|
|
|
Jy is nes jou pa! Het jy dit al gehoor? Of gesê? Is dit 'n aanklag, of 'n kompliment? Dis eintlik 'n ongelooflike waar stelling, want dit sal so wees. Jou pa laat goed agter in jou lewe - goed of sleg – of jy wil of nie. En so sal jy ook maak, en jou kinders sal dit ook doen. Ons noem dit invloed. Ons lees egter in die Bybel 'n ongelooflike stuk hieroor, waar hier van goeie invloed gepraat word, en wat ek en jy vir onsself kan neem. Joh 5:18-26 'n Pragtige gedeelte. Jesus sê pertinent van Homself die volgende woorde:- “Dit verseker Ek julle, die Seun kan niks uit Sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ookal doen, doen die Seun ook”. 'n Groot stuk waarheid, wat vandag ook in my en jou lewe waar is. Jesus onderwerp Homself, met alles wat in Hom is, aan Sy Vader en Hy doen niks uit Homself nie, niks uit Sy eie krag nie, en niks sonder die Vader se seën nie. Weet jy hoekom? Want Sy Vader is volmaak en navolgenswaardig. As Iemand vir Jesus sou sê: “Jy is nes jou Pa”, sal dit 'n onbeskryflike kompliment wees. Ons doen dieselfde op aardse vlak, dis 'n gegewe, maar ons is nie volmaak nie en ons het ook nie volmaakte aardse pa's nie. Daarom moet ons maar 'n bietjie onderskeiding aan die dag lê en eerder doen soos Jesus gedoen het, want Hy het gedoen wat Sy Pa gedoen het. Eks 20:1-5 Wat beteken dit? “Ek reken kinders die sondes van hulle Vaders toe”. Beteken dit dat die sondes van die vaders outomaties oordra na die kinders toe? In 'n mate is dit SO waar! Of beteken dit dat ons gestraf word vir ons vaders se sondes? NEE, nie binne die konteks van die verlossingswerk van Jesus nie. Daarom is ek so bang vir oordrewe klem op voorvader-vloeke. Die Here handel mos met my binne die raamwerk van my geloof in Hom, en Sy verlossingswerk in my. Hoe dit ook al sy, ons ouers het ons beïnvloed, ons beïnvloed ons kinders en so sal dit wees van geslag tot geslag. Maar is dit 'n verskoning om jou foute oor te dra op jou kinders? Nee! My pa was 'n eenvoudige man wat net St 6 geslaag het en sy kinderlewe was baie sleg. Maar hy het besluit om nie alles te doen wat hy sy pa sien doen het nie. Vandag doen ek baie dinge wat ek my pa sien doen het want my pa was 'n goeie voorbeeld vir ons. Hy was baie lief vir my ma, hy het haar Kroon genoem en haar so behandel. Hy was goed vir ons en het ons nooit sleg behandel nie. 'n Hardwerkende, eerlike man. As ek dus slegte dinge doen, is dit verseker nie my pa se skuld nie. “Jy is nes jou pa”, is dus vir my 'n kompliment. As “Jy is nes jou pa”, vir jou 'n aanklag is, kan jy dit verander, as jy wil. 'n Goeie Rippel vriend, wat aan drank en dobbel verslaaf was, het 'n klompie jare gelede op een goeie dag net met alles gestop. Totaal opgehou. Iemand wat dalk eens as 'n “disgrace” gesien was, het verander in die held vir sy gesin, en 'n staatmaker in sy gemeenskap en kerk. Vandag is sy gesin trots op hom, want hy doen wat hy sy Geestelike Vader sien doen. Sy kinders kan dus nou ook doen soos hulle hom sien doen, met trots. Die kringloop is gebreek. Hoor hoe pas Eks 20:6 nou hierby aan: “Maar Ek betoon My liefde tot aan die duisendste geslag van die wat My liefhet en My gebooie gehoorsaam”. Sien jy hoe maklik hierdie kringloop kan verander en 'n verskil maak in geslagte wat kom? Na wie kyk jy? Na jou onvolmaakte pa? Dis nou as jy nie so gelukkig was soos ek nie. Na wie kyk jou kinders? Wie, of wat, sien hulle as hulle na jou kyk? Sou hulle soos Jesus kon sê: “Ek doen net wat ek my Pa sien doen”. Hulle gaan dit in elk geval doen. Maar sê nou maar
daar was nie 'n goeie pa-figuur in jou lewe nie? Dan is die veilige opsie
om alles te doen soos wat Jesus dit sou doen. Omdat Hy net gedoen het was
Sy Vader gedoen het. Joh 14:1-11 Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.” Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self. Pragtige gedeelte wat jy gerus kan bestudeer. 'n Beter rolmodel is daar nie, ongeag of ons aardse pa's goed gedoen het of nie. “As julle My ken, sal julle My Vader ook ken”. Die Vaderhart van God kry ten volle gestalte deur Sy Seun, Jesus Christus, tot wie ons nou volle toegang het, deur die Heilige Gees. En as ek en jy wil weet hoe om die beste denkbare rolmodel te wees, dan verbind ons onsself ten volle aan Jesus, en ons doen wat ons Hom sien doen het in die Woord. Die grootste ding wat Jesus by Sy Vader gesien het, was liefde, want daar staan “God is liefde”. En omdat Hy gedoen het was Sy vader gedoen het, is Hy ook liefde. Ware liefde kom tot volheid in ons as God in ons is. As iemand dus vir jou kinders sou sê: Jy is nes jou pa, wat sal dit van jou reflekteer? Sien mense vir Jesus in jou en my, of nie? |