|
|
|
Op een van ons kampe vertel 'n man dat hy 'n baie slegte verhouding met sy broer het. Hulle het nooit langs dieselfde vuur gesit nie en elke keer as hulle bymekaar gekom het, het die vonke gespat. Net voor die kamp, het die man en sy broer 'n gesprek gehad en met baie moeite het die man vir sy broer gesê dat hy hom liefhet. Sy broer het nie positief gereageer nie, maar dit was vir hom 'n groot stuk bevryding en verligting, so asof daar 'n reuse berg van sy skouers afgelig is. Net die eenvoudige woorde:- “Ek is lief vir jou”. Dis verstommend hoe sleg dit gaan tussen broer en broer, broer en suster en selfs ouers en kinders. En dit nogal volwassenes! Daar waar so baie “eie ek” 'n rol speel, gewoonlik oor absolute snert. Soms iets wat iemand gesê het, of oor geld, of konflik of erfgeld. O wee, en die geskindery! Verstommend hoe bloed nie meer dikker as water is nie en dan nog wat dit aan die ouers doen. Jaloesie, nydigheid, onmin en tweespalt breek hordes gesinne op. Dis so jammer, want dis nie dieHere se wil of bedoeling vir ons as Sy kinders nie. Hoe gaan dit in jou gesin? Alles onder beheer? Gen 4:1-16 Kain en Abel. 'n Tipiese “boere”-gesin, wat vir elke bakatel uitmekaar dryf en dan selfs eindig in moord. Verbrokkelde verhoudinge wat lei tot 'n verskriklike einde. So 'n paar jaar gelede, op 'n mannekamp, vertel 'n man dat hy en sy suster al vir vier jaar nie met mekaar gepraat het nie, maar hulle ry elke dag van voor by mekaar verby en kyk dan anderpad. Dit het alles begin by een enkele simpel argument en beide was te hardkoppig om toe te gee. In die proses verloor hulle vier jaar se kommunikasie! Oor nonsens. Klink nogal bekend, of hoe? Kain slaan vir Abel dood, hy pleeg moord, nie oor geld, of besittings of erfporsie nie, nee, net oor jaloesie. Abel het niks gedoen wat sleg of verkeerd was nie, hy het net 'n aanvaarbare offer vir die Here gebring. God keur Kain se offer af, omdat dit nie met 'n opregte hart gebring word nie. Omdat die Here Abel se offer aanneem, slaan Kain hom dood. Geen goeie verhouding tussen hierdie twee broers nie! Die Here gee hom egter nog 'n kans. Gen 4:6-7 Die Here waarsku vir Kain dat die sonde die oorhand oor hom gaan kry, en sê vir hom dat hy oor die sonde moet heers, maar hy kies die verkeerde pad. En dan kom die verskriklike gevolge van sy jaloesie. Hy vermoor sy broer. Kain en Abel. Jy en jou broer. Kain pleeg fisies moord, ons pleeg soms emosionele moord en selfs emosionele selfmoord, gewoonlik gedryf deur jaloesie of nydigheid. Sjoe, mense kan darem oor nietighede hulle gesinne uitmekaar ruk. Een is hardkoppig, die ander een 'n drama queen, nog een 'n rissiepit en een 'n skinderbek. 'n Paar skewe woorde, 'n paar rand en daar spat die vonke. Die Here vra vir Kain:- “Waar is jou broer?” Dan vra hy:- “Moet ek dan my broer oppas?”. Weet jy wat die antwoord op daardie vraag is? JA! Jy móét jou broer oppas, ons as gesinne moet mekaar oppas, ons moet mekaar beskerm en versorg. Ons moet mekaar bystaan in moeilike tye en sorg dat ons almal gelukkig is. Boonop moet julle mekaar liefhê - dis die Here se opdrag. As jy dit nie doen nie is jy buite die wil van die Here. Snaaks genoeg, ek het nog nooit die skuldige broer / suster ontmoet nie. Nog nooit gehoor:- “Ek het my broer so ingeloop en lekker oor hom geskinder. O ja, ek het hom ook lekker verneuk met geld.” Nee jong, die skuldige is morsdood! Die skuldiges bly seker op 'n ander planeet. En dan, eendag, staan jy langs 'n oop graf en dis te laat om reg te maak. Vir ewig te laat. Ek het vertel van die broer en suster wat mekaar vier jaar lank vermy het. Weet jy hoe het hulle dit reggestel, die verhouding reggeruk en weer vriende geword? Hy het haar gebel en gesê:- “Ek is jammer”. NET DIT! Drie simpel, eenvoudige woordjies. Enige situasie tussen twee partye wat so sukkel kan met ‘n sinnetjie woorde opgelos word. “Ek is jammer” of “Ek spreek jou vry” of “Ek vergewe jou” of “Ek is lief vir jou”. Net dit. En al word julle nie weer vriende nie, is die situasie ten minste opgelos. Hoe moeilik is dit? Jy sien, hierdie man was net so skuldig soos sy suster, maar trots het hom verhoed om dit reg te stel. Trots en hoogmoed. Daardie selfde ding wat gemaak het dat Satan uit die hemel gewerp is. Trots en hoogmoed verwoes gesinne en harmonie tussen mense en breek ouers se harte in die proses. Dit vat 'n man op 'n perd om daardie stap te neem, om die foon op te tel of te ry na die ander party se huis toe om te gaan regmaak. Is jy 'n man op 'n perd? Het jy die moed? Mens sal vir jare in hierdie konflik leef, heeldag aan die ander persoon se foute dink en dan waaragtig glo hulle is gelukkig. Gen 4:13-16 “Ek sal 'n doellose swerwer wees...”. Vers 16 se:- “En Kain het van die Here af weggevlug”. Klink nie na 'n baie gelukkige mens nie, of hoe? Uiteindelik het hy in Nod, oos van Eden gaan woon. Sonder die Here. Kain het swaar gedra aan sy straf, vir altyd. Matt 6 :14-15 “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” Dis God se woorde. Hy gaan jou nie vergewe as jy nie iemand anders gaan vergewe nie. Jesus se eie woorde. Kain se pad het weg van die Here geloop. Waarheen loop jou pad? Moet jy nie dalk vandag daai oproep gaan maak nie? Of wil jy eerder saam met Kain in Nod, oos van Eden gaan bly? |