|
|
|
As jy terugdink aan dit wat jy lees in die Bybel, wat onthou jy van Jesus se optrede? Waarmee het Hy Homself besig gehou? By wie het Hy Sy tyd deurgebring? Na wie het Sy hart uitgegaan? Luk 5:27-32 Jesus tussen die sondaars en die tollenaars. Besig om te werk tussen die owerspeliges, die uitgeworpenes, die wat niks was in die samelewing nie. Mens kan eintlik sover gaan om te sê tussen die slegtes. Matt 9 :35-38 Mense wat moeg, hulpeloos, hooploos en sonder vooruitsig is, het aandag en hulp by Jesus gekry. Ons is in 'n gevangenisbediening betrokke by die vrouegevangenis in Potgieterstraat. Ons hou kerkdienste daar drie Sondae per maand. Mense van alle klasse in die samelewing is daar bymekaar in uiters slegte omstandighede. Dit is beslis nie 'n 5-ster hotel met 3 etes per dag nie. Daar sien jy mense wat "rock-bottom" getref het. Ja, hulle is misdadigers, ja, daar is mense wat moeilik rehabiliteer, daar is ernstige droogmakers, maar …. Daar is sóveel gebroke, sukkelende mense. Mense wat waarskynlik nou by die heel laagste punt in hulle lewe gekom het. Gister toe ons daar was het ek net gevoel: "DIT is my kerk hierdie", of liewer, die kerk vir my. Dit is eintlik die definisie van kerk - daar tussen die gebrokenes, dié wat die Dokter, Jesus nodig het. Tussen dié wat net nie meer kan nie. Dié wat só dringend iets nodig het om aan vas te hou. Mense wat net wil hoor dat daar nog iets soos liefde is. Dit is tussen sulke mense wat Jesus gewerk het. Hoe het Jesus met die sondaars en die droogmakers omgegaan? Weet jy, ek lees nêrens dat Hy hulle veroordeel het nie. Ek lees wel dat Hy hulle jammer gekry het. Innig jammer. Hoe leef ons teenoor dié mense? Ek word so hartseer as mense so wreed en ondeurdag praat van mense wat in die gevangenes is. Ja, natuurlik is daar niks fout met die regstelsel nie, en daar moet sulke instellings wees …. Maar dit bly ménse, mense met 'n pa en ma, met 'n man, 'n suster, 'n kind …. Wie is daar? Kom ek skilder vir jou
'n prentjie: En as Jesus na hulle kyk, dan kry Hy hulle innig jammer. Dan sien Hy ménse, dan sien Hy potensiaal. Hoe gaan Jesus te werk met die
uitgeworpenes, die gebrokenes? Die enigste mense met wie Jesus 'n "probleem" gehad het, was die Skrifgeleerdes, Fariseërs en Familiehoofde. Hulle tempels was indrukwekkend, so ook hulle klere, hulle maniere, gebruike, rituele en ook hulle prediking. Maar, liefde en passie vir die gebrokenes het ontbreek. Hulle hart was nie waar Jesus se hart was nie. Jy sien, Jesus het nie van hulle kerk-kerk speletjies gehou nie. Hulle het swaar en ondraaglike laste op mense gesit, en self nie 'n vinger verroer om dit te dra nie. Klink dit nie bekend nie? Doen sus, trek só aan, gaan deur hierdie prosesse, onderhou dit en dat, beoefen jou Godsdiens op hierdie en hierdie manier, en dan …. is dit die bewys dat jy gered is. NEE, Jesus was 'n Man vir verhoudings; die beoefening van Sy geestelike lewe was basies. Nét liefde het getel, niks anders nie. Hy het by die gebrokenes uitgehang. Is jy dalk vandag in 'n gat? Wel, Jesus is daar. Staan jy voor 'n berg wat massief lyk? Hy staan ook daar. Voel jy gebroke? Eensaam? Verlate? Verontreg? Op die einde van die pad? My vriend, Jesus is daar. Sy werkplek is daar waar jy is. Hy is nóu by die werk… met 'n seer hart oor slegte omstandighede. Hy werk nie soos 'n mens nie - Hy werk soos God … dit is wie Hy is. En ons, waar hang ons uit? Hoe praat ons van die gebrokenes, en armes? Moenie wreed, veroordelend en afbrekend teenoor hulle wees nie - hulle is God se kinders, Sy oogappel! Ps 69:34 … dié wat by God hulp soek, sal moed skep, want die Here slaan ag op die armes, Hy vergeet nie Sy mense wat gevangenes is nie.
|