|
|
|
Ek lees ‘n boek van Bill Hybels met die titel: “Lewe met Oorgawe: praktiese lewenswysheid uit Spreuke”. Dit is pragtig en prakties. Spreuke en Prediker is inderdaad wonderlike boeke wat geen slimmigheid of kennis verg nie. Dit bevat bykans geen beloftes nie en werk eintlik hoofsaaklik met “bullets”. Alles word puntsgewys gegee: doen dit, moenie dat doen nie, oppas hiervoor, maak sus of maak so. Dit praat oor bykans elke faset van die lewe. Op party dinge lê dit baie sterk klem, bv. eerlikheid, integriteit, wysheid en kennis, harde werk, ens. Dan waarsku die boek aanhoudend teen verkeerde verhoudings, in besonder buite-egtelike verhoudings (iets wat vandag al amper alledaags word, en so amper mode). Spreuke is nie net deur Salomo geskryf nie, dis ‘n bundel van spreuke deur verskillende mense. Sommige van die goed word op só kostelike wyse beskryf. Spr 6:24-35 Jy kan ‘n prostituut kry vir ‘n stuk brood. Kan jy kole in jou klere inhark sonder om te brand? Hy sal slae op die lyf loop.... is dit nie só waar nie? Hy praat van owerspel, van ‘n man wat by ‘n ander man se vrou slaap, alles in een sin. Dit lyk my eintlik of hy so ‘n vrou gelykstel aan ‘n prostituut. In vers 24 praat hy van ‘n “slegte vrou van ‘n ander”. Hy praat reguit, op die man af hieroor. In Spreuke 5:15 sê dit “Jy het tog self ‘n vrou, jy het tog self ‘n put met water". Meneer en Mevrou, moenie draaie loop met die Here nie, reg is reg, en verkeerd is verkeerd. Oppas vir die sms’e en e-posse wat jy aanstuur. Oppas vir praatjies met iemand van die teenoorgestelde geslag, moenie onbetaamlike onderwerpe aanraak in gesprekke nie. Spr 23:29-25 Drank – gesondheid-verwoester, huwelik-opbreker, gesin-vernietiger, waardigheid-aantaster. Sien jy hoe pateties word hierdie figuur in Spreuke 23 beskryf? Sjoe, hierdie ou gooi woes sy naam weg. Bloedbelope oë, onvas op sy voete. As ‘n mens wat drank misbruik hierdie deel lees, sien jy jouself in ‘n spieël wat net eenvoudig nie lieg nie. Dit voel of jy op die oop see lê. Wanneer word ek wakker? Ek wil maar weer iets gaan soek om te drink.... Hierdie man of vrou is ‘n “disgrace” vir sy/haar familie, en kinders. Soos ‘n ou wat so dronk was, toe hy omval het hy gelê en slinger! Hoekom praat die Here so ernstig daaroor? Ek dink omdat dit so baie lewens verwoes. ‘n Outjie wat my so nou en dan gehelp het in my besigheid is onlangs dood in ‘n ongeluk. Die ander bestuurder het na drank geruik. ‘n Lewe tot ‘n einde. Dalk net so erg is dit wanneer jou kinders se lewe verwoes word deur jou drankgebruik, al gaan hulle nie dood daarvan nie. Die kinders van ‘n verslaafde se lewens word verwoes, hulle menswaardigheid word afgebreek – en dit is so onnodig. Spr 6:6-11 Lees wat 2 Tess 3:6-7 sê oor mense wat leeglê. Vers 10 sê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” Ek dink die onderskeid lê in die woord “wil”. Party mense hét nie werk nie, maar party WIL nie werk nie. En dan is daar die wat werk toe gaan, en nie werk nie! Hier is vir jou ‘n moedswillige vraag: het jy al jou produktiwiteit in ‘n persentasie bereken? Party mense wérk nie baie ure nie. As jy nie plant nie, sal jy nie oes nie. Die Bybel sê mos: in die sweet van ons aangesig ... Spr 14:12 & 16:25 ‘n Mens kan maklik rasionaliseer. Alles wat ons verkeerd leef, kan reggepraat of geregverdig word. Christene verneuk mekaar, openlik, en kom weg daarmee. Het jy al gehoor van iemand wat deur sy vennoot ingeloop is? Waarskynlik al baie. Het jy al ooit die skelm vennoot ontmoet? Iemand wat sê: sjoe, ek het my vennoot kwaai te na gekom? Waarskynlik nie. Ek dink dit is waarna hierdie spreuk verwys. Dit lyk so reg, maar dis so verkeerd. Ons as Christene het nou maar eenmaal voete van klei. Ons benadeel mekaar en knip nie ‘n oog daaroor nie, want ons lewenswyse lyk vir ons so reg. As jy by daardie punt kom, kan jy dalk nie meer tussen waarheid en leuen onderskei nie. En as geld deel word van hierdie ding, is daar nog groter moeilikheid. Spreuke 15:16 sê: liewer min hê en die Here dien, as groot rykdom en bekommernis daaroor. So handel die hele boek Spreuke oor riglyne vir die lewe. Lees dit en leef dit. |