Vandag
is Stemdag. ‘n Geskiedkundige dag, of liewer, nóg ‘n geskiedkundige
dag. Hier is ons nou: 15 jaar na die begin van die sogenaamde “demokrasie”.
Demokrasie wat beteken dat almal kan help kies. Almal kies, maar die
meerderheid wen. Natuurlik sou ons wou hê dat ons elkeen se keuse
die wen-keuse moes wees, maar dit werk ongelukkig nie so nie. Dus,
wat oorbly is om te kies of ons gaan help kies.
Keuses, keuses … moeilike ding. Dit maak dat mens ‘n
besluit moet neem, en dan met die gevolge moet leef. Onthou jy die
referendum, jare gelede? Ek is seker hierdie gedagte maak sekere
emosies in jou wakker… by party woede, ander teleurstelling, ander
ontnugtering; sommige kan dalk voel dat daar verbreekte beloftes is,
terwyl ander kan voel dat die situasie wel sy gang gegaan het soos
wat dit bedoel was. Maar, hier is ons nou in 2009, en ons moet leef
met die gevolg van die keuse wat toe gemaak is. Nou kan ons wéér
kies. Sommige sê: “why bother” en bly weg. Ander het ‘n strategie,
bv. “Kom ons sorg vir ‘n sterk opposisie”, en dan is daar báie wat
nogal heel opgewonde is oor wat gebeur en om hulle stem uit te
bring.
Hos 8:1-4
Maak alarm! Daar draai 'n roofvoël oor my huis! sê die Here.
Israel het my verbond verbreek en hulle teen my wil verset.
Hulle roep na My om hulp: "Ons is aan U toegewy, ons God! Ons is
Israel."
Maar Israel het die goeie verwerp, daarom sal die vyand hom
agtervolg.
Hulle het hulle eie konings aangestel sonder my goedkeuring, hulle
het leiers aangestel wat Ek nie erken nie. Hulle het vir hulleself
afgodsbeelde gemaak van hulle silwer en goud, maar dit sal vernietig
word.
Sommige voel dat hierdie teks ons huidige situasie
mooi beskryf. Ek voel weer dat hierdie teks waar kan word as ons nie
almal help kies nie. Staan ons net terug, dan help ons eintlik dat
“konings” aangestel word sonder die Here se goedkeuring.
Keuses, keuses. Wat sal maak dat môre anders is as
gister? Wat se invloed het vandag se keuse op môre? Jy sien, toe jy
klein was, kon jy niks kies nie. As baba het ons die nodige
instinkte gekry om te oorleef – jy kon suig, sluk, beweeg, asemhaal,
ens – sonder keuse! Toe kom die fase waar jy probeer kies, maar jy
mag nie. Bv. jy wou op die wasbak klouter, jy wou die potplantgrond
uitkrap, jy wou nét sjokolade eet, ens., maar jy mag nie, want Ma se
nee was haar nee. Toe kom die volgende fase waar jy kies, en Ma kom
tweede; Pa en Ma se gesag word ondermyn, jou keuse kom eerste. As Ma
jou nou toelaat om bv soos ‘n “hooligan” ‘n tantrum te gooi in die
winkel, om op 120km/h regop op die voorste sitplek van die motor te
staan, besef sy nie dat jy nog nie die verantwoordelikhede van jou
keuses kan neem nie. Eventueel word jy darem toegelaat om meer en
meer keuses te maak, en word jy geleer dat jy verantwoordelikheid
moet neem vir jou keuses en die gevolge moet dra in die geval van
verkeerde, slegte keuses.
Spreuke 4:10-20
Luister, my seun, en aanvaar wat ek jou sê; dit sal jou
lewensjare baie maak.
Ek sal jou leer wat die pad van die wysheid is en jou die regte
koers laat loop.
As jy loop, sal daar niks in jou pad wees nie, en as jy hardloop,
sal jy nie struikel nie.
Hou vas aan wat ek jou leer, moet dit nie laat los nie; bly daarby,
want dit is jou lewe.
Moenie agter die goddeloses aanloop nie, vermy die pad van slegte
mense.
Los dit, moenie daarop loop nie, draai weg, vermy die slegte mense;
hulle kan nie slaap as hulle nie kwaad gedoen het nie; hulle lê
wakker as hulle nie iemand se ondergang bewerk het nie.
Misdaad is hulle kos, geweld hulle drank.
Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en
sterker word tot dit heeltemal dag is;
die pad van die goddeloses is soos die donker: hulle weet nie
waaroor hulle sal struikel nie.
My seun, hoor wat ek vir jou sê, luister goed na my woorde!
Mooi, né? So word ‘n kind geleer om te kies. Doen
dit, moenie dat doen nie, moet, moenie …moet, moenie. En dan, hoe
ouer ons word, hoe meer gewigtig word die keuses. Die slim mense sê
jy neem die twee grootste besluite van jou lewe op ‘n tyd dat jy die
minste reg is daarvoor, nl. jou beroep en jou huweliksmaat. Besluite
met verreikende gevolge. Dan, soos tyd loop, moet mens meer en meer
keuses maak om hierdie aanvanklike keuses in stand te hou. Nou moet
jy kies om jou beroep te geniet, jou werk met oorgawe te doen. Jy
moet kies om getrou te wees aan jou vrou, om haar lief te hê en te
versorg.
Ons staan elke dag voor keuses, en party daarvan is
nogal gewigtige goed. Dit het laaang gevolge. Vêrreikend. Soms gaan
dit gepaard met ‘n geween en ‘n gekners van tande. Soos bv. ons
keuse oor ons saligheid. Want, net soos met hierdie verkiesingsdag
is geen keuse soms ‘n enorme keuse! Kies nie vir die Here nie, dan
kies jy outomaties die hel. Kies om nié te stem téén ‘n bepaalde
party nie, stem jy tog eintlik vir hulle. Geen keuse is soms ‘n baie
slegte keuse. Dit ontneem jou van deelname, van ‘n opinie, van
invloed. Dit los jou presies waar jy is. So is dit met ons
saligheid. Om die ewige lewe te mis, hoef jy niks te doen nie, en
niks te kies nie.
Ons moet elke dag kies en dan moet ons elke dag
besluit of ons die verantwoordelikheid van ons keuses sal vat.
Keuses lei ons altyd in ‘n bepaalde rigting. Waar jy vandag woon,
kan heel waarskynlik na een enkele keuse in jou verlede terug herlei
word. Net so met jou beroepskeuse, jou huidige werk, jou
huweliksmaat, jou geestelike status. Dalk kry jy op hierdie stadium
geweldig swaar oor één enkele verkeerde keuse. Dalk verwyt jy
jouself oor ‘n dom keuse. Wel, dan moet jy nou maar vandag kies om
jouself te vergewe, of om iemand anders te vergewe.
Kies, kies, kies. Weet jy hoe ongelooflik positief jy
jou toekoms kan verander deur vandag ‘n goeie keuse te maak? Dalk
gevolge wat tot in die hiernamaals strek – vergewe iemand, kies die
Here, kies vrede, kies ‘n beter gesindheid teenoor jou werkgewer,
kollega, skoonma, ens. Partykeer kies ons nie, omdat ander mense ook
nie kies nie. Partykeer kan ons korporatief ‘n groot invloed
uitoefen, hoewel ons dalk kan dink dat ons as individu geen impak
kan maak nie. Eendracht maakt macht! – onthou jy nog? Jy sien, die
Here werk deur jou en my, as ons net bereid is om deel te wees en
deel te neem aan Sy plan en doel.
Gebrek aan keuse het sekerlik ‘n rol te speel in
toekomstige probleme. Gebrek aan keuse kan die werk van die Here in
die wiele ry. Ons dink soms ons sal net deelneem aan die wedloop as
ons definitief gaan wen of ten minste ‘n goeie toekoms het. Maar …
wat van bv. die Comrades – daar is nie 1 wenner en 80000 verloorders
nie. Almal wat deelneem wen. Jy moet net klaarmaak.
Wat gaan jy vandag doen? Deelneem en jou stem
uitbring? ‘n Besluit maak? Of kies jy om nie te kies nie? ….. dis
jóú keuse!
|