|
|
|
JESUS vs DIE WET Staan Jesus teen die wet, en het Hy die wet opgehef? Ons het al in die verlede daaroor gepraat en hierna gekyk en probeer om dit in perspektief te kry. Dalk het jy die gesprek gehoor van mnr Wet en sy Bruid. God het vir Moses die wet gegee 'n paar duisend jaar terug as 'n manier om te leef. 'n Manier om God te behaag en 'n lewenswyse voor te hou wat goed is vir die mens. Dis nou inderdaad waar dat ons redding nie meer afhang van hoe goed ons die wet kan onderhou nie, want ons kan nie. Jesus se kruisdood het immers gemaak dat God se genade groter is as ons sondige natuur. En daarom kom waarsku Paulus in Gal 5 : 13 "Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as 'n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde." In Matt 5 - 7 lees ons van die
bergrede, of ook genoem die bergpredikasie. Ons lees dat groot menigtes
Hom begin volg het, sommer vroeg-vroeg in Sy openbare lewe. Dan in Matt 5 lees ons dat Hy teen die berg opgegaan het toe Hy die groot menigtes sien, en Hy het hulle begin leer. Wat baie interessant is, is dat Jesus vir die mense eintlik weer die wet gee, soort van in hulle hedendaagse taal en omstandighede. Dan spreek Hy ook die wet aan:- Matt 5 : 17 - 20 Jesus praat met hierdie menigtes en raak baie verskillende punte aan. Nie om die wet te herhaal nie, maar om vir die mense te leer hoe 'n goeie en gesonde lewenswyse lyk, wat God sal behaag. Tot voordeel van hulleself. Dan raak Hy die volgende punte aan: · Julle is die sout vir die aarde
en 'n lig vir die wêreld. So, in hierdie gedeelte, vertel Jesus vir die mense hoe om te lewe in die millieu waarin hulle gelewe het. Dus 'n wet wat baie sterk ooreenstem met die wet van Moses. Eintlik nie wet in die ware sin van die woord nie, maar eerder 'n goeie gesonde lewenswyse. Was dit nie maar God se bedoeling toe Hy die wet vir Moses gegee het nie? Ons praat oor die bergpredikasie. Kom ons dink so bietjie hoe dit sou wees as Jesus vandag hier tussen ons was. Sê nou maar Jesus gaan sit daar op Kerkplein en ons gaan sit daar rondom Hom op die gras en Hy begin praat. Wat sou Hy vir ons sê in vandag se lewe? Wat sou vandag van toepassing wees? Mense sê so maklik dat die Bybel outyds is en nie meer vandag letterlik opgeneem kan word nie. Nou wonder ek wat van hierdie dinge ons sou uitlaat en wat ons sou byvoeg. Wat is nie meer van toepassing nie. Ek het gaan kyk na al hierdie elemente, en ek sou niks kon uithaal nie. Inteendeel, hoe sou so gesprek verloop, daar op Kerkplein? Dalk sou Jesus kon sê:- · Julle is die sout vir die aarde.
Daar by die kantoor, wees jy die lig. Open die vergadering met gebed,
sodat jou lig skyn. Ja, daar in die hysbak, gebruik die geleentheid om so
ietsie van My te getuig. Wat sou Jesus vir ons sê, aan die hand van die Bergrede? Oor Mammon: Hou op om werk jou afgod te maak. Daardie duur kar en mooi huis is goed en wel, maar nie ten koste van jou gesin of jou verhouding met My nie. En dan die belangrikste: Oppas vir hierdie nuwe teologie wat die rondte doen. Die wat sê, Ek is nie waar nie. Ek het nie regtig opgestaan en opgevaar na die hemel nie. En dat Ek nie die enigste weg tot saligheid is nie. Gaan kies vir jou 'n geloofsgroepering wat net aan die waarheid vashou. Wat net die Bybel aanhang, net soos Ek dit laat opskryf het. Dan sal jy die Ewige lewe be-erwe. Oppas vir daardie vals profete wat nie die Heilige Gees in hulle het nie. Volg My. Inderdaad, glo ek dat Jesus se boodskap net soos 2000 jaar gelede sal klink. Miskien verander die beeldspraak, die vervoermiddels en die karakters, maar Hy verander nooit. Hy wat was, is en sal wees.
|