LEWE VOLGENS KONINKRYKSBEGINSELS 1


Dit gebeur nogal meer en meer dat mense bespiegel oor die geldigheid van die Bybel in vandag se tyd. Dis nogal 'n mode om te sê ons moet die Bybel in sy regte konteks sien, en dat ons moet besef dat die Bybel lank terug geskryf is vir die mense van daardie tyd. Wel, ons gaan in twee stukkies (klik hier om nr. 2 te lees >>) so 'n paar elemente daarvan toets. Nogal vreemd, maar ek het nog nooit iets in die Bybel gelees wat sleg is om na te volg nie. Die Bybel leer my eerstens van God, maar dan (baie belangrik) hoe om te leef volgens Koningkryksbeginsels. Ek glo ons sou seker vir weke kan gesels oor 'n lewe soos God dit wil hê, maar vandag gebruik ons die Bergpredikasie, oftewel die bergrede. Kyk bietjie of jy enigiets kan kry hierin wat jy dink oudmodies is, of nie van toepassing op vandag nie.

Matt 5 : 13 -17
13 Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.
14 Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie;
15 ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis.
16 Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.
17 Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.

Nou ja toe, klink heel positief vir my. Om sout vir die aarde te wees, en 'n lig vir die wêreld, is sekerlik die mees uitstaande kenmerk van 'n wedergebore Christen. Om sout te wees beteken om 'n verskil te maak, mense te beïnvloed , en dit te doen wat Jesus sou doen. En die lig vir die wêreld? Om uit te staan as Jesus se navolger, sodat jy ander kan lei na God toe.

Die volgende punt praat oor die wet. Kom ons kyk of dit van toepassing is vandag.

Matt 5 : 17 - 20
17 Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.
18 Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.
19 Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel.
20 Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.

Jy sien, hierdie punt is wat mense so graag ongeldig wil maak. Hoekom die wet? Om God se wil uit te voer, 'n skoon en aangename lewe te lei, en dan seker baie belangrik - die Here gee ons die wet om ons teen onsself te beskerm. As ons die wet by die deur uit wil gooi, moet ons net bereid wees om die nagevolge ook te vat. As mense jou goed steel, jou vrou begeer en afvat, jou of jou kind vermoor, ens. Nee wat, die wet is goed, dit hou balans.

Matt 5 : 21 - 24
21 Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: "Jy mag nie moord pleeg nie;
22 Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir 'n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir 'n idioot, is strafbaar met die helse vuur.
23 As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het,
24 laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

Praat van versoening. Is dit sleg? Of oudmodies? Nee, dit is mos nie lekker as daar onmin tussen mense is nie. Of hoe? Dink net met hoeveel pyn, en skeuring, en onenigheid dit gepaard gaan. Gebroke verhoudinge is een van die slegste siektes van ons tyd. Dit is soos 'n kanker in ons families en vriendekringe. Is daar dalk iemand met wie jy moet gaan regmaak? Doen dit asseblief vandag. Sodat dit nie langer soos 'n meulsteun om jou nek hang nie. Vergewe daardie persoon, of gaan vra vergifnis! Nee jong, versoening is nie uit die oude doos nie.

Oor kuisheid:

Matt 5 : 27 - 30
27 Julle het gehoor dat daar gesê is: "Jy mag nie egbreuk pleeg nie."
28 Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na 'n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.
29 As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word.
30 Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.

Dit klink ook vir my so tipies vandag. Die Here waarsku ons baie ernstig in hierdie gedeelte teen ontrouheid. God het tog immers die huwelik ingestel met die bedoeling van een man en een vrou. Jou eie vrou! Moenie eers kyk om te begeer nie. En poppie by die werk? Nee jong, los haar uit! Dis net vir jou eie beswil.

Die volgende een is sekerlik die grootste probleem van ons tyd.

Matt 5 : 31 - 32
31 Daar is gesê: "Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar 'n skeibrief gee."
32 Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.

Die Here sê egskeiding is niks anders as geweld nie. As jy sulke gedagtes koester, gaan lees wat God alles in die Bybel sê oor egskeiding. Dit is teen sy wil! Want dit vernietig so baie verhoudinge tussen man en vrou, ouers en kinders.

Dit is nie oudmodies nie, en net in die konteks van 'n lewe 2000 jaar gelede nie. Probeer weer, maak dinge reg, aanvaar die verlede en los dit daar. Gaan vir berading. Pray together, stay together. Laat God die middelpunt wees. Egskeiding is teen God se wil.

Matt 5 : 33 - 37
33 Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: "Jy mag nie jou eed verbreek nie, en 'n eed in die Naam van die Here moet jy nakom."
34 Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie 'n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God;
35 nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning.
36 Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy 'n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie.
37 Laat julle "ja" eenvoudig "ja" wees en julle "nee", "nee". Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.

Waarsku teen die aflê van 'n vals eed! Laat jou ja jou ja wees, en jou nee jou nee. Dit wys jou integriteit. Die waarheid is die waarheid. Wat meer gesê word as dit, kom van die bose.

Matt 5 : 38 - 42
38 Julle het gehoor dat daar gesê is: "'n Oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand."
39 Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen 'n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.
40 As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere.
41 As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer.
42 Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.

Moenie vergeld nie, dit is God se werk. "Draai die ander wang". Dit is wat Jesus sou doen. Two wrongs do not make a right. 'n Oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand is juis so Ou Testamenties. Nee, God wil hê ons moet die minste wees.

Matt 5 : 43 - 48
43 Julle het gehoor dat daar gesê is: "Jou naaste moet jy liefhê
44 Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê
45 sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.
46 As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie?
47 En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?
48 Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.

Liefde vir die vyand. Seker een van die heel moeilikste dinge om na te kom. Hoe dan iemand liefhê wat jou te na gekom het? Wel, met Jesus in jou hart, is dit moontlik!

Nou ja, dit lyk so vir my dat God net goeie bedoelings het vir ons. Uit die Bybel, wat so lank terug geskryf is.

Elke woord is steeds vandag geldig. God wil vir ons 'n goeie lewe gee, maar ons het 'n verantwoordelikheid teenoor die Here, ons medemens en onsself.

'n Lewe volgens Koninkryksbeginsels is 'n vol en voorspoedige lewe, ons moet net die handboek se instruksies volg.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)