|
|
|
Tussen 1869 to 1916 leef Grigory Rasputin in Rusland. Rasputin was eerder berug as beroemd, en het die vermoë gehad om almal op hol te jaag. Rasputin was nie noodwendig bekend as ‘n misdadiger nie, maar eerder iemand wat vol streke was, wie jy nooit kon vertrou nie, en hy het die eienaardigste goed aangevang. Hy het beweer dat hy mense kon genees, het graag die Bybel gepredik, ‘n verhouding met die Tsarin gehad asook vele jonge dames. ‘n Mistieke figuur op sy beste. Hy was ook die “mad monk” genoem. Hulle het
probeer om hom te vermoor deur hom te skiet, toe oorleef hy dit. Hulle het
hom arseen gevoer, maar hy het niks oorgekom nie. Daarna is hy met vier
skote getref, maar hy is nie dood daaraan nie, toe gooi hulle hom in ‘n
rivier en hy verdrink. Rasputin was ‘n gure kárakter! Hy was veelbesproke,
soveel so dat Boney M selfs ‘n treffer gehad het met die liedjie
“Rasputin”. Die woorde sę dit alles: Ons hoor mos gereeld iemand sę: Hierdie is darem maar ‘n vreemde kárakter. Dan verwys hulle na iemand wat nie lekker is nie, wie jy nie kan vertrou nie, wie jy nie kan glo nie, wie vreemd optree. Aan die anderkant, as jy van iemand sę: Hierdie is ‘n man van karákter, dan is die teendeel van wat ons nou net genoem het waar. Iemand met karákter is ‘n mens naby wie jy wil wees. Ek is seker jy ken mense wat by albei hierdie situasie pas: “Kárakters” en mense met karákter. Ek dink so baie by myself: watse tipe mense is dit wat ‘n rekenaarvirus skryf? Of ‘n beleggingskema aanmekaar sit en gewetenloos ou mense se pensioengeld steel. Nie eens te praat van moordenaars, diewe, ens nie. Ek dink ek trek hier ‘n lyn tussen twee groeperinge: ‘n moordenaar / inbreker / rower is iemand van wie jy dit verwag. Maar daar is ‘n ander groepering, mense wat tussen ons beweeg, wat ons vriende of familie kon wees, mense wie jy sou vertrou, mense wat jou ęrens erg teleurstel. Jesus was seker dié Persoon in hierdie lewe wie se karakter absoluut onberispelik was. WWJD – what would Jesus do, was vir lank ‘n baie gewilde bandjie / slagspreuk wat ons vertoon het, maar ek wonder hoe goed ons oor die algemeen hierin vorder. Ek is net eerlik as ek sę: ek het dit liewer nie vertoon nie. Miskien omdat ek my eie integriteit in twyfel trek. ‘n Rotsvas karakter vra baie, en ek ken mense wat dit het. Ek ken ook mense wat dit nie het nie... en ek wonder waar ek self staan. Job 2:1-3 Job se karakter. Rotsvas, vroom, opreg, dienend. Iemand wat kan bly staan, ten spyte van wat ookal, wat altyd dieselfde bly, hy is ‘n ou met ‘n karakter en ‘n half. In ‘n boek “Finishing Strong”, van Steve Farrar, skryf hy dat baie mense goed begin, maar min mense goed klaarmaak. Hy noem van 4 predikers, dinamiese sprekers wat lank gelede die hele węreld in beroering gepreek het. Drie van hulle was werklik uitmuntend, en een eintlik so-so. Hierdie drie persone het een na die ander uit die bus geval. Drank misbruik, egskeiding, meer as een het sy geloof totaal verloor, verkeerde paaie en slegte verhoudinge, het sy tol geëis. Die vierde persoon was nie so ‘n vurige spreker nie, maar hy het vasgebyt en hy “finished strong”. Miljoene mense is deur sy bediening aangeraak, en op ‘n hoogs bejaarde ouderdom gebruik die Here hom voluit. Sy naam is Billy Graham. Jy hoef nie vir Billy Graham persoonlik te ken om te weet dat sy karakter onbesproke is nie. Hy het die toets van die tyd deurstaan. Rotsvas, vroom, opreg dienend. Weet jy wanneer word ons karakter tot op die been beproef? Wanneer ander mense hulle toekoms, lewensmiddele, gesondheid, lewens, kinders, geld, regsake, veiligheid, ens aan ons toevertrou. Daar waar waaragtige eerlikheid en integriteit nodig is. Dit kan in baie van ons se beroepe getoets word. En ek dink, hoe meer geld op die spel is, hoe moeiliker raak dit. Blatant lieg, en inligting weerhou is presies dieselfde ding. Of om op ‘n ander ou se rekening te lieg. Kom ek vertel jou van ‘n ou (hy het regtig bestaan) wat tot die besef gekom het dat hy ander bedrieg het. Hierdie ou het mense wild en wakker besteel en bedrieg, soms openlik. Hy het die mag gehad, mense was uitgelewer aan hom, hy het weggekom met moord. ‘n Vervlakste gure kárakter. Geen karákter! Die sisteme het hom beskerm, net soos dit vandag nog werk. Maar toe kom Jesus op sy pad. Ons lees van hom in die volgende gedeelte: Luk 19:1-10 Toe verander Saggeus van ‘n gure kárakter na ‘n man van karákter. Saggeus het nie net opgehou met sy streke nie, hy het gaan vergoed. Dink vir ‘n oomblik, is jy skuldig aan sulke goed? En as jy is, wat gaan jy daaraan doen? Gaan jy ‘n kárakter bly, of gaan jy ‘n karákter kry? Ek doen besigheid vir ‘n lewe, en ek weet hoe moeilik is dit om die streep te trek. Ek hoef nie te jok nie, ek hoef inligting net te verdraai, of verswyg. Lyk my die lyn tussen ‘n kárakter en iemand met karákter, is baie, baie fyn. En jy – is jy dié kant of daai kant? Karakter, wat sou Jesus doen?
|