19:9-12, 19, 33-37
9 "Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers
afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie.
10 Julle moet ook nie die wingerde 'n tweede keer oes of die korrels wat
val, optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge. Ek
is die Here julle God.
11 "Julle mag nie steel nie en julle mag nie lieg of mekaar bedrieg
nie.
12 Julle mag nie 'n vals eed aflê in my Naam en so die Naam van julle God
ontheilig nie. Ek is die Here.
19 "Julle moet my
voorskrifte gehoorsaam. Moenie verskillende soorte diere kruis of
verskillende soorte saad in een land saai of 'n kledingstuk van
verskillende soorte materiaal dra nie.
33 "Wanneer daar 'n
vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie.
34 Julle moet hom soos 'n medeburger behandel en hom liefhê soos
julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte. Ek is die
Here julle God.
35 "Julle mag nie bedrog pleeg wanneer julle meet of weeg of inhoud
bepaal nie.
36 Julle moet 'n betroubare skaal en die regte gewigte en inhoudsmate
gebruik. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het.
37 Gehoorsaam al my voorskrifte en bepalings en leef daarvolgens. Ek is
die Here."
Integriteit is om te doen wat reg
is. Punt. Geen jakkalsdraaie, geen truuks, geen verneukery nie, kul
niemand nie, verdraai nie die waarheid nie.
Kom ons sit vir Job in 'n paar
hedendaagse beroepe, en kyk hoe sy integriteit daar sou funksioneer:
1) Job, die groenteverkoper: kom
ons veronderstel Job werk daar by die skaal waar die groente geweeg word.
Spr 11:1 Die Here het 'n afsku van 'n skaal wat nie reg weeg nie, net
die regte gewigte dra sy goedkeuring weg.
.. geen gepeuter aan die skaal nie; jy kry waarvoor jy betaal.
2) Job, die werktuigkundige: hy
vervang al die parte waarvoor hy faktureer, gebruik goeie olie, net
oorspronklike onderdele. Hy doen nie meer werk as wat regtig nodig is nie.
3) Job, die eiendomsagent: die een
wat probeer om die huis vir die regte prys te verkoop. Beste waarde vir
geld. Hy jaag nie 'n uitermatige kommissie nie.
4) Job, die finansiële adviseur:
hy kyk ver in die toekoms om seker te maak dat jy goed daaraan toe sal
wees op jou oudag, dat jy jou geldjies só belê dat dit nie al hoe minder
sal word nie!
5) Job, die prokureur: hy sorg dat
waarheid seëvier, en dat die skuldige werklik uitgewys word.
So leef Job dag vir dag sy vroom,
opregte lewenswyse. Dit is nie my bedoeling om suspisie te wek teen sekere
beroepe nie … daar is natuurlik in alle beroepe eerlike en opregte
mense, soos almal by wie ek al motors gekoop het, soos die werktuigkundige
wat my onlangs R6000 gespaar het, deur eerlik te wees. En ja, die makelaar
wat gesê het dat ek nou genoeg polisse het, en nie nóg een aan my
probeer verkoop het nie.
Mense met integriteit het karakter,
jy sien hulle op 'n afstand uitstaan. God sê vir Satan dat Hy vir Job
onskuldig laat ly het, en steeds was hy 'n man van karakter. Gee ons nie
soms vir God die skuld vir ons gebrek aan integriteit nie? Of vir
omstandighede nie? Of dinge wat buite ons beheer "verkeerd
loop"?
Integritiet is nodig in elke fasset
van ons lewens:
· In die huwelik, want man en vrou
moet mekaar hééltemal kan vertrou, elke oomblik van die dag.
· In ons ouerskap, want die kind moet elke ding kan navolg wat ons doen,
en nie net wat ons sê nie.
· In ons saketransaksies. Wat dryf ons? Is dit lekkerder om die geld te
bank of is dit lekkerder om die kliënt se behoefte te bevredig?
· In vriendskap. 'n Ware vriend is selfs nader as 'n broer, sê Spreuke.
Betroubaar. Sal nie oor jou skinder nie. Hy is altyd daar vir jou.
· Ons verhouding met God. Dis die moeilikste, want Hy sien alles, Hy
wéét hoe opreg ons hart is. Voor mense kan ons dalk integriteit aanplak,
maar nie voor God nie.
· Ag, en dan is daar nog integriteit op die sportveld, op die pad, daar
waar jy inkopies doen, ens. Integriteit tel orals!
Die voordele van integriteit:
· Jy hoef nie 'n goeie geheue te
hê nie, want jy hoef niks te onthou nie … jy hoef bv nie te onthou wat
jy laas gelieg het nie, want gister en vandag se stories klop honderd
persent.
· Mense sal jou vertrou met groot dinge, want jy dra eers ander se
belange op die hart, dan jou eie.
· Jy hoef nooit te "backpaddle" nie, want geen geraamte gaan
uit jou kas spring nie.
· Al maak jy 'n fout, sal mense verstaan dat jy nie volmaak en sondeloos
is nie.
· Mense wil jou opinie hoor, raad by jou kry, jou as mentor gebruik.
· God sal jou vereer, soos vir Job. Die Here sal jou kan gebruik, Hy sal
mense na jou toe stuur vir wie jy kan bedien, jy sal Sy verlengstuk wees,
Sy hande en voete vir mense.
Hoe meet ons integriteit?
· Daar is net één reg en één
verkeerd in elke situasie - 'n reguit lyn. Jou gewete is 'n belangrike en
kosbare hulpmiddel om die onderskeid te kan maak.
· Vroom soos Job, is meetbaar. Jy sal nooit wonder as jy 'n vroom mense
sien nie.
· Opregtheid kan in elke situasie aan die Bybel getoets word.
· Vermy die kwaad, soos Job. Iemand sonder integriteit is kort-kort in
die sop!
· Laastens, leef soos Jesus. Hy is die heel, heel beste voorbeeld van
integriteit. Hy het nooit gesondig nie, niemand te na gekom nie. Hy het
self gesterf, onskuldig, vir ons wat só sukkel. Glo Hom, Hy is die Koning
van integriteit.
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|