|
|
|
|
Die toring van Babel – ‘n klein stukkie van ‘n gebeurtenis wat lank, lank gelede plaasgevind het. Gen 11:1-9 Hierdie mense het ‘n plan gehad, hulle het stene gemaak, dit hard gebrand, en toe begin hulle bou. Hulle het stene in plaas van klip gebruik, en asfalt in plaas van klei. Toe sê hulle: kom ons bou vir ons ‘n stad met ‘n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en maak so vir ons ‘n naam. Klink dit nie bekend nie? Die geboue word vandag mos ook hoër en hoër net sodat mense naam kan maak, en belangrik kan wees. In daardie jare was strukture soos hierdie algemeen in Mesopotamië en was ziggoerats genoem. ‘n Kleitablet uit Erek het die afmetings as volg gegee: Die basis was 90m2 en die hoogte was 90 meter. Vreeslike struktuur. 90 meter is so 30 verdiepings hoog. Volgens die Bybel in Praktyk verwys hierdie gedeelte na die dryf van die mens om soos God te wees. Die gebeure in die paradys, met die eet van die vrug, herinner nogal sterk hieraan; die slang het vir die vroue gesê hulle sal soos God wees as hulle van die vrug eet. Die mense wat probeer om God se Koninkryk simbolies te infiltreer, kom dus van die eerste dae af. Nou vra ek jou, doen ons nie vandag ook dieselfde nie? Ek wil probeer om hierdie gebeure met ons lewe van vandag te vergelyk, en om te besin of ons nie dalk soms dieselfde doen as dié ou klompie nie. Hoe lyk ons torings van Babel vandag? Daardie deel van ons lewens, en ja ook ons Godsdiensbeoefening, waar ons ons torings ‘n bietjie hoog bou. 1.Geestelike hoogmoed. Wat is die vlak van jou geestelike lewe? Is daar vlakke? Beteken Geestelike groei dat ons nader aan die Here kom, of nader aan die hemel kom? Of is die eerder ‘n dieper verhouding met Hom? Ek hoor dikwels dat een persoon in ‘n huwelik uitgesproke daaroor is dat die ander persoon nie op dieselfde Geestelike vlak is nie. So ietsie van: Manlief het nog so entjie om te gaan, hy verstaan nie my insig nie, en ja, hy is gered, maar hy beweeg nog op ‘n laer vlak. My toring is tog hoër as joune... dis mos nie reg as ons so praat nie? 2.God praat baie hard en spesifiek met my, en ek hoor sy stem op ‘n bepaalde manier – dit mag waar wees, maar soms laat sulke praatjies my toring lekker hoog klink. ‘n Baie gewilde tipe geestelike taalgebruik is om in elk tweede sin te sê: en die Here het vir my gesê/gewys. Maar onthou asb dat Jer 23:25-32 ook waar is. Ek het gehoor wat sê die profete wat sonder opdrag in my Naam as profete optree. Hulle sê: “Ek het 'n droom gehad, ek het 'n droom gehad!” Hoe lank sal die profete wat sonder opdrag optree, die profete wat leuens uitdink om te verkondig, nog aanhou hiermee? Hulle dink hulle sal my volk my Naam laat vergeet met die drome wat hulle vir mekaar vertel, net soos hulle voorvaders my Naam deur die Baäl vergeet het. Die profeet wat 'n droom gehad het, mag vertel wat hy gedroom het, maar hy wat my woord ontvang het, moet my woord eerlik oordra. 'n Mens kan nie strooi met die beste koring vergelyk nie, sê die Here. My woord is soos vuur, sê die Here, soos 'n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word. Daarom, sê die Here, is Ek teen die profete wat herhaal wat ander sê en dan voorgee dat dit van My af kom. Kyk, sê die Here, Ek is teen dié profete wat hulle eie stories vertel en dan sê: “Die Here sê so.” Kyk, sê die Here, Ek is teen dié profete wat drome wat nie plaasgevind het nie, as openbaring oorvertel, want hulle lei my volk op 'n dwaalspoor met hulle leuens en hulle praatjies. Ek het nie hierdie profete gestuur nie, Ek het hulle ook nie beveel om as profete op te tree nie. Hulle help my volk hoegenaamd nie, sê die Here. Ek glo net eenvoudig nie meer altyd hierdie tipe praatjies nie, want ek het net te veel al gesien dat dit toe nie die Here was wat gepraat het nie. Maar ons sê dit, want dit laat ons toring tog so lekker hoog lyk. 3.Om dinge net op die regte Geestelike manier te doen. Iemand sê eendag dat hulle vir ‘n sieke met kanker bid. Maar hulle bid rég; dis nie sommer net enige gebed nie; hulle bestraf die kankerselle op die regte manier anders sal dit nie wyk nie; of jy bestraf die siekte asof dit die bose self is. Bestraf reg, en die persoon sal genees word. Die ‘n lekker hoë toring, want dit haal die Here eintlik uit die prentjie uit. Die Here genees nie almal nie, en ons pogings en metodes maak nie die verskil nie, net God se soewereiniteit. Al wat die Here vir ons vra is om tot Hom te bid, in nederigheid en afhanklikheid, en Hy sal antwoord, al is die antwoord partykeer nee. 4.Om die duiwel in alles te bestraf. Hoe hoë ons ons torings bou, hoe minder lyk dit my is God se finale oorwinning oor die Satan nodig, want ons doen dit sommer self. Ek het eendag vir iemand gesê dat hy ‘n wonderlike woordvoerder vir Satan is. Hy vertel aanhoudend vir almal hoe sterk Satan is, en dat hierdie en daardie Satan se werk is, en dit en dat kom van Satan af. Daar is sekerlik waarheid daarin, maar toe Satan probeer het om in die hemel te seëvier, is hy daaruit gegooi; en Jesus het hom finaal die nekslag toegedien aan die kruis. Ek en jy hoef nie die Here teen die Satan te beskerm nie. Hy het dit klaar gedoen. Jy sien, ons pogings in hierdie dinge is soms maar soos ‘n toring van Babel, Ons probeer so hard, ons werk so hard, so asof die hele Koninkryk van God in duie sal stort as ons toring te laag is. Ek gaan nou vir jou ‘n stukkie voorhou wat Stefan Joubert geskryf het; dit kom uit ‘n nuwe, Engelse boek van hom “Hijacked by Jesus.”
Ek en jy het nie torings nodig nie. Dit lyk indrukwekkend, maar dit beteken niks. Die voorhangsel is oop – Jesus is nou die weg, die leer na die Vader. Hou op om sélf te probeer. |