KOM HIER!!


Matt 4 : 18 - 25
" Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om 'n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep. 19 Hy sê toe vir hulle: Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak. 20 Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg. 21 Toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers: Jakobus 'n seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was in 'n skuit saam met hulle pa besig om hulle nette reg te maak. Jesus het hulle geroep, 22 en hulle het dadelik die skuit en hulle pa verlaat en vir Jesus gevolg. 23 Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. 24 En berigte oor Hom het deur die hele provinsie Sirië versprei. Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, dié wat in die mag van bose geeste was, geestelik versteurdes en verlamdes na Hom toe gebring, en Hy het hulle gesond gemaak. 25 Groot menigtes uit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en van oorkant die Jordaan af het Hom gevolg."

So begin Jesus Sy kerk op aarde. Eendag terwyl Hy langs die see loop. Hier roep Jesus Sy eerste dissipels en sonder enige 'fanfare', inwydingseremonie of enige ritueel begin Jesus die grootste enkele beweging wat hierdie aarde ooit getref het. Voor dit was daar godsdiens beoefening, godsdienstige rituele, die dinge wat by die tempel gebeur het, die fariseërs, skrifgeleerdes, familiehoofde en priesterhoofde. 'n Tydperk waarin daar lankal gewag is vir die verlosser wat sou kom, 'n nuwe koning, een wat dalk op 'n strydwa aangery kom, met 'n leër agter hom aan. Alles behalwe 'n "gewone" man, die seun van Maria en Josef... soos daar gemeen is. Iemand uit 'n skrynwerkers winkel wat langs die see loop. Sy heel eerste gemeentelede is vissermanne, toe nie van die fariseërs wat so geleerd was nie. Al wat Hy doen is, Hy sê: "Kom hier". Net dit. Kom hier, kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak. Wat sou Petrus-hulle gedink het? Wie is hierdie man, wat met soveel gesag jou naderroep. Jy sien, Jesus se "kom hier" kan óf soos 'n aggressiewe bevel klink "Kom hier!", óf soos 'n sagte uitnodiging. Jou kinders weet as jy hulle roep, aan jou stemtoon, of hy 'n pak gaan kry, of 'n sjokolade. Jesus se uitnodiging, was liefdevol en sag. Nes vandag nog.

Hoe het die lewe gelyk in daardie gebied voor Jesus gekom het? Ons lees dat Jesus self sê in Matt 9 : 36 - 38 "Toe Hy die menigte sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie. Hy sê toe vir Sy dissipels, die oes is groot, maar die arbeiders is min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir Sy oes".

Die mense was moeg en hulpeloos en dwalend. En dan was daar die Fariseërs wat die mense met verskriklike reëls belas het.

Matt 23 : 1 - 10 " Toe het Jesus die menigte en sy dissipels toegespreek 2 en gesê: Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het die gesag om die wet van Moses te vertolk. 3 Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê, maar hulle voorbeeld moet julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie. 4 Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie 'n vinger verroer om dit te dra nie. 5 Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot. 6 Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges 7 en om op straat deur die mense begroet en as "rabbi" aangespreek te word. 8 Maar julle moet julle nie "rabbi" laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers. 9 Moet niemand hier op aarde as "vader" aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel. 10 Julle moet julle nie "leiers" laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus."

Dit lyk of die mense swaar gekry het, want sommige van hulle leiers was diktators wat ondraaglike laste op die mense gesit het. Daarom was die mense soekend, en het hulle gewag dat hulle nuwer verlosser sou kom. Jy sien, die probleem met die Fariseërs was dat die mense gepeper was met dinge wat hulle móés doen, hoe hulle moes optree, anders was hulle nie aanvaarbaar vir God nie. Die heel belangrikste ding wat ontbreek het in hulle lering, was liefde. Die een groot element wat die wêreld aanmekaar moes hou, is nie vir hulle vertel nie.

Die kerk van Jesus, wat 2000 jaar gelede begin het toe Hy op die strand gestap en mense geroep het met die woorde "kom hier". Hy begin op 'n heel ander manier om sy gemeente op te bou. Hy leer hulle sommer daar op die grasperke. Hulle stroom na Hom toe, want Hy kom en bied iets anders aan. Hy sit sommer gemaklik daar op die skuit aan die kant van die meer en vertel vir hulle hoe hulle moet lewe. Hy gaan so entjie teen die berg op en gebruik alledaagse dinge om die mense te leer. Van verlossing, van lewenskwaliteit. Hy gebruik beelde van dinge waarmee die mense vertroud was. Dinge soos sout, 'n lamp, 'n emmer, 'n saadjie, brood, suurdeeg, linker- en die regterhand, jou voet, tong, oog. Dinge wat deel is van jou liggaam. Dinge in die veld bv. wilde voëls, lelies. Jy sien, Jesus se styl was anders as die Fariseërs. Hy het die wet (wat wreed kon klink), vervang met lewenslesse, reëls vervang met 'n lewensuitkyk, oordeel vervang met lewenskwaliteit.

En as Hy die heel belangrikste dinge aan die mense wou verduidelik, roep Hy 'n kindjie nader, en Hy sê "wees soos 'n kind". Hoe is 'n kind? Hy kyk op, boontoe as hy voor 'n volwassene staan. Armpies langs die sy, kyk hy in afhanklikheid op na die een voor hom. En so sê Jesus, met ons voor Hom kom staan. Jesus se hele aanslag is liefde. Hy wil die beste vir die mense hê, en daarom leer Hy hulle so. Hy maak siekes gesond, laat blindes sien, en lammes loop. Hy kom lei 'n nuwe tydperk van kerk wees in.

Die kerk van die Here Jesus Christus. Vir Hom was die mens belangrik. Sy kerk het nie mure gehad nie. Hy het nie aan 'n bepaalde denominasie behoort nie. Sy kerkraad was gewone manne, vissermanne. Hy was die beste "teacher" wat ooit geleef het, maar daar was nie eksamens nodig nie. Sy kerk het nie mure gehad nie, dit was sommer in die veld. Sy gemeente se name was nie op dokumente geskryf nie, nee, hulle name was direk in die Boek van die Lewe geskryf. Sy kerkraad het nie die mense belas nie, hulle het die mense gedien. Hy was Rabbie genoem, en Leermeester, maar Hy was meer as dit. Hy het mense se voete gewas. Hy het opgestaan teen die sisteem, want dit het die mense verwurg. Hy was 'n leier, groter as wat ooit voor of na Hom geleef het. Die impak wat Hy gemaak het, was so groot, dat niks tot vandag dit ooit kon oorskadu nie. Hy het liefde gepreek, en geleef.

En ons vandag? Ja, ons vind onsself in strukture, en denominasies, maar as Jesus sentraal staan, is alles reg.

Dan kom Sy groot opdrag vir jou en my. Hy sê "Sit My werk voort". Maak julle nou vissers van mense. Daar op die strand, daar waar jy ontspan, daar by die werk. Kan ons dit doen? Ja, ons moet maar net sê wat Hy gesê het, en doen soos Hy gedoen het. Dissipels wees en dissipels maak. Tot Hy weer kom.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)