|
KYK
MET ANDER OË - 8 Oktober 2008
Wat sien jy as jy om jou kyk? Nou
ja, dis geen geheim dat dinge tans bietjie in 'n warboel is nie. Dit is
egter 'n probleem as dit ál is wat ons raaksien, en as ons niks
meer van die mooi van die lewe raaksien nie. Daarom kom pleit ek vandag by
jou, en by myself: kyk 'n slag met ander oë! Dink bietjie wat sou met jou
gemoedstoestand gebeur het as ons net vir een dag al die slegte goed kon
ignoreer, en nét kon konsentreer op die mooi om ons. Weet jy dat dit
moontlik is? Kom ek vra jou: "waarmee is jou gedagtes die meeste van
die tyd besig?" Ek praat nou nie van werkdetail nie. Terwyl jy werk,
terwyl jy bestuur - waaraan dink jy? Ek sit verlede week daar op die
strand en kyk die mense so een vir een, en ek wonder waaraan elkeen dink.
Almal dink tog aan iets. Heeldag. Maar waaraan? Kom ons sê twee mense het
daar langs mekaar gelê, elkeen met sy eie gedagtes. Persoon Een dink aan
misdaad, die regering wat deurmekaar raak, rentekoerse, die verkiesing,
werksdruk, sy slegte finansies, vallende aandele beurs, ens. ens. ….
Alles net negatiewe goed. Persoon Twee forseer hierdie gedagtes uit sy kop
uit. Hy dink aan die heerlike sonskyn, hoe mooi die branders breek, hoe
die Here die hemelruim skilder met pragtige wolke, die wit seesand … Hy
sien hoe kinders lag en baljaar, ens. ens… Wie van dié twee is die
beste af? Kon enige een van die twee iets aan die negatiewe goed verander?
Verseker nie! Wie is die een wat depressief geraak het? Nie Persoon Twee
nie! Persoon Een wens die goed in sy gedagtewêreld kan verander; Persoon
Twee wil NIKS verander aan sy gedagtes nie. Dis mos ons keuse om met ander
oë te kyk.
Dink jy nie ook die Here kan dalk
dink ons is darem baie ondankbaar nie? Besef ons altyd dat God ons baie
spesiaal ag, en dat ons 'n baie besondere plek in die skepping het?
Ps 8
1 Vir die koorleier: met musiek. 'n Psalm van Dawid.
2 Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe
glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
3 Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring
het. So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges, tot swye
gebring.
4 As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre
waaraan U 'n plek gegee het,
5 wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom
omsien?
6 U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak en hom met
aansien en eer gekroon,
7 U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom
onderwerp:
8 skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld,
9 die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis.
10 Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!
Kom ons staan bietjie stil by 'n paar dinge:
· Die misdaad in die land is vreeslik sleg, en daar is boosheid, maar …
dit kan niks verander aan 'n vriend wat nader is aan 'n broer nie. Dit kan
niks verander aan mense wat regtig góéd is nie. Daar is wonderlike
vredeliewende mense, en ja, van ALLE bevolkinsgroepe.
· Die ekonomie druk dat die trane rol… dis sleg, maar… dit kan niks
verander aan die gevoel van dankbaarheid as die Here 'n wonderwerk in
moeilike tye laat gebeur nie. Kan jy ook getuig van tye waar alles donker
lyk, en skielik kom die deurbraak? Ek is seker jy het ook so 'n storie om
te vertel.
· Die jeug van vandag … daar is sprake van kinders wat alle reëls en
gesag oorboord gooi. Dwelms, seks, ens is aan die orde van die dag. Dit is
so, maar … dis by verre in die minderheid. Dit verander niks aan die
mooi van 'n kind wat regtig 'n sieraad is nie. Ek kyk so by die skool waar
my dogter is, en dink, jitte hier is darem oulike kinders. Ek moet net met
die regte oë kyk.
· Ons sien hoe ons planeet vernietig word deur onsself. Aardverwarming,
besoedeling, Hartbeespoortdam-die swamdam(!) Ja, dit lyk vreeslik, maar
…dit verander niks aan die gevoel van 'n lekker rustige reënbuitjie
nie. Kaalvoet in die reën. Onthou jy? Ons het kaalvoet in die stroompie
water geloop wat so op die kant van die teerpad vloei en as jy
"reg" trap op die Jakaranda-blommetjies dan maak dit so 'n
lekker klapgeluidjie. Sien jy dit nog in jou geestesoog? Onthou jy nog die
reuk van die grond as dit net begin reën? Onthou jy wintertyd in die
laerskool as die ys so op die gras van die rugbyveld lê en ons skaats so
met kaalvoete daarop? Sien jy nog dié dinge om jou? Sien jy nog hoe
lieflike wolke vorm? Spierwit wolke teen helderblou lug, soos massiewe
wattebolle wat kilometers hoog uittroon. Weet jy, my vriend, die Here maak
hierdie ongelooflike mooi kunswerke vir jou en my om te geniet. Hy skilder
elke dag splinternuwes, die een mooier as die ander - vir ons! Sien jy dit
nog? Of vertroebel die wêreld se probleme die kunsskatte van die Here?
· Die oorlog in die Midde-Ooste kan nooit die prag van 'n pasgebore
babatjie oorheers nie. Wat is mooier as so 'n pienk weerlose lyfie, wat
só afhanklik is van die versorging van sy ma? Só sien die Here ons ook
as 100% afhanklik van Hom, en Hy wil ons versorg, Hy wil net die beste vir
ons gee en doen. En weet jy, my vriend, só dikwels stoot ons sy
koesterende hand weg, en probeer ons self die mas opkom. Só baie keer sê
Hy: kyk net bietjie weg van die negatiewe goed af, en kyk na die daaglikse
wonderwerke wat Ek vir jou wys.
Nee jitte, ons kyk te veel kere
deur 'n vuil sonbril, en dan sien ons niks van die goeie en die lekker om
ons raak nie. Ons woon in een van die mooiste lande op aarde, maar ons
kies om op die boosheid van die mens te konsentreer. Ons aanbid die
wonderlikste, liefdevolle God, maar sien min van Sy hand in ons lewens
raak.
Mag die Here ons help om nuut te
kyk, met vars, helder oë. Mag ons leer om die prag van die Skepping raak
te sien.
Kyk met ander oë!
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|