|
|
|
Keuses, keuses
… moeilike ding. Dit maak dat mens ‘n besluit moet neem, en dan met
die gevolge moet leef. Onthou jy die referendum, jare gelede? Ek is seker
hierdie gedagte maak sekere emosies in jou wakker… by party woede, ander
teleustelling, ander ontnugtering; sommige kan dalk voel dat daar
verbreekte beloftes is, terwyl ander kan voel dat die situasie wel sy gang
gegaan het soos wat dit bedoel was. Maar, hier is ons nou in 2009, en ons
moet leef met die gevolg van die keuse wat toe gemaak is. Nou kan ons wéér
kies. Sommige sê: “why bother” en bly weg. Ander het ‘n strategie,
bv “Kom ons sorg vir ‘n sterk opposisie”, en dan is daar báie wat
nogal heel opgewonde is oor wat gebeur en om hulle stem uit te bring. Hos 8:1-4 Sommige voel dat
hierdie teks ons huidige situasie mooi beskryf. Ek voel weer dat hierdie
teks waar kan word as ons nie almal help kies nie. Staan ons net terug,
dan help ons eintlik dat “konings” aangestel word sonder die Here se
goedkeuring. Keuses, keuses.
Wat sal maak dat môre anders is as gister? Wat se invloed het vandag se
keuse op môre? Jy sien, toe jy klein was, kon jy niks kies nie. As baba
het ons die nodige instinkte gekry om te oorleef – jy kon suig, sluk,
beweeg, asemhaal, ens – sonder keuse! Toe kom die fase waar jy probeer
kies, maar jy mag nie. Bv. jy wou op die wasbak klouter, jy wou die
potplantgrond uitkrap, jy wou nét sjokolade eet, ens., maar jy mag nie,
want Ma se nee was haar nee. Toe kom die volgende fase waar jy kies, en Ma
kom tweede; Pa en Ma se gesag word ondermyn, jou keuse kom eerste. As Ma
jou nou toelaat om bv soos ‘n “hooligan” ‘n tantrum te gooi in die
winkel, om op 120km/h regop op die voorste sitplek van die motor te staan,
besef sy nie dat jy nog nie die verantwoordelikhede van jou keuses kan
neem nie. Eventueel word jy darem toegelaat om meer en meer keuses te
maak, en word jy geleer dat jy verantwoordelikheid moet neem vir jou
keuses en die gevolge moet dra in die geval van verkeerde, slegte keuses. Spreuke 4:10-20 Mooi, né? So
word ‘n kind geleer om te kies. Doen dit, moenie dat doen nie, moet,
moenie …moet, moenie. En dan, hoe ouer ons word, hoe meer gewigtig word
die keuses. Die slim mense sê jy neem die twee grootste besluite van jou
lewe op ‘n tyd dat jy die minste reg is daarvoor, nl. jou beroep en jou
huweliksmaat. Besluite met verreikende gevolge. Dan, soos tyd loop, moet
mens meer en meer keuses maak om hierdie aanvanklike keuses in stand te
hou. Nou moet jy kies om jou beroep te geniet, jou werk met oorgawe te
doen. Jy moet kies om getrou te wees aan jou vrou, om haar lief te hê en
te versorg. Ons staan elke dag voor keuses, en party daarvan is nogal gewigtige goed. Dit het laaang gevolge. Verreikend. Soms gaan dit gepaard met ‘n geween en ‘n gekners van tande. Soos bv. ons keuse oor ons saligheid. Want, net soos met hierdie verkiesingsdag is geen keuse soms ‘n enorme keuse! Kies nie vir die Here nie, dan kies jy outomaties die hel. Kies om nié te stem téén ‘n bepaalde party nie, stem jy tog eintlik vir hulle. Geen keuse is soms ‘n baie slegte keuse. Dit ontneem jou van deelname, van ‘n opinie, van invloed. Dit los jou presies waar jy is. So is dit met ons saligheid. Om die ewige lewe te mis, hoef jy niks te doen nie, en niks te kies nie. Ons moet elke dag
kies en dan moet ons elke dag besluit of ons die verantwoordelikheid van
ons keuses sal vat. Keuses lei ons altyd in ‘n bepaalde rigting. Waar jy
vandag woon, kan heel waarskynlik na een enkele keuse in jou verlede terug
herlei word. Net so met jou beroepskeuse, jou huidige werk, jou
huweliksmaat, jou geestelike status.
Dalk kry jy op hierdie stadium geweldig swaar oor één enkele
verkeerde keuse. Dalk verwyt jy jouself oor ‘n dom keuse. Wel, dan moet
jy nou maar vandag kies om jouself te vergewe, of om iemand anders te
vergewe. Kies, kies, kies.
Weet jy hoe ongelooflik positief jy jou toekoms kan verander deur vandag
‘n goeie keuse te maak? Dalk gevolge wat tot in die hiernamaals strek
– vergewe iemand, kies die Here, kies vrede, kies ‘n beter gesindheid
teenoor jou werkgewer, kollega, skoonma, ens. Partykeer kies ons nie, omdat
ander mense ook nie kies nie. Partykeer kan ons korporatief ‘n groot
invloed uitoefen, hoewel ons dalk kan dink dat ons as individu geen impak
kan maak nie. Eendracht maakt macht! – onthou jy nog? Jy sien, die Here
werk deur jou en my, as ons net bereid is om deel te wees en deel te neem
aan Sy plan en doel. Gebrek aan keuse
het sekerlik ‘n rol te speel in toekomstige probleme. Gebrek aan keuse
kan die werk van die Here in die wiele ry. Ons dink soms ons sal net
deelneem aan die wedloop as ons definitief gaan wen of ten minste ‘n
goeie toekoms het. Maar … wat van bv die Comrades – daar is nie 1
wenner en 80000 verloorders nie. Almal wat deelneem wen. Jy moet net
klaarmaak. Wat gaan jy vandag doen? Deelneem en jou stem uitbring? ‘n Besluit maak? Of kies jy om nie te kies nie? ….. dis jóú keuse!
|