|
|
|
Nou die dag laat ek my motor was by die garage. My motor was sommer baie vuil – vol stof en goggas, maar sommer so tjoef-tjaf is hy toe weer skoon Terwyl ek in my motor sit binne-in die karwas-masjien, besef ek so ‘n paar dinge: (1) Die vuil buite-op het absoluut niks aan my kar se waarde verander nie (2) Die vuil het niks aan die motor se kwaliteite verander nie (3) Dit het niks aan my verwagtinge van die motor verander nie. (4) Ek was niks minder lief vir hom terwyl hy vuil was nie (5) Hy het nie in onguns by my verval terwyl hy vuil was nie (6) Ek het besef hy gaan weer vuil word, en ek sal hom wéér moet was – oor en oor, want karre word nou maar eenmaal vuil. En so kom die parallel toe in my kop met ons lewens, en ons sondige bestaan voor die Here. Ek het grootgeword in die Moot-area in die NG kerk, en ons dominee (vir wie ek baie bang was), het ons deeglik onderrig oor sonde. Bykans alles was sonde – dans, fliek, vinnig ry, partytjies, bierdrink, vir die buurvrou loer, meisies soen, kort rokkies dra, ens. Party van die goete het toe later ‘n vervaldatum gehad, en was toe nie meer sulke erge sonde nie. Dans was toe net sonde na 12 uur op ‘n Saterdagaand. Cowboy-flieks was ook later okei. Maar, as die ouderling geskei het, of ‘n meisie het swanger geraak, was hulle onder sensuur geplaas. Dominee was ‘n sonde kenner, maar hy het nie eintlik die “remedy” daarvoor geken nie, en toe dikwels die kansel half stukkend geslaan uit frustrasie, want die gemeente wou nie luister nie. Ongelukkig het ek toe geglo dat God een hengse arsenaal kweperlatte gehad het wat Hy kwistig gepluk het vir die spreekwoordelike ses van die bestes. Hy het my skoolonnie se slaanvermoë soos ‘n amateur laat lyk. Hierdie sondelaag het soos ‘n massiewe pantser om my maer lyfie opgepak, sodat geen liefde van God kon inkom nie. En dis regtig hoe ek geglo het: die Here kan my nie liefhê nie, want ek het te veel sonde. Joh 8:6-11 Ou dominee het regtig nooit vir ons laat verstaan wat Tetelestai beteken nie. Nooit. Ek kan nie onthou wat die Heidelbergse Kategismus of die vyf Dortse leerreëls daaroor gesê het nie. Maar ... om die een of ander rede het ek tog altyd lief gebly vir die kerk, en het ek bykans altyd oggend- en aanddienste bygewoon. Vandag besef ek maar net dat dit die genade van Jesus was.... want, iewers in my wese het daar iets begin deurskemer dat Jesus se kruisdood “iets” moes beteken. Ongelukkig was dit ook ‘n tyd waar pa’s nie maklik vir hulle kinders gesê het dat hulle vir hulle lief was nie; daarom kon baie mense nie verstaan dat God hulle onvoorwaardelik kan liefhê, ten spyte van ons sondige natuur. Joh 13:4-11 Sien jy die totale, onvoorwaardelike aanvaarding van Jesus vir jy dissipels? Vers 10: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon, hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon ....” Ai, baie van ons sukkel om hierdie onvoorwaardelike vergifnis van die Here te aanvaar. Mense dink jy moet elke keer weer van voor af tot bekering kom wanneer jy weer gesondig het. Dis nie so nie. Daarom sal ek nooit glo dat iemand wat selfmoord gepleeg het noodwendig in die hel is nie. Genade, onbeskryflik groot ... dis ver bo die begrip van enige mens. Ons sal dit seker nooit regtig kan verstaan nie. Terug by die karwas-episode: 1 Die vuil van die kar het niks met sy waarde te doen nie. As gevolg van die bloed van Jesus is jou waarde voor God totaal onaantasbaar en onveranderlik. Iemand wat dalk sogenaamd sondeloos leef, het geen greintjie meer waarde as ek en jy nie. ‘n Kar van R300 000, kos steeds R300 000 al is hy vol stof of modder. 2 Die vuil van die motor het niks met sy kwaliteite te doen nie. ‘n Vuil Porche is presies net so vinnig soos ‘n skoon een. Ek en jy is steeds tot alles in staat deur Christus wat ons krag gee. Vol stof of nie vol stof nie... 3 ‘n Vuil motor verander niks aan my verwagtinge van hom nie. Ek verwag dieselfde verrigting, bransstofverbruik en vermoëns. Die Here kan my en jou ook steeds ten volle gebruik, ten spyte van die stoflaag. Lees gerus hierdie stukkie: “’n Reguit hou met ‘n krom stok” 4 Ek is niks minder lief vir my vuil kar nie. Vir wie sal die Here lief wees as daar net skoon, stofvrye mense is? Hoef ek meer te sê....? Is jy net vir jou kind lief as hy soet is? Of is daar dalk juis so bietjie meer deernis vir daai enetjie wat jou grys hare gee? 5 Daai blink gepoetste karretjie gaan wéér vuil word. Heiligmaking beteken om aanhoudend te verbeter. Maar sonde klou. Goddank, die Skoonmaker, Jesus, is altyd beskikbaar. Hy kan nie wag om met Sy groot, liefdevolle hande oor jou te streel tot jy skoon is nie. Jy sien, Jesus stof ons die hele tyd af, gedurig, onophoudelik... al rol ons in die modder. Ons het ‘n ou saam met ons in die weermag gehad met die bynaam, Apie. Apie het nie gebad nie, en dan het ons hom maar geskrop (met vloerborsels) ... so het ou Apie skoongekom, want self het hy dit nie gedoen nie. Jesus “skrop” ons die heeldag, uit liefde. Self kan ons nie skoonkom nie. Hy hou ons skoon, want ons leef uit Sy vergifnis. “Was my asb” – so krap sommige mense met hulle vingers in ‘n ander ou se vuil kar se stoflaag. Net so ‘n “reminder”-tjie dat jou kar vuil is. Satan maak ook maar só – hy gaan krap daar op jou vuillaag om jou te herinner dat jy vuil is – so asof jy dit nie weet nie. Jy sien, ou sekelstert staan egter elke keer geskok as hy so skryf op jou lyf en dan terugstaan om sy handewerk te beskou en skielik is sy spykerskrif weg; hoe meer hy probeer skryf, moet minder is dit sigbaar .... shame! Dis dan wat Jesus vir hom sê: het jy al gehoor van Tetelestai? Dit is volbring! |