|
|
|
KRY DIE VISUM GEREED! Dis amptelik, die Botha's is op pad! Visums is reg, paspoorte is reg, ons is deur al die nodige eksamens, medies, alles! Ons blyplek anderkant is uitgesorteer, nuwe werk wag. Bykans alles is hier afgehandel. Weet nog nie 100% wanneer nie, maar al die aanduidings is dat dit binnekort sal wees. Wat sal ons dit noem... Groener weivelde? Crime free? 'n Nuwe lewe? Geen probleme? Jip, die nuwe begin wag! Jammer vir dié wat agterbly. Die nuwe woning is ook reg. Ek wil graag bietjie spog as ek mag. Ons gaan in die mooiste stad denkbaar bly. Ek verduidelik bietjie: "Die stad het 'n groot hoë muur met twaalf poorte. By die poorte is daar twaalf engele, en op die poorte is daar name geskrywe, dié van die twaalf stamme van die volk Israel. Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie. Die stad se muur het twaalf fondamente, en daarop is daar ook twaalf name, dié van die twaalf apostels van die Lam. Die engel wat met my gepraat het, het 'n goue meetstok gehad om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te meet. Die stad is vierkantig, net so lank as wat hy breed is. Hy het die stad toe met die meetstok gemeet. Die lengte, die breedte en die hoogte daarvan is dieselfde, twaalf duisend kilometer. Hy het ook die muur om die stad gemeet. Dit is honderd vier en veertig meter hoog. Die engel het die mate van mense gebruik. Die muur is met opaal gebou en die stad self met suiwer goud wat soos 'n skoon spieël lyk. Die fondamente van die stadsmuur is met allerhande edelstene versier: die eerste fondament met opaal, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met smarag, die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agste met beril, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint en die twaalfde met ametis. Die twaalf poorte is twaalf pêrels. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die strate van die stad is van suiwer goud, blink soos 'n spieël." Ons nuwe tuiste, lieflike plek! "Out of this world"! Die beste van alles is, dit is heeltemal verniet, dit kos ons nie 'n sent nie! Alles is van ons kant af gereël, ons wag net dat ons Gids ons kom haal. Ons is oppad! Hemel toe! Wanneer? Ons weet nie … toe ek vir die Here gevra het, het Hy vir my die volgende gesê: "Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Here in Sy eie mag bepaal het nie" (Hand 1:7) en Mark 13:32-37:"Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. Dit is soos 'n man wat ver weggegaan en sy huis onder beheer van sy slawe gelaat het. Hy het vir elkeen sy werk gegee en die deurwagter beveel om waaksaam te bly. Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie, sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!" Nou ja, nou wag ons maar geduldig! Ons was net nie seker wat, en of
ons al moet inpak nie. Ek het al gesê ek wens ek kon ten minste my
Takamine kitaar saamvat, maar toe sê die Here vir my: "nee, jy's
laf!" Op 'n stadium moes ons besluit wanneer ons die sake agtermekaar moet kry. Ons onthou toe dat daar staan dat Jesus sal eers weer kom as almal gehoor het (Matt 24:14). Dié storie is vinnig besig om te gebeur. Dink net aan verlede naweek waar daar 60 000 mans by die Mighty Men - kamp was. Hulle (en hulle gesinne) het gehoor. Oor 3 maand is dit die Loftus-byeenkoms, 11 Mei is Global day of Prayer oor die hele wêreld! Televisie, radio, sending … sjoe, lyk my almal is besig om te "hoor"… op die een of ander manier. En intussen? Ai tog, intussen woed
al die slegte dinge maar voort: misdaad, verval, omgekrapte weerpatrone,
gerugte van oorloë, aardbewings, mense bevraagteken God … Toe ons dink
dinge gaan baie sleg, toe lees ek Matt 24:6-14: Nou lyk dit vir my ons moet die Here maar vertrou, want stadig maar seker begin die legkaart in mekaar pas - die einde is oppad! Die groot trek gaan gebeur - maar net vir dié wat reg is, en staan en wag by die hek, met die paspoort in die hand. Los die tassie, dis nie nodig nie. Wag vir die eerste, laaste en enigste vlug. Matt 24:40-41 sê dat as twee op die land werk, een sal gaan en een sal bly; twee sal koring maal, een sal gaan en een sal bly. Dié sonder visums sal bly. Wees gereed, kies nou! Luister na die woorde uit "Waarom wil jy agterbly", van Leon Goosen: "Waarom wil jy agterbly? Waarom is jy sonder hoop? Waarom kan jy geen gemoedsrus kry? Te laat maak jy jou oë oop. Luister nou na die Woord van God, hoe dringende die Gees by jou pleit. Waarom dan nie nou regmaak? Te laat kom die ewige spyt… As jy die stem van God ervaar en jy wil nou daarop reageer, bid dan nou net hierdie gebed agter my aan: Jesus, ek is 'n sondige mens en ek het U vergifnis en vryspraak en redding nodig. Ek neem U nou aan en vra U om asseblief my naam in die boek van die lewe te skryf, sodat ek die ewige lewe kan ontvang, anders is alles wat U hier op aarde gedoen het heeltemal oorbodig. Kom vul my asseblief met U Heilige Gees en help my om van nou af U alleen te volg en van my verkeerde weë af te wyk. U sal my Here wees. Dankie daarvoor Jesus. Ek prys u lieflike Naam. Dankie vir U genade. Amen" DAN kom die beloning: die nuwe tuiste met ongekende voordele. Die beste plek denkbaar! Kom ons kyk net na so 'n paar
praktiese punte voor die "groot trek": Openb 22:6-20
|