|
|
|
KEN DIE VYAND Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar die bose geeste in die lug. Glo jy dit? Glo jy dat daar magte en kragte teenwoordig is wat ons nie kan sien nie? Wel, glo dit!! Dit is daar, ongeag of iemand dit glo of nie. Glo jy dat Satan bestaan? Wel, glo dit!! Want as dit nie so was nie, is God 'n leuenaar, en kan ons die Bybel in die asblik gooi. Dink jy die Bybel is waar? Wel, glo dit!! Want ons oppermagtige God het sekerlik die vermoë om Sy Woord in stand te hou. Ons het Maandag-oggend gepraat oor God se almag en grootheid. Dis dan sekerlik nodig om soms te praat van die vyand. Satan, genoem die verleier, vader van die leuen, owerste van die wêreld, die draak, die dier uit die see, versoeker, vors van die onsigbare magte, dier uit die aarde, ons. Hoekom moet ons daaroor praat? Wel, dis sekerlik nodig om die vyand te ken. Want as ons hom ken, en sy strategie ken, sy vermoëns, sy metodes, sy geskiedenis, dan kan ons mos meer paraat wees teen die kalant. Moenie 'n fout maak nie, Satan is oorwin aan die kruis, toe Jesus gesterf en opgestaan het, maar hy is nie weg nie, hy het nie opgehou om ons te verpes nie, Hy is daar, alive and well!! En hy het baie demone in sy weermag. Wees maar op die uitkyk, hy loer agter elke tweede bos uit. Al is hy oorwin deur Jesus. Dis goeie nuus. Waar kom hy vandaan? Openb 12 : 7 - 9 Satan was in die hemel, en is uit die hemel uitgegooi omdat Hy in opstand gekom het teen God. 2 Petr 2 : 4 "God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel." Dit is dus duidelik dat hy/hulle nie meer in die hemel is nie, in die hel gestort is en nooit weer daar kan uitkom nie. Probleem is net, hy is nie beperk tot die hel nie. Inteendeel, net na Jesus se doop - dis waar Hy vir Sy werk op aarde in Sy amp ingestel is, kom Satan op die toneel. Jitte, lyk my hy kon nie wag nie, toe is hy by Jesus. Matt 4 : 1 - 11 Hy gaan bied sommer vir Jesus al die koninkryke van die wêreld aan. So asof dit aan hom behoort. Kan jy sien dat hy nie sommer 'n ou lammertjie is nie? Hy gaan vat vir Jesus trompop aan. Asof daar geen vrees vir Jesus is nie. Net so, vandag, vir jou en my. Hoe gaan hy vandag te werk? Die Bybel het talle aanhalings oor die duiwel se metodes. Hy probeer alles. 1. Hy is totaal in beheer van die sondige wêreld. 1 Joh 5 : 19 "Ons weet dat ons aan God behoort, en dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is." Moet wees, dis tog sekerlik nie God wat sonde laat gebeur nie. 2. Hy verlei gelowiges om te sondig. Matt 16 : 21 - 23 Daar lees ons van Petrus wat vir Jesus wil verseker dat hy nie sal toelaat dat Jesus se heilsplan uitgevoer word nie. Jesus sê: "Moenie in my pad staan nie Satan! Jy is vir my 'n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê." Hand 5 : 3 "Petrus sê vir hom:- Ananias, hoekom het jy jou deur die satan laat omhaal om vir die Heilige Gees te lieg en van die verkoopprys van die grond vir jouself agter te hou?" 3. Hy probeer mense weerhou om vir Jesus te aanbid en kennis te versamel. Matt 13 : 19 "Die Bose kom by elkeen wat die woord van die koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie, en vat dan weg wat in sy hart gesaai is." 4. Hy vermom homself as die engel van die lig. 2 Kor 11 : 14 "En geen wonder nie, Satan self doen hom voor as 'n engel van die lig." Ja, hy het baie planne, hy is baie slinks, en jy sal hom agter elke hoek en draai kry. Kuier in die donker, daarom doen hy homself voor as die engel van die lig. Hoe dan nou gemaak? Wel, Satan kan jou net van een ding aankla, en dis oor jou verlede. Verlede is daardie tyd tot 'n sekonde gelede. Hy herinner jou konstant aan jou verlede. En as hy dit doen, herinner hom aan sy toekoms. Want dis waar hy vir homself 'n standplaas bekom het. Hoe oorwin ek hom? 1. Deur geloof. Ef 6 : 16 "Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die bose kan afweer." 2. Aanvaar die oorwinning van Jesus oor die Satan, en maak dit jou eie. Joh 12 : 31 "Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld, die Satan, uitgegooi word buitentoe." 3. Staan hom teë. Jak 4 : 7 "Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug." Moenie toegee nie, nie aan versoekinge nie, nie aan sondes nie. En hy sal van jou af wegvlug!! Sien jy hoeveel mag het jy oor hom? Want, hy het net jou verlede. Maar ons? Ons het'n toekoms in Christus. Halleluja - dis ons oorwinning.
|