|
LEWE
VOLGENS KONINKRYKSBEGINSELS 2
Ons het verlede keer gepraat oor 'n
lewe volgens Koninkryksbeginsels uit die Bergpredikasie. 'n Wonderlike
manier wat Jesus met die mense gepraat het, 2000 jaar gelede, en dis alles
nog nèt so geldig vandag.
Matt 6 : 5 - 7 (Die Onse Vader)
5 Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie.
Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en
bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle
beloning klaar weg.
6 Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou
Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou
beloon.
7 Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van
woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word
omdat hulle baie woorde gebruik.
Jesus waarsku teen gebed wat ten
doel het om ander te beïndruk. Gebed is 'n intieme aksie tussen die mens
en God. Sê ons nie só maklik vir iemand "Ek sal vir jou bid"
nie? Nee, as jy sê, moet jy dit doen, anders is dit soos die skynheiliges
waarteen Jesus waarsku!! Bid liewer nèt daar vir die persoon, sommer so
oor die telefoon. En wees ook versigtig wààrvoor jy vir gebed vra.
Matt 6 : 19 - 21
19 Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit
verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie.
20 Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie
verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie.
21 Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.
Matt 6 : 24
24 Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een
minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander
een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.
Jesus waarsku só baie teen
materialisme, en die liefde vir geld. Omdat Hy weet wat dit aan 'n mens
kan doen, en hoe dit ons liefde vir Hom be-invloed. Dit lyk my, hoe meer
skatte ons op aarde bymekaar maak, hoe minder tyd het ons om skatte in die
hemel bymekaar te maak. Die woord "vrede" kom voor in die woord
"tevrede". Is jy tevrede met wat jy het? Dan het jy vrede - wat
alle verstand te bowe gaan.
Matt 6 : 25 - 34
25 Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor
wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet
aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere
nie?
26 Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak
nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle
nie baie meer werd as hulle nie?
27 Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele
uur verleng?
28 En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies:
hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie.
29 Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos
een van hulle nie.
30 As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre
verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg
nie, julle kleingelowiges?
31 Julle moet julle dus nie bekommer en vra: "Wat moet ons eet of wat
moet ons drink of wat moet ons aantrek?" nie.
32 Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse
Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.
33 Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil
van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.
34 Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie
bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.
Kan jy sien hoe volledig die Bybel
is? Hierdie woorde is 2000 jaar gelede geskryf. En vandag nog net so waar.
Bekommernis help niks!! As iets jou kwel, pas die volgende oefening toe.
1. Skryf neer wat jou pla - woord
vir woord.
2. Skryf neer wat aanloop gee tot die probleem.
3. Besluit wat jy daaraan kan doen.
4. Besluit om dit vandag te doen.
5. As niks anders werk nie, aanvaar dit.
God sal vir jou sorg, soos vir die
lelies.
Matt 7 : 1 - 6
1 Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie;
2 met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle
geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal
vir julle gemeet word.
3 Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die
balk in jou eie oog merk jy nie op nie?
4 Of hoe kan jy vir jou broer sê: "Wag, laat ek die splinter uit jou
oog uithaal," en intussen is daar 'n balk in jou eie oog?
5 Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan
sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.
6 Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en
julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal
dit met hulle pote vertrap.
Sjoe, ons is goed met hierdie een.
Hoe gereeld loop ander nie deur onder ons nydige tonge nie. Een vinger wys
na 'n ander, en vier wys terug. Toe die fariseërs die vrou wat owerspel
gepleeg het na Jesus toe gebring het, het Hy nie haar sondes goedgepraat
nie. Hy het net gesê "Wie van julle gaan die eerste klip gooi?"
Wie van ons is so heilig en sondeloos om onsself beter as ander te beskou,
en om ander te veroordeel. Nee wat, begin vandag om net mooi dinge van
ander te sê.
Matt 7 : 7 - 12
7 Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en
vir julle sal oopgemaak word,
8 want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat
klop, sal oopgemaak word.
9 Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra,
10 of 'n slang as hy vis vra?
11 As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee,
hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan
dié wat dit van Hom vra?
12 Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle
ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die
profete.
Sjoe, net jammer ons misbruik vers
7 so bietjie. "Vra, en vir julle sal gegee word". Jy sien, die
belofte in hierdie gedeelte gaan daaroor dat God vir ons sal gee wat ons
nodig het, nie net wat ons altyd wil hê nie. Vers 11 sê "Hoeveel te
meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan diè wat dit
van Hom vra". Waarvoor moet ons ons gawes aanwend? Nie net vir
onsself nie. Dan sal jy aan ander doen wat jy aan jouself gedoen wil hê.
Matt 7 : 13 - 14
13 Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd
en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie.
14 Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en
dié wat dit kry, is min.
Ons almal ken die twee paaie, maar
die breë pad wandel tog so lekker. Besef jy die impak van vers 14?
"En diè wat dit kry, is min". Dit impliseer mos dat minder
hemel toe sal gaan as diè wat verlore gaan. Ek en jy kan 'n verskil maak,
maar ons moet self op die regte pad wandel. Vat baie mense saam op daardie
pad.
Matt 7 : 15 - 20
15 Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere,
maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe.
16 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry 'n mens dan druiwe aan
doringstruike of vye aan dissels?
17 Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar 'n slegte boom dra slegte
vrugte.
18 'n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en 'n slegte boom nie
goeie vrugte nie.
19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur
gegooi.
20 So sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken.
Die vals profete is "alive and
well" vandag. Ons moet só versigtig wees na wat ons luister. Toets
alles, toets by ander mense, toets dit aan die Woord van God. Toets dit
aan die vrug wat hierdie persone dra! Wie is die vals profete? Dis nie
ateïste en sataniste nie!! Dis "ons" mense, of liewer, so dink
ons. Moenie net blindelings glo wat mense sê nie, selfs nie as hulle in
die Naam van die Here praat nie. Nee, toets dit.
Matt 7 : 21 - 23
21 Nie elkeen wat vir My sê: "Here, Here," sal in die
koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my
Vader wat in die hemel is.
22 Baie sal daardie dag vir My sê: "Here, Here, het ons dan nie in u
Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie
wonders gedoen nie?"
23 Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan
weg van My af, julle wat die wet van God oortree.
Nie elkeen wat vir My sê Here,
Here, nie. En dit sluit aan by die stukkie van die twee paaie in vers 13
en 14. "Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree!!"
Of jou saak met die Here is reg, of jou saak met die Here is nie reg nie.
'n Lewe volgens
Koninkryksbeginsels. Vars uit die Bybel, praktiese riglyne, logies,
netjies uiteengesit, sodat ek en jy presies kan weet hoe om te lewe. Tot
en met in die poorte van die hemel. Kom ons leef so, dis die moeite werd.
TERUG
NA LYS MET TEMAS
|